Spring na inhoud

 Jongmense vra

Wie is ek?

Wie is ek?

Michael sien dat Werner na hom toe aangestap kom, en hy ys vir wat nou gaan gebeur. “Haai, Mikey, jy moet dié goed probeer!” sê Werner. Werner maak sy hand oop, en Michael sien presies wat hy verwag het—’n daggasigaret. Hy wil dit nie vat nie, maar hy wil ook nie soos ’n sissie lyk nie. “Jong”, sê Michael floutjies, “dalk ’n ander keer. . . . Oukei?”

Jessica sien dat Werner na haar toe aangestap kom, en sy is gereed vir wat gaan gebeur. “Haai, Jess, jy moet dié goed probeer!” sê Werner. Werner maak sy hand oop, en Jessica sien presies wat sy verwag het—’n daggasigaret. “Nee dankie”, sê Jessica met selfvertroue. “Ek het toekomsplanne waarvoor ek my longe gaan nodig hê. En buitendien, Werner, . . . ek het gedink jy is te slim om te rook!”

IN DIE bogenoemde scenario’s het Jessica die druk beter weerstaan as Michael. Waarom? Omdat sy iets het wat Michael nie het nie. Weet jy wat dit is? ’n Identiteit. Nee, nie ’n kaartjie met ’n naam en ’n foto daarop nie. ’n Identiteit is ’n innerlike bewustheid wat vir jou sê wie jy is en wat jou waardes is. Hierdie kennis gee jou die vermoë om nee te sê vir moeilikheid—om jou lewe eerder self te beheer as om toe te laat dat ander dit beheer. Hoe kan jy sulke selfvertroue aankweek? Jy kan begin deur die volgende vrae te beantwoord.

1 WAT IS MY STERK PUNTE?

Waarom dit saak maak: As jy weet watter vermoëns en goeie eienskappe jy het, sal dit jou selfvertroue ’n hupstoot gee.

Dink hieraan: Almal het verskillende gawes. Party mense het byvoorbeeld ’n kuns- of musiektalent, terwyl ander weer goed is in atletiek. Raquel het ’n natuurlike aanleg om motors reg te maak. * “Toe ek omtrent 15 was”, sê sy, “het ek besef dat ek ’n werktuigkundige wil wees.”

Bybelvoorbeeld: Die apostel Paulus het geskryf: “Selfs al is ek onbedrewe in spraak, is ek beslis nie in kennis nie” (2 Korintiërs 11:6). Omdat Paulus die Skrif baie goed verstaan het, kon hy standvastig bly toe ander hom uitgedaag het. Hy het nie toegelaat dat hulle negatiewe gesindheid sy selfvertroue ondermyn nie.—2 Korintiërs 10:10; 11:5.

Ondersoek jouself. Skryf hieronder ’n talent of vaardigheid neer wat jy besit.

․․․․․

 Skryf nou ’n goeie eienskap neer wat jy besit. (Byvoorbeeld, is jy liefdevol? vrygewig? betroubaar? stiptelik?)

․․․․․

“Ek probeer om daar te wees vir mense. As ek besig is en iemand met my wil praat, hou ek op met wat ek doen en luister ek na hom of haar.”—Brianne.

As dit vir jou moeilik is om aan ’n goeie eienskap te dink, kan jy dink aan een opsig waarin jy volwassener geword het sedert jou kinderjare en dit hieronder neerskryf.—Vir voorbeelde, sien die venster  “Wat jou portuurs sê”.

․․․․․

2 WAT IS MY SWAK PUNTE?

Waarom dit saak maak: ’n Ketting is net so sterk soos sy swakste skakel. Net so kan jou identiteit gou verswak as jy toelaat dat jou tekortkominge die oorhand oor jou kry.

Dink hieraan: Niemand is volmaak nie (Romeine 3:23). Almal het die een of ander eienskap wat hulle graag sal wil verander. “Waarom laat ek toe dat die kleinste dingetjies my ontstel?” vra ’n meisie met die naam Seija. “Iets kleins ontstel my, en skielik het ek nie beheer oor my emosies nie!”

Bybelvoorbeeld: Paulus was bewus van sy swak punte. Hy het geskryf: “Ek skep werklik behae in die wet van God na die mens wat ek innerlik is, maar ek sien in my lede ’n ander wet, wat stryd voer teen die wet van my verstand en my wegvoer as gevangene van die wet van die sonde.”—Romeine 7:22, 23.

Ondersoek jouself. Watter swakheid moet jy onder beheer probeer hou?

․․․․․

“Ek het opgelet dat romantiese rolprente my ’n bietjie hartseer laat voel en my laat wens dat daar iemand is op wie ek verlief kan raak. Nou weet ek dat ek versigtig moet wees vir hierdie soort vermaak.”—Bridget.

3 WAT IS MY DOELWITTE?

Waarom dit saak maak: Wanneer jy doelwitte het, is jou lewe doelgerig en sinvol. Dit is ook meer waarskynlik dat jy mense en situasies sal vermy wat jou kan verhinder om die dinge te doen wat jy jou voorgeneem het.

Dink hieraan: Sal jy in ’n taxi klim en vir die bestuurder sê om heeltyd om die blok te ry totdat sy brandstof klaar is? Dit sal baie dom wees—en baie geld kos! Doelwitte keer dat jy doelloos deur die lewe gaan. Jy weet waarheen jy op pad is en hoe om daar te kom.

Bybelvoorbeeld: Paulus het geskryf: “Die manier waarop ek hardloop, [is] nie onseker nie” (1 Korintiërs 9:26). Paulus het nie doelloos deur die lewe gegaan en net gewag dat dinge gebeur nie; hy het eerder doelwitte gestel en dan daarvolgens gelewe.—Filippense 3:12-14.

 Ondersoek jouself. Skryf hieronder drie doelwitte neer wat jy binne die volgende jaar wil bereik.

  1. ․․․․․

  2. ․․․․․

  3. ․․․․․

Kies nou die doelwit hierbo wat vir jou die belangrikste is, en skryf neer wat jy nou al kan doen om jou te help om hierdie doelwit te bereik.

․․․․․

“As ek nie besig bly nie, vind ek dat ek net doelloos deur die lewe gaan. Dit is beter om doelwitte te hê en dit te probeer bereik.”—José.

4 WAT IS MY OORTUIGINGS?

Waarom dit saak maak: Sonder oortuigings sal jy besluiteloos wees. Soos ’n verkleurmannetjie sal jy van kleur verander om by jou portuurs in te pas—’n besliste teken dat jy nie jou eie identiteit het nie.

Dink hieraan: Die Bybel spoor Christene aan om “seker [te] maak wat die goeie en aanneemlike en volmaakte wil van God is” (Romeine 12:2). Wanneer jy in ooreenstemming met jou oortuigings optree—ongeag wat ander doen—bly jy getrou aan jouself.

Bybelvoorbeeld: Toe die profeet Daniël ’n tiener was, het hy “in sy hart besluit” dat hy God se wette sou onderhou, al was hy ver van sy familie en mede-aanbidders af (Daniël 1:8). Sodoende het hy getrou gebly aan homself. Daniël het in ooreenstemming met sy oortuigings gelewe.

Ondersoek jouself. Wat is jou oortuigings? Byvoorbeeld:

  • Glo jy aan God? Indien wel, waarom? Wat oortuig jou daarvan dat hy bestaan?

  • Glo jy dat God se sedelike standaarde tot jou voordeel is? Indien wel, waarom? Wat oortuig jou byvoorbeeld daarvan dat gehoorsaamheid aan God se wette oor seks jou gelukkiger sal maak as jou portuurs se “vrye” lewenstyl?

Dit is nie vrae wat ’n mens vinnig moet beantwoord nie. Neem tyd om na te dink oor die redes vir jou oortuigings. Dan sal jy in ’n beter posisie wees om dit te verdedig.—Spreuke 14:15; 1 Petrus 3:15.

“Op skool buit kinders ’n gebrek aan selfvertroue uit, en ek wou nie bang wees om oor my geloof te praat nie. Daarom het ek seker gemaak dat ek duidelike, grondige redes vir my oortuigings vind. Pleks van vir mense te sê: ‘Ek kan dit nie doen nie, want dis teen my godsdiens’, het ek eerder gesê: ‘Ek dink nie dis reg nie.’ Dit was my oortuigings.”—Danielle.

Ten slotte, wat sal jy verkies—om soos ’n blaar te wees wat deur elke ligte windjie rondgewaai word of soos ’n boom wat selfs kragtige storms weerstaan? Versterk jou identiteit, en jy sal soos daardie boom wees. En dit sal jou help om die vraag Wie is ek? te beantwoord.

As jy ’n sterk identiteit het, is jy soos ’n sterkgewortelde boom wat kragtige storms kan weerstaan

^ par. 8 Van die name in hierdie artikel is verander.