Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Vars lug en sonskyn—Natuurlike “antibiotika”?

Vars lug en sonskyn—Natuurlike “antibiotika”?

TOE wetenskaplikes in die middel van die 20ste eeu vir die eerste keer chemiese antibiotika uitgevind het, het dokters gehoop dat hierdie nuwe geneesmiddel sekere siektes sou uitwis. Aan die begin het dit gelyk asof antibiotika aan die verwagtinge voldoen. Maar sedertdien het die wydverspreide gebruik daarvan veroorsaak dat bakterieë ontwikkel het wat teen antibiotika bestand is.

Om nuwe maniere te vind om infeksie te bestry, het party wetenskaplikes opnuut gekyk na metodes van siektebeheer wat in die verlede gebruik is. Een metode behels om die gesondheidsvoordele van sonskyn en vars lug te benut.

’n Les uit die verlede

In Engeland was daar ’n hele paar voorstanders van die genesende waarde van sonskyn en vars lug. Die dokter John Lettsom (1744-1815) het seelug en sonskyn voorgeskryf vir kinders wat aan tuberkulose (TB) ly. In 1840 het die chirurg George Bodington opgemerk dat diegene wat in die buitelug werk—boere, plaaswerkers, herders—oor die algemeen nie TB kry nie, terwyl diegene wat baie tyd binnenshuis deurbring, blykbaar meer vatbaar daarvoor is.

Florence Nightingale (1820-1910) het bekend geword vir die nuwe verpleegmetodes wat sy gebruik het terwyl sy Britse soldate versorg het wat gedurende die Krimoorlog beseer is. Sy het gevra: “Vind jy ooit, as jy in iemand se slaapkamer ingaan, . . . in die nag of voordat die vensters in die oggend oopgemaak word, dat die lug bedompig is en baie onaangenaam ruik?” Sy het aanbeveel dat die lug in ’n pasiënt se kamer so vars soos die buitelug gehou moet word, maar sonder om die pasiënt koud te laat kry. Sy het bygevoeg: “Ná al my ondervinding met siek mense kan ek sonder enige twyfel sê dat hulle grootste behoefte naas vars lug, lig is . . . En hulle het nie net lig nodig nie, maar direkte sonlig.” Destyds het baie mense ook geglo dat dit beter gesondheid bevorder om beddegoed en klere in die son te hang.

Sedert die 1800’s is daar natuurlik in die wetenskap vooruitgang gemaak, en tog het onlangse studies ’n soortgelyke slotsom bereik. In ’n studie wat in 2011 in China gedoen is, is daar byvoorbeeld bevind dat universiteitskoshuise wat oorvol is en waarin daar te min vars lug is, “met meer infeksies van die lugweë verband hou”.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) erken dat natuurlike ventilasie, wat behels dat lug van buite deur ’n gebou vloei, belangrik is vir infeksiebeheer. Trouens, riglyne van die WGO wat in 2009 gepubliseer is, beveel sulke natuurlike ventilasie aan as ’n doeltreffende maatreël om die risiko van infeksies by gesondheidsorgfasiliteite te verminder. *

‘Dis alles goed en wel’, sê jy miskien. ‘Maar kan dit wetenskaplik bewys word? Hoe voorkom sonskyn en vars lug infeksies?’

Die natuur se ontsmettingsmiddels

Studies wat by een van die fasiliteite van die Verenigde Koninkryk se Departement van Verdediging gedoen is, voorsien ’n paar antwoorde. Wetenskaplikes wou bepaal hoe lank die lug gevaarlik sou bly as ’n biologiese wapen met skadelike bakterieë oor Londen sou ontplof. Om die lewensvatbaarheid van lugverspreide kieme vas te stel, het navorsers E. coli-mikro-organismes op spinnekopsy gesit en dit aan die buitelug blootgestel. Die eksperiment is in die nag gedoen omdat hulle geweet het dat sonlig hierdie bakterieë doodmaak. Wat was die resultate?

Omtrent twee uur later was byna al die bakterieë dood. Maar toe die bakterieë op dieselfde plek en teen dieselfde temperatuur en vogtigheid in ’n toe boks gehou is, het die meeste daarvan twee uur later nog gelewe. Waarom? Dit is duidelik dat iets in die buitelug kieme doodmaak. Daar is nog nie geïdentifiseer wat dit is nie, maar navorsers meen dat dit ’n samestelling is wat natuurlik in die buitelug voorkom en wat “as ’n natuurlike ontsmettingsmiddel teen patogene of kieme in die atmosfeer optree”.

Sonlig tree ook as ’n natuurlike ontsmettingsmiddel op. Die Journal of Hospital Infection verduidelik dat “die meeste kieme wat lugverspreide infeksies veroorsaak, nie in sonlig aan die lewe kan bly nie”.

Hoe kan jy hierby baat vind? Jy kan ’n bietjie tyd in die buitelug deurbring om die sonskyn te geniet en die vars lug in te asem. Dit sal jou waarskynlik goed doen.

^ par. 8 Sekere faktore maak dit dalk onwenslik om vensters oop te laat. Dit sluit die gehalte van die buitelug, geraas, brandweerregulasies en veiligheid in.