Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jongmense vra

Wat is ’n ware man?

Wat is ’n ware man?

“My pa is oorlede toe ek drie jaar oud was. Soms voel ek jaloers op seuns wat grootgeword het met ’n pa in hulle lewe. Dis asof hulle baie meer selfvertroue het as ek.”—Alex. *

“Ek het nie juis ’n verhouding met my pa nie. Ek moes self leer wat dit beteken om ’n ware man te wees.”—Jonathan.

KAN jy jou vereenselwig met die jong mans wat hierbo aangehaal word? Is jy om die een of ander rede bang dat jy nooit sal leer wat dit beteken om ’n ware man te wees nie? Indien wel, moenie moed verloor nie!

Kyk hoe jy twee algemene uitdagings die hoof kan bied.

UITDAGING 1: Verkeerde idees oor manlikheid

Wat party mense sê:

  • Ware mans is taai; hulle huil nie.

  • Ware mans laat niemand vir hulle sê wat hulle moet doen nie.

  • Mans is beter as vroue.

’n Ander beskouing: ’n Man is die teenoorgestelde van ’n seun—nie die teenoorgestelde van ’n vrou nie. Jy word ’n ware man wanneer jy die eienskappe van ’n kind aflê. Die Christenapostel Paulus het geskryf: “Toe ek ’n klein kindjie was, het ek soos ’n klein kindjie gepraat, soos ’n klein kindjie gedink, soos ’n klein kindjie geredeneer; maar noudat ek ’n man geword het, het ek die eienskappe van ’n klein kindjie afgelê” (1 Korintiërs 13:11). Met ander woorde, hoe meer jy kinderlike denke, spraak en gedrag met volwasse denke, spraak en gedrag vervang, hoe duideliker sal dit word dat jy ’n ware man is. *

Probeer die volgende: Skryf jou antwoorde op die volgende vrae op ’n stuk papier neer:

  1. Op watter gebiede het ek reeds vordering daarin gemaak om “die eienskappe van ’n klein kindjie” af te lê?

  2. Op watter gebiede kan ek verbeter?

Voorgestelde leesgedeelte: Lukas 7:36-50. Kyk hoe Jesus getoon het dat hy ’n ware man is deur (1) sy standpunt in te neem vir wat reg is en (2) ander mense—insluitende vroue—met respek te behandel.

“Ek bewonder my vriend, Ken. Hy is ’n sterk man—fisies, emosioneel en geestelik—maar hy is ook liefdevol. Uit sy voorbeeld het ek geleer dat ’n ware man nie ander verkleineer net om homself goed te laat lyk nie.”—Jonathan.

UITDAGING 2: Geen voorbeeldige vaderfiguur nie

Wat party mense sê:

  • As jou pa nie deel is van jou lewe nie, sal jy nooit regtig leer wat dit beteken om ’n man te wees nie.

  • As jou pa ’n slegte voorbeeld gestel het, sal jy dieselfde foute maak as hy.

’n Ander beskouing: Selfs as jou kinderjare nie juis ideaal was nie, is jy nie tot mislukking gedoem nie! Jy kan bo jou omstandighede uitstyg (2 Korintiërs 10:4). Jy kan kies om koning Dawid se raad aan sy seun Salomo te volg: “Jy moet sterk wees en wys dat jy ’n man is.”—1 Konings 2:2.

Toegegee, dit kan moeilik wees om groot te word met ’n pa wat nie omgee nie—of heeltemal sonder ’n pa. “As jy nie jou pa ken nie, het jy ’n groot agterstand in die lewe”, sê Alex, wat aan die begin aangehaal is. “Ek is 25, maar dit voel asof ek nou eers dinge leer wat ek al in my vroeë tienerjare moes geleer het.” Wat kan jy doen as jy soos Alex voel?

Probeer die volgende: Kry ’n mentor—iemand wat ’n goeie voorbeeld stel as ’n man. * Vra hom watter eienskappe hy meen ’n ware man beslis moet hê. Vra hom dan hoe jy hierdie eienskappe kan aankweek.—Spreuke 1:5.

Voorgestelde leesgedeelte: Spreuke hoofstukke 1-9. Let op die vaderlike raad wat ’n seun kan help om ’n wyse, geestelike man te word.

“Ek is trots op die soort man wat ek word. Hoewel ek wens dat my pa my hiermee kon help, voel ek optimisties oor die toekoms. Ek is daarvan oortuig dat ek nie tot mislukking gedoem is nie.”—Jonathan.

 

^ par. 3 Van die name in hierdie artikel is verander.

^ par. 24 Ouer manne in die Christengemeente kan goeie mentors wees.

VRA JOU OUERS

Hoe sal julle ’n ware man beskryf? Hoe vaar ek wat volwassenheid betref?