Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE BYBEL SE BESKOUING

Dobbelary

Dobbelary

Party mense beskou dobbelary as ’n onskuldige tydverdryf, terwyl ander dit as ’n gevaarlike euwel beskou.

Is dit verkeerd om te dobbel?

WAT MENSE SÊ

Baie mense beskou dobbelary as onskadelike pret, solank dit wettig is. Party vorme van wettige dobbelary, soos staatsgeborgde loterye, voorsien ’n inkomste aan programme wat die publiek bevoordeel.

WAT DIE BYBEL SÊ

Die Bybel maak nie spesifiek van dobbelary melding nie. Maar dit gee ’n paar beginsels wat toon hoe God daaroor voel.

Die basiese idee agter dobbelary—om geld te wen ten koste van ander—is in stryd met die Bybel se waarskuwing om te “waak teen elke soort hebsug”, of gierigheid (Lukas 12:15). Trouens, gierigheid is een van die vernaamste redes waarom mense dobbel. Dobbelplekke adverteer groot boerpotte, maar is oneerlik oor hoe gering die kanse is om te wen, want hulle weet dat drome van rykdom spelers beweeg om baie geld by casino’s te wed. Dobbelary help ’n persoon nie om teen gierigheid te waak nie, maar bevorder eerder die begeerte om maklik geld te maak.

Dobbelary is gegrond op ’n selfsugtige doelwit: om geld te wen wat ander spelers verloor het. Maar die Bybel spoor ’n persoon aan “om, nie sy eie voordeel nie, maar dié van die ander persoon te soek” (1 Korintiërs 10:24). En een van die Tien Gebooie is: “Jy mag nie . . . enigiets [begeer] wat aan jou medemens behoort nie” (Eksodus 20:17). Wanneer ’n dobbelaar vasbeslote is om te wen, hoop hy in werklikheid dat ander hulle geld sal verloor sodat hy dit kan wen.

Die Bybel waarsku ons ook om die geluk nie as ’n bonatuurlike krag te beskou wat seëninge kan meebring nie. In eertydse Israel het party ’n gebrek aan geloof in God gehad, en daarom het hulle “’n tafel vir die Geluksgod [begin] dek”. Was hierdie aanbidding van “die Geluksgod” vir God aanvaarbaar? Nee, hy het vir hulle gesê: “Julle het bly doen wat sleg was in my oë en gekies wat my glad nie behaag het nie.”—Jesaja 65:11, 12.

In party dele van die wêreld word vondse wat van wettige dobbelary verkry is, wel vir opvoeding, ekonomiese ontwikkeling en ander openbare programme gebruik. Maar die gebruik van hierdie vondse verander nie hoe dit verkry is nie—deur middel van bedrywighede wat gierigheid en selfsug bevorder, asook die idee dat ’n mens iets vir niks kan kry.

“Jy mag nie . . . enigiets [begeer] wat aan jou medemens behoort nie.”Eksodus 20:17.

Watter negatiewe uitwerking kan dobbelary op ’n dobbelaar hê?

WAT DIE BYBEL SÊ

Die Bybel waarsku: “Dié wat . . . vasbeslote is om ryk te wees, val in versoeking en ’n strik en talle sinnelose en skadelike begeertes, wat mense in vernietiging en verderf stort” (1 Timoteus 6:9). Dobbelary is gegrond op gierigheid, en gierigheid, oftewel “hebsug”, is so vernietigend dat die Bybel dit noem onder gedrag wat heeltemal vermy moet word.—Efesiërs 5:3.

Aangesien die doel van dobbelary is om vinnig ryk te word, kweek dit ’n liefde vir geld—iets wat die Bybel “’n wortel van allerhande skadelike dinge” noem. Die begeerte na geld kan maklik ’n oorheersende invloed in ’n persoon se lewe word, wat hom baie angstig kan laat voel en sy geloof in God skade kan laat lei. Die Bybel beskryf diegene wat deur die liefde vir geld verstrik is in figuurlike sin as mense wat “hulleself oral met baie pyne deurboor” het.—1 Timoteus 6:10.

Gierigheid veroorsaak onvergenoegdheid, wat mense ontevrede laat voel oor hulle finansiële status en hulle van hulle geluk beroof. “Iemand wat silwer liefhet, sal nie genoeg kry van silwer nie, ook nie iemand wat rykdom liefhet, van inkomste nie.”—Prediker 5:10.

Miljoene wat verlok is om te dobbel, het verstrik geraak in ’n verwoestende dobbelverslawing. Die probleem is wydverspreid—volgens skatting is daar miljoene dobbelverslaafdes in die Verenigde State alleen.

Daar is ’n spreuk wat sê: “’n Erfenis word aanvanklik deur gierigheid verkry, maar die toekoms daarvan sal nie geseënd wees nie” (Spreuke 20:21). Probleemdobbelary lei daartoe dat verslaafdes in die skuld beland of selfs bankrot speel en het baie van hulle hulle werk, huwelik en vriendskappe gekos. As ’n persoon die Bybel se beginsels toepas, kan dit hom help om die negatiewe uitwerking te vermy wat dobbelary op sy lewe en geluk kan hê.

“Dié wat . . . vasbeslote is om ryk te wees, val in versoeking en ’n strik en talle sinnelose en skadelike begeertes, wat mense in vernietiging en verderf stort.”1 Timoteus 6:9.