Spring na inhoud

Die Bybel se beskouing

Waarom jy moet waak teen spiritisme

Waarom jy moet waak teen spiritisme

In werklikheid gebruik demone spiritisme soos vissermanne lokmiddels gebruik

IN ’N Asiatiese land gaan ’n skare te kere gedurende ’n fees wat geeste vereer. Die feesvieringe bereik ’n hoogtepunt wanneer twee vroue gekies word vir ’n seremonie waarin hulle onder die mag van geeste kom. Die vrouens se oë dop om, en dan begin hulle ruk asof hulle geskok word.

In Puerto Rico hou ’n medium (santero) ’n séance om ’n gees genaamd Changó, die god van donderweer, op te roep. Die medium beskryf visioene, en almal in die kamer begin ruk asof hulle besete is.

In baie lande is dit iets algemeens om by die okkulte betrokke te wees. Geloof in die bonatuurlike word gewilder, en al hoe meer mense stel daarin belang. Boeke, speletjies, televisieprogramme en rolprente waarin demone, heksery en paranormale verskynsels voorkom, is algemener as ooit tevore.

Die Bybel leer egter dat betrokkenheid by enige vorm van die okkulte eintlik spiritisme is. Spiritisme is nie onskuldige of onskadelike pret nie. Dit is nie bloot ’n verkenning van die onbekende nie. Dit is kontak met demone, bose engele wat teen God in opstand gekom het.—Openbaring 12:9, 12.

In werklikheid gebruik demone spiritisme soos vissermanne ’n lokmiddel gebruik. ’n Visserman gebruik ’n verskeidenheid soorte lokmiddels om verskillende soorte vis te vang. Net so gebruik bose geeste verskillende vorme van spiritisme om allerhande soorte mense onder hulle invloed te bring. Die leier van die demone word “die god van hierdie [bose] stelsel van dinge” genoem. Hy slaag daarin om die verstande van ongelowiges te verblind, sodat hulle nie die waarheid van God se Woord en sy voornemens kan onderskei nie.—2 Korintiërs 4:4.

Waartoe spiritisme lei

Bose geesskepsele het eenvoudig hierdie doel voor oë: Hulle wil ons aandag aftrek en ons mislei sodat ons nie ’n persoonlike verhouding met ons Skepper opbou nie. Hulle beïnvloed mense om, wetend of onwetend, ongehoorsaam te wees aan God se regverdige vereistes. Spiritisme lei dus tot God se onguns, tot wanhoop en uiteindelik tot vernietiging.—Openbaring 21:8.

Luis, wat van Puerto Rico af kom, sê: “Vandat ek ’n kind was, was ons gesin by spiritisme betrokke. Dit was deel van ons gesin se godsdiens en lewenswyse. Ek het gedink dat my vermoë om die toekoms te voorspel en tarotkaarte te lees, natuurlik is. Ek kon dikwels loterynommers kies en ander help om geld te wen. Hierdie sogenaamde gawes was niks meer as ’n afleiding nie wat my verhinder het om Bybelkennis in te neem en ’n verhouding met God op te bou.”—Johannes 17:3.

Baie meen dat dit onskadelik of selfs voordelig is om by die geestewêreld betrokke te raak. Hulle praat dalk van sogenaamde vriendelike spoke of beweer dat spiritistiese gebruike tot verligting, rykdom of geluk kan lei. Daar is nie ’n greintjie waarheid daarin nie. “Daar is altyd ’n prys om te betaal”, sê Luis.

’n Jong man genaamd Chad het vreesaanjaende gesigte begin sien en is geteister deur iemand wat hom wakker gemaak het elke keer wanneer hy slaap. “Demone het begin om my elke nag te teister en te folter”, sê hy. Hoe kan ons teen sulke teistering beskerm word?

Hoe ons beskerming verkry

Om onsself te beskerm, moet ons wegbly van alles wat met spiritisme te doen het (Galasiërs 5:19-21). Jehovah God beveel sy knegte dus om die volgende gebruike te vermy: “Daar mag niemand onder jou gevind word . . . wat van waarsêery gebruik maak, die toorkuns beoefen of voortekens soek of wat ’n towenaar is nie, of wat ’n towerspreuk oor ander uitspreek of ’n geestemedium of ’n beroepsvoorspeller van gebeure om inligting vra of die dooies raadpleeg nie. Want elkeen wat hierdie dinge doen, is vir Jehovah verfoeilik.”—Deuteronomium 18:10-12.

In ooreenstemming met hierdie woorde het baie stappe geneem om hulleself te beskerm deur ontslae te raak van alle boeke of ander voorwerpe wat met spiritisme verband hou. Ken, wat van spiritisme losgebreek het, sê: “Ek het deur al my besittings gegaan en alles vernietig wat ek gedink het sleg is.”—Sien Handelinge 19:19, 20.

Die grootste beskerming is om ’n persoonlike verhouding met die ware God, Jehovah, op te bou. Kyk na die handelswyse wat in Jakobus 4:7, 8 uiteengesit word: “Onderwerp julle dan aan God; maar staan die Duiwel teë, en hy sal van julle af wegvlug. Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom. Reinig julle hande, julle sondaars, en suiwer julle harte, julle besluiteloses.”

Jehovah God onderrig en beskerm dié wat nader aan hom kom. Hulle is nie ‘onkundig omtrent Satan se planne’ nie en word nie deur valse indrukke mislei nie (2 Korintiërs 2:11; 11:14). Hou ook in gedagte dat Jehovah almagtig is. Jehovah sal mense van teistering deur bose geeste bevry wanneer hulle Hom in geloof aanroep. Chad, wat vroeër aangehaal is, sê: “Die feit dat ek geweet het wie my aanval en ek tot Jehovah God uitgeroep het om my teen hulle invloed te beskerm, het dit laat ophou.”—Psalm 91:1, 2.

Regskapenes kan hulle beslis verheug omdat hulle nou God se beskerming geniet en in die wete dat die demone en almal wat hulle aan hulle invloed onderwerp, binnekort vernietig sal word. Dink net watter vreugde en vrede op die aarde sal heers wanneer die mensdom van die gevolge van spiritisme bevry is!—Jesaja 11:9; Openbaring 22:15.