Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HULP VIR DIE GESIN | OUERSKAP

Hoe jy jou kind deur die puberteitsjare kan help

Hoe jy jou kind deur die puberteitsjare kan help

DIE UITDAGING

Dit voel of jy net gister nog jou baba in jou arms vasgehou het. Nou is jou kind amper ’n tiener—nog steeds ’n kind, maar dalk binnekort op die stadium van ontwikkeling wat puberteit genoem word.

Hoe kan jy jou seun of dogter help om hierdie verwarrende en soms traumatiese oorgang tot seksuele volwassenheid te hanteer?

WAT JY MOET WEET

Puberteit volg sy eie tydrooster. Dit kan al op agtjarige ouderdom begin of eers in die middeltienerjare. “Die ouderdom waarop normale puberteit begin, kan van kind tot kind baie verskil”, sê die boek Letting Go With Love and Confidence.

Puberteit kan tot onsekerheid lei. Adolessente kan baie bewus wees van wat ander van hulle dink. “Ek het baie selfbewus geword oor hoe ek lyk en optree”, vertel ’n jong man met die naam Jared. * “Wanneer ek tussen ander mense was, het ek gewonder of hulle dink dat ek weird is.” Tieners se selfvertroue kan selfs ’n groter knou kry as hulle aknee kry. “My gesig het verskriklik gevoel en gelyk!” vertel die 17-jarige Kellie. “Ek onthou hoe ek gehuil het omdat ek so lelik gevoel het.”

Dit is veral moeilik vir dié wat vroeg ontwikkel. Dit is veral waar in die geval van meisies, wat dalk geterg word wanneer hulle borste of kurwes begin ontwikkel. “Daar bestaan ook die gevaar dat hulle die aandag sal trek van ouer seuns, wat dikwels meer seksuele ervaring het”, sê die boek A Parent’s Guide to the Teen Years.

Puberteit beteken nie volwassenheid nie. “Dwaasheid sit vas in die hart van ’n jongmens”, sê Spreuke 22:15, voetnoot in NW. Dit verander nie tydens puberteit nie. ’n Jong persoon lyk dalk volwasse, maar dit “beteken nie hy het die vermoë om intelligente besluite te neem, verantwoordelik op te tree, selfbeheersing aan die dag te lê of ander aspekte van volwassenheid [te openbaar] nie”, sê die boek You and Your Adolescent.

WAT JY KAN DOEN

Praat oor puberteit voor dit begin. Praat met jou kind oor wat om te verwag, veral wat menstruasie (vir meisies) en nagtelike storting (vir seuns) betref. Anders as die geleidelike veranderinge wat tydens puberteit plaasvind, gebeur hierdie dinge skielik en kan dit hom of haar verwar en selfs bang maak. Wees positief wanneer julle sulke dinge bespreek. Help jou kind om te verstaan dat puberteit voordelige veranderinge meebring wat tot volwassenheid lei.—Bybelbeginsel: Psalm 139:14.

Wees deeglik. “Toe my ouers ‘die praatjie’ met my gehad het, was hulle vaag”, vertel ’n jong man met die naam John. “Ek wens hulle was ’n bietjie meer reguit.” Alana, 17, voel ook so. “My ma het my gehelp om te verstaan wat fisies besig was om te gebeur”, vertel sy, “maar ek wens sy het my gehelp om dinge emosioneel beter te hanteer.” Wat is die les? Al voel jy hoe ongemaklik, moet jy alle aspekte van puberteit met jou kind bespreek.—Bybelbeginsel: Handelinge 20:20.

Vra vrae wat gesprekke aanmoedig. Om die ys te breek, kan jy praat oor ander se ondervindinge met puberteit. Jy kan jou dogter byvoorbeeld vra: “Het enige van jou klasmaats al gesê dat hulle hulle maandstonde begin kry het?” “Terg die kinders meisies wat vroeg begin ontwikkel het?” Jy kan jou seun vra: “Spot die kinders dié wat fisies stadiger ontwikkel?” Wanneer adolessente begin praat oor hoe puberteit ander raak, sal hulle dalk makliker oor hulle eie gevoelens en ondervindinge gesels. Wanneer hulle dit doen, moet jy die Bybel se raad volg: ‘Wees gou om te hoor, stadig om te praat.’—Jakobus 1:19.

Help jou adolessent om “praktiese wysheid en denkvermoë” te ontwikkel (Spreuke 3:21). Puberteit behels nie net fisiese en emosionele veranderinge nie. Tydens hierdie fase ontwikkel jou adolessent ook redeneervermoë, wat hom of haar sal help om goeie besluite te neem wanneer hulle volwasse is. Gebruik hierdie geleentheid om goeie waardes by jou adolessent in te skerp.—Bybelbeginsel: Hebreërs 5:14.

Moenie tou opgooi nie. Dikwels lyk dit asof jongmense nie met hulle ouers oor puberteit wil gesels nie, maar moet jou nie misgis nie. “Die adolessent wat maak asof hy nie belangstel nie, verveeld is, stokdoof is of die onderwerp afstootlik vind, memoriseer dalk elke woord”, sê die boek You and Your Adolescent.

^ par. 8 Van die name in hierdie artikel is verander.