Spring na inhoud

 Jongmense vra

Wie is my ware vriende?

Wie is my ware vriende?

“Ek het al soveel by Cori geleer. Wanneer ek saam met haar is, ontmoet ek nuwe mense, probeer ek nuwe dinge en geniet ek elke oomblik. Cori se vriendskap het werklik my lewe verander!”—Tara. *

Klink hierdie soort vriendskap te goed om waar te wees? Indien wel, moenie mismoedig voel nie. Daar is potensiële vriende oral om jou. Hierdie artikel sal jou help om uit te vind wie hulle is.

‘EK IS omring deur vriende, maar ek het geen vriende nie.’ Dit is wat die 21-jarige Shayna sê oor hoe dit voel om baie mense om jou te hê, maar nie juis na aan enige van hulle te voel nie. Hierdie gevoel kan veral onder dié wat ’n sosiale netwerk gebruik, algemeen wees. “Jy het miskien ’n lang ‘vriendelys’, en dit lyk asof jy gewild en wonderlik is”, sê die 22-jarige Serena, “maar in werklikheid kan daardie lys vol betekenislose kontakte wees.” *

Wat sal jy verkies—honderde kontakte of ’n paar ware vriende? Hoewel albei voordele inhou, kan ’n ware vriend jou help om uitdagings te oorkom en jou selfs aanspoor om ’n beter mens te wees (1 Korintiërs 16:17, 18). Gebruik die volgende maatstawwe om jou te help om te bepaal wie van jou kennisse moontlik alreeds die eienskappe van ’n ware vriend openbaar.

’N WARE VRIEND IS BETROUBAAR

“My vriendin het vir my haar geheime vertel, en daarom het ek gedink dat ek haar met myne kan vertrou. Eendag het ek vir haar gesê dat ek mal is oor ’n sekere ou. Sjoe, dit was ’n fout! Sy het ander onmiddellik daarvan vertel!”—Beverly.

“Ek kan vir my vriend Alan enigiets vertel, en ek weet hy sal dit nie oorvertel nie.”—Calvin.

Watter een van die bogenoemde jongmense het ’n ware vriend gehad? Watter van jou vriende dink jy kan jy in jou vertroue neem? * Die Bybel sê: “’n Ware metgesel het te alle tye lief.”—Spreuke 17:17.

 Skryf hieronder die name neer van twee vriende wat jy weet betroubaar is.

  1. ․․․․․

  2. ․․․․․

’N WARE VRIEND IS SELFOPOFFEREND

“In enige vriendskap is daar tye dat die een persoon sterker is as die ander. ’n Ware vriend besef wanneer jy die swakker een is en doen dan iets om jou te help. Daardie vriend het natuurlik die vertroue dat jy dit ook sal doen as hy of sy hulp nodig het.”—Kellie.

“Toe my ma oorlede is, het ek ’n nuwe vriendin gehad. Ons was nog nie hegte vriendinne nie, maar ons het beplan om saam na ’n troue te gaan. Ongelukkig was my ma se gedenkdiens toe op dieselfde dag as die troue. Ek was verbaas toe my vriendin na die gedenkdiens gekom het eerder as om na die troue te gaan. Op daardie oomblik het ek geweet dat sy ’n ware vriendin is!”—Lena.

Watter van jou vriende openbaar ’n selfopofferende gees? ’n Ware vriend sal “aanhou om, nie sy eie voordeel nie, maar dié van die ander persoon te soek”.—1 Korintiërs 10:24.

Skryf hieronder die name neer van twee vriende wat getoon het dat hulle selfopofferend is.

  1. ․․․․․

  2. ․․․․․

’N WARE VRIEND HELP JOU OM ’N BETER MENS TE WORD

“Party mense verwag dat ek aan hulle lojaal moet wees of met hulle moet saamstem, selfs as dit beteken dat ek my waardes moet prysgee of iets moet doen wat my gewete sal pla. Sulke mense is nie ware vriende nie.”—Nadeine.

“My suster is my beste vriendin. Sy spoor my aan om uit my gemaksone te kom en help my om meer uitgaande te wees. Sy vertel vir my die waarheid, al is dit nie wat ek wil hoor nie.”—Amy.

“Toe ek eenkeer deur ’n moeilike tyd gegaan het, was my beste vriende nie dié wat my opgepiep het nie, maar dié wat vir my reguit raad gegee het. Die ander het óf gewag dat ek die probleem self oplos óf my aandag daarvan probeer aflei. Hulle het nie erken dat iets fout is nie.”—Miki.

“My vriendin is die persoon wat meer as enigiemand anders potensiaal in my sien, en sy spoor my aan om my doelwitte te bereik. Sy is doodeerlik met my wanneer sy moet wees—en ek hou daarvan!”—Elaine.

Help jou vriende jou om jou potensiaal te bereik, of moet jy jou standaarde verlaag om by hulle in te pas? Spreuke 13:20 sê: “Hy wat met wyses wandel, sal wys word, maar hy wat hom met die sotte inlaat, met hom sal dit sleg gaan.”

Skryf hieronder die name neer van twee vriende wat jou gehelp het om ’n beter mens te word.

  1. ․․․․․

  2. ․․․․․

Kyk na die name wat jy in die drie dele hierbo neergeskryf het. As een persoon se naam in al drie dele voorkom, is dit ’n ware vriend!  Maar as jy nie kon dink aan enigiemand wat aan die bogenoemde vereistes voldoen nie, moet jy nie mismoedig voel nie. Daar is heel moontlik oral om jou persone wat jou ware vriende kan word. Dit sal dalk net ’n bietjie langer neem om hulle te vind. * Intussen kan jy jou bes doen om self ’n goeie vriend te wees. “Ek probeer altyd om my vriende te ondersteun”, sê die 20-jarige Elena. “Wanneer hulle hulp met iets nodig het, bied ek aan om te help. Wanneer hulle wil praat, luister ek. Wanneer hulle hartseer is, gee ek hulle ’n skouer om op te huil.”

Jy is dalk bevriend met baie mense, en dít is beter as om deel van ’n kliek te wees (2 Korintiërs 6:13). Maar sal jy nie ook ’n paar ware vriende wil hê wat “gebore [is] vir die tyd wanneer daar benoudheid is” nie? (Spreuke 17:17). “Dit is goed om baie mense te ken”, sê die 20-jarige Jean, “maar dit is soos om ’n kas vol klere te hê wat mooi op die hangers lyk, maar wat nie alles pas nie. Jy maak altyd staat op die paar kledingstukke waarin jy gemaklik voel. En dit is dieselfde met hegte vriende.”

^ par. 3 Van die name in hierdie artikel is verander.

^ par. 5 Vir meer inligting oor sosiale netwerke, sien die “Jongmense vra”-artikels in die Ontwaak! van Julie en Augustus 2011.

^ par. 10 Soms is dit nie verstandig om iets geheim te hou nie—soos as ’n vriend ’n ernstige sonde gepleeg het, aan selfmoord dink of die een of ander soort selfvernietigende gedrag openbaar. Vir meer inligting, sien die Ontwaak! van Desember 2008, bladsye 19-21, en Mei 2008, bladsye 26-29.

^ par. 30 Vir meer inligting, sien die artikel “Jongmense vra . . . Het ek beter vriende nodig?” in die Ontwaak! van Maart 2009.