Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Iets van groter waarde as die skatte van Egipte

Iets van groter waarde as die skatte van Egipte

Iets van groter waarde as die skatte van Egipte

MOSES word onder die grootste figure in die geskiedenis gereken. Vier Bybelboeke—van Eksodus tot Deuteronomium—vertel byna uitsluitlik van God se handelinge met Israel onder Moses se leierskap. Hy het hulle uittog uit Egipte gereël, as middelaar van die Wetsverbond opgetree en Israel na die grens van die Beloofde Land gelei. Moses het in Farao se huis grootgeword, maar hy het later die aangestelde leier van God se volk geword, sowel as ’n profeet, regter en skrywer wat deur God geïnspireer is. Tog was hy “verreweg die sagmoedigste van al die mense”.—Numeri 12:3.

Die meeste besonderhede oor Moses in die Bybel het met die laaste 40 jaar van sy lewe te doen, wat strek van die tyd toe Israel uit slawerny bevry is tot Moses se dood toe hy 120 jaar oud was. Van 40- tot 80-jarige ouderdom was hy ’n herder in Midian. Maar volgens een bron is sy eerste 40 jaar, van sy geboorte af totdat hy uit Egipte gevlug het, “moontlik die interessantste deel van sy lewe, en tog die onbekendste”. Wat kan ons omtrent hierdie tydperk uitvind? Hoe het die omstandighede waaronder Moses grootgeword het, ’n uitwerking gehad op die soort mens wat hy geword het? Aan watter invloede is hy blootgestel? Voor watter uitdagings het hy te staan gekom? En wat kan ons uit dit alles leer?

Slawerny in Egipte

Die boek Eksodus vertel dat ’n farao bang geword het vir Israelitiese nedersetters in Egipte omdat hulle so vinnig vermeerder het. Hy het “op sluwe wyse” gehandel toe hy hulle getalle probeer verminder het deur hulle onderdrukkende slawearbeid onder die sweep van taakgewers te laat verrig—hulle moes laste dra, messelklei maak en elke dag die vasgestelde hoeveelheid stene lewer.—Eksodus 1:8-14; 5:6-18.

Geskiedkundige bewyse bevestig hierdie beskrywing van die Egipte waarin Moses gebore is. Papirusse van die ou tyd en minstens een graftekening beskryf hoe slawe in die tweede millennium v.G.J. of vroeër modderbakstene gemaak het. Amptenare wat daarvoor verantwoordelik was om stene te lewer, het honderde slawe georganiseer wat in spanne van 6 tot 18 onder ’n voorman of spanleier gegroepeer is. Steenklei moes uitgegrawe word en strooi moes na die steenmakery vervoer word. Werkers van verskillende nasionaliteite het water geskep en skoffels gebruik om dit met die klei en strooi te meng. Die een ry stene ná die ander is in reghoekige vorms gemaak. Arbeiders het dan jukvragte songedroogde stene na die bouterrein gedra, soms teen ’n skuinste op. Egiptiese opsigters, gewapen met knuppels, het gesit of stadig heen en weer geloop terwyl hulle oor die werk toesig gehou het.

’n Rekeningkundige verslag van die ou tyd meld 39 118 stene wat deur 602 arbeiders gemaak is, wat gemiddeld 65 stene per man per skof is. En ’n dokument uit die 13de eeu v.G.J. sê: “Die manne maak . . . elke dag hulle vasgestelde aantal stene.” Dit alles stem baie ooreen met die arbeid wat die Israeliete moes verrig, soos in die boek Eksodus beskryf word.

Onderdrukking het nie die Hebreeuse bevolking verminder nie. Inteendeel, “hoe meer [die Egiptenaars] hulle onderdruk het, hoe meer het hulle vermeerder . . . , sodat hulle ’n ontsettende vrees gevoel het as gevolg van die kinders van Israel” (Eksodus 1:10, 12). Daarom het Farao eers die Hebreeuse vroedvroue en toe sy hele volk beveel om elke pasgebore Israelitiese seuntjie dood te maak. Onder hierdie verskriklike omstandighede is ’n mooi babaseuntjie, Moses, vir Jogebed en Amram gebore.—Eksodus 1:15-22; 6:20; Handelinge 7:20.

Weggesteek, gevind en aangeneem

Moses se ouers het geweier om Farao se wrede bevel te gehoorsaam en het hulle seuntjie weggesteek. Het hulle dit gedoen ten spyte van spioene en inspekteurs wat op hulle rondtes na babas gesoek het? Ons kan nie seker wees nie. In alle geval, ná drie maande kon Moses se ouers hom nie langer wegsteek nie. Sy radelose moeder het dus ’n papirusmandjie gemaak, dit met pik bestryk om dit waterdig te maak en haar baba daarin neergelê. In sekere sin was Jogebed gehoorsaam aan die letter van Farao se bevel om alle pasgebore Hebreeuse seuntjies in die Nyl te gooi, al het sy nie volgens die gees daarvan opgetree nie. Mirjam, Moses se ouer suster, het daar naby gaan staan om ’n wakende oog oor hom te hou.—Eksodus 1:22–2:4.

Ons weet nie of Jogebed wou hê dat Farao se dogter Moses moes vind wanneer sy rivier toe kom om te bad nie, maar dit is wat gebeur het. Die prinses het besef dat dit ’n kind van die Hebreërs was. Wat sou sy doen? Sou sy, in gehoorsaamheid aan haar vader, beveel dat hy doodgemaak moet word? Nee, sy het gereageer soos die meeste vroue gewoonlik sou reageer. Sy het medelye getoon.

Mirjam was gou langs haar. ‘Sal ek ’n Hebreeuse vrou gaan roep om die kind vir u te soog?’ het sy gevra. Vir party is hierdie gedeelte baie ironies. Moses se suster vorm ’n teenstelling met Farao, wat saam met sy raadgewers planne beraam het om “op sluwe wyse” met die Hebreërs te handel. Moses se welsyn is natuurlik eers verseker toe die prinses tot sy suster se plan ingestem het. “Gaan!” het Farao se dogter geantwoord, en Mirjam het dadelik haar moeder gaan roep. In ’n merkwaardige reëling is Jogebed toe gehuur om haar eie kind met koninklike beskerming groot te maak.—Eksodus 2:5-9.

Die medelye van die prinses vorm beslis ’n teenstelling met die wreedheid van haar vader. Sy was nie onkundig of mislei oor die kind nie. Opregte medelye het haar beweeg om hom aan te neem, en die feit dat sy ingestem het tot die idee om ’n Hebreeuse soogvrou te hê, toon dat sy nie dieselfde vooroordele as haar vader gehad het nie.

Opvoeding en onderrigting

Jogebed het “die kind geneem en hom gesoog. En die kind het grootgeword. Toe het sy hom na Farao se dogter toe gebring, sodat hy vir haar ’n seun geword het” (Eksodus 2:9, 10). Die Bybel sê nie hoe lank Moses by sy ouers gewoon het nie. Party meen dat dit minstens was totdat hy gespeen is—twee of drie jaar—maar dit kon langer gewees het. Eksodus sê net dat hy by sy ouers “grootgeword” het, wat op enige ouderdom kan dui. Hoe dit ook al sy, Amram en Jogebed het ongetwyfeld die tyd benut om hulle seun van sy Hebreeuse afkoms bewus te maak en hom van Jehovah te leer. Net die tyd sou leer hoe goed hulle daarin geslaag het om geloof en liefde vir regverdigheid by Moses in te skerp.

Nadat Moses aan Farao se dogter teruggegee is, is hy “in al die wysheid van die Egiptenaars” onderrig (Handelinge 7:22). Dit het gedui op opleiding wat bedoel was om Moses vir ’n staatsamp geskik te maak. Die veelomvattende geleerdheid van Egipte het wiskunde, meetkunde, argitektuur, bouwerk en ander kunste en wetenskappe ingesluit. Die koninklike gesin sou waarskynlik wou hê dat hy in die Egiptiese godsdiens onderrig word.

Moses het sy bevoorregte onderrigting moontlik saam met ander kinders van koninklike afkoms ontvang. Onder dié wat by hierdie keuronderrigting baat gevind het, was “kinders van buitelandse heersers wat na Egipte gestuur is of as gyselaars daarheen geneem is om ‘opgevoed’ en dan teruggestuur te word om as ondergeskiktes te regeer”, getrou aan Farao (The Reign of Thutmose IV, deur Betsy M. Bryan). Bewaarskole wat aan koninklike paleise verbonde was, het jongmense blykbaar voorberei om as hofbeamptes te dien. a Inskripsies wat uit die tydperke van die Egiptiese Middelryk en Nuwe Ryk dateer, toon dat etlike van Farao se persoonlike dienaars en hooggeplaaste staatsamptenare selfs as volwassenes die eretitel “Kind van die Bewaarskool” behou het.

Lewe aan die hof sou vir Moses ’n toets wees. Dit het rykdom, weelde en mag gebied. Dit het ook sedelike gevare ingehou. Hoe sou Moses reageer? Aan wie sou hy lojaal wees? Was hy ’n heelhartige aanbidder van Jehovah, ’n broer van die onderdrukte Hebreërs, of wou hy liewer alles hê wat heidense Egipte kon bied?

’n Belangrike besluit

Op 40-jarige ouderdom, toe Moses reeds deur en deur ’n Egiptenaar kon gewees het, het hy ‘uitgegaan om te kyk na die las wat sy broers gedra het’. Wat hy daarna gedoen het, het getoon dat dit nie sommer net uit nuuskierigheid was nie; hy wou hulle baie graag help. Toe hy sien dat ’n Egiptenaar ’n Hebreër slaan, het hy tussenbeide getree en die onderdrukker doodgemaak. Dié daad het getoon dat Moses se hart met sy broers was. Die dooie man was waarskynlik ’n amptenaar, wat doodgemaak is terwyl hy sy pligte nagekom het. Uit die oogpunt van die Egiptenaars het Moses alle rede gehad om aan Farao lojaal te wees. Maar Moses is ook beweeg deur liefde vir geregtigheid, ’n eienskap wat verder geopenbaar is toe hy die volgende dag ’n Hebreër berispe het wat sy metgesel sonder rede geslaan het. Moses wou die Hebreërs van wrede slawerny bevry, maar toe Farao van sy ontrouheid uitvind en hom probeer doodmaak, moes Moses noodgedwonge na Midian vlug.—Eksodus 2:11-15; Handelinge 7:23-29. b

Moses se keuse van tyd om God se volk te bevry, het nie met Jehovah s’n ooreengekom nie. Maar sy dade het getoon dat hy geloof het. Hebreërs 11:24-26 sê: “Deur geloof het Moses, nadat hy grootgeword het, geweier om die seun van Farao se dogter genoem te word en verkies om liewer saam met die volk van God sleg behandel te word as om die tydelike genieting van sonde te hê.” Waarom? “Omdat hy die smaad van die Christus groter rykdom geag het as die skatte van Egipte; want hy het sy blik stip op die beloning gerig gehou.” Hierdie uitsonderlike gebruik van die uitdrukking “die Christus”, wat “gesalfde” beteken, pas by Moses in die sin dat hy later ’n spesiale opdrag regstreeks van Jehovah ontvang het.

Dink net! Moses het ’n opvoeding gehad wat net ’n Egiptiese edelman kon ontvang. Sy posisie het ’n uitstekende loopbaan en alle denkbare genietinge gebied, en tog het hy dit alles verwerp. Hy kon nie die lewe aan die hof van Farao, die onderdrukker, met liefde vir Jehovah en vir geregtigheid versoen nie. Omdat Moses kennis gehad het van God se beloftes aan sy voorvaders Abraham, Isak en Jakob en hy daaroor gepeins het, wou hy liewer God se guns geniet. Gevolglik kon Jehovah Moses in die mees bevoorregte rol gebruik om Sy voornemens te verwesenlik.

Ons almal kom te staan voor keuses oor watter dinge die belangrikste is. Soos Moses kom jy miskien voor ’n moeilike besluit te staan. Moet jy van sekere gebruike of skynbare voordele afsien, ongeag die opoffering? As jy voor hierdie keuse staan, moet jy onthou dat Moses Jehovah se vriendskap waardevoller geag het as al die skatte van Egipte, en hy was nie spyt daaroor nie.

[Voetnote]

a Hierdie onderrigting was dalk soortgelyk aan dié wat Daniël en sy metgeselle ontvang het om as staatsamptenare in Babilon te dien (Daniël 1:3-7). Vergelyk hoofstuk 3 van Gee ag op Daniël se profesie!, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

b Moses se ywer vir geregtigheid is verder getoon toe hy hulp verleen het aan hulpelose vroue wat vee opgepas het en sleg behandel is in Midian, waar hy ’n vlugteling was.—Eksodus 2:16, 17.

[Venster op bladsy 11]

Soogmoederkontrakte

Moeders het gewoonlik hulle eie babas gevoed. Maar die geleerde Brevard Childs sê in Journal of Biblical Literature dat “adellike gesinne [van die Nabye Ooste] in sekere gevalle ’n soogmoeder gehuur het. Hierdie gebruik was ook algemeen wanneer die moeder haar kind nie kon voed nie of wanneer die moeder onbekend was. Die soogmoeder het die verantwoordelikheid op haar geneem om die kind groot te maak sowel as om hom gedurende die vasgestelde tydperk te voed.” Etlike soogmoederkontrakte op papirus wat uit die Nabye Ooste se eertydse geskiedenis dateer, het behoue gebly. Hierdie dokumente getuig van ’n algemene gebruik in Egipte van die Sumeriese tydperk tot die laat Hellenistiese tydperk. Al hierdie dokumente bevat inligting oor wie die betrokkenes was, hoe lank die kontrak sou duur, diensvoorwaardes, besonderhede in verband met voeding, boetes vir kontrakbreuk, die loon en hoe die loon betaal sou word. Gewoonlik “het soging oor ’n tydperk van twee tot drie jaar gestrek”, verduidelik Childs. “Die soogmoeder het die kind in haar huis grootgemaak, maar daar is soms van haar verwag om die kind vir inspeksie na sy eienaar terug te neem.”

[Prente op bladsy 9]

Steenmakery in Egipte het sedert Moses se tyd min verander, soos ’n eertydse tekening toon

[Erkennings]

Bo: Pictorial Archive (Near Eastern History) Est.; onder: Erich Lessing/Art Resource, NY