Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Diere—Vir ewig ’n genot

Diere—Vir ewig ’n genot

Diere—Vir ewig ’n genot

WATTER ontsaglike verskeidenheid diere is daar tog, en elkeen het blykbaar sy eie persoonlikheid en eienskappe! Liefde en besorgdheid oor hulle kan iets wees wat ’n mens nader aan hulle Skepper laat kom. Die geval van Maria lig dit toe.

Toe Maria sowat drie jaar gelede in Lissabon, Portugal, gewoon het, het haar geliefde hond weggeraak, en sy het dit oor die radio laat aankondig. Een van Jehovah se Getuies was seker dat sy ’n hond gesien het wat aan die beskrywing beantwoord en het met Maria in aanraking gekom. Nadat die twee mekaar ontmoet het, het hulle die hond gevind, en die Getuie het gesê dat, aangesien Maria so lief is vir diere, sy dit sekerlik sou geniet om in die nuwe wêreld te lewe wat God belowe het. Die Getuie het verduidelik dat mense dan in vrede met al die diere sal lewe.

Maria het ’n uitnodiging aanvaar om ’n vergadering van die Getuies by te woon. Wat sy daar gehoor en gesien het, het haar belangstelling so aangewakker dat sy ’n persoonlike Bybelstudie wou hê. Terwyl Maria gestudeer het, is sy diep getref deur die dinge wat sy oor Jehovah God en sy belofte van die ewige lewe op aarde in ’n nuwe wêreld van regverdigheid geleer het (Psalm 37:29; Johannes 17:3). Sy het uiteindelik, op 16 Februarie 2002, haar toewyding aan Jehovah deur waterdoop gesimboliseer.

God se oorspronklike voorneme

Soos Maria is baie mense verheug oor die bewyse dat God se oorspronklike voorneme dat mense vir ewig op ’n paradysaarde sal lewe en al die diere sal versorg, uiteindelik vervul sal word (Genesis 1:28). Die Bybel sê dat God die aarde “nie verniet geskep het nie” maar dat hy “dit gevorm het om bewoon te word”. Mense sou die aarde en die diere blykbaar vir ewig geniet.—Jesaja 45:18.

Die Bybel beklemtoon ook God se besluit om sy oorspronklike voorneme dat die aarde ’n paradys sal wees, te verwesenlik. Hy sê: “Ek het dit gespreek”, en voeg by: “Ek sal dit ook doen.” Jehovah sê ook: “So sal my woord wees wat uit my mond uitgaan. Dit sal nie sonder resultate na my toe terugkeer nie, maar dit sal beslis doen wat my behaag en sal beslis sukses behaal in alles waarvoor ek dit gestuur het.”—Jesaja 46:11; 55:11.

God se oorspronklike voorneme was klaarblyklik dat mense vir ewig ’n aardse paradys sal geniet. Ons kan heeltemal seker wees dat daardie voorneme uiteindelik verwesenlik sal word. Kom ons kyk na wat die Bybel sê oor hoe die lewe in God se nuwe wêreld sal wees. Ons sal sien dat alle mak sowel as wilde diere inderdaad in vrede met mekaar en met mense sal lewe.—Jesaja 65:17, 21-25; 2 Petrus 3:13.

Troeteldiere in God se nuwe wêreld

In Jehovah se nuwe wêreld sal mense aan die welige maanhare van ’n leeu kan raak, die gestreepte pels van ’n tier kan streel en selfs in die woud kan slaap sonder om bang te wees dat enige dier hulle sal seermaak. Kyk na hierdie belofte van God: “Ek sal beslis die gevaarlike wilde diere uit die land laat verdwyn, en hulle [mense] sal in veiligheid in die wildernis woon en in die woude slaap.”—Esegiël 34:25; Hosea 2:18.

Wilde diere sal dan werklik onderworpe wees, selfs aan jong kindertjies! Die Bybel sê: “En die wolf sal ’n ruk by die lam bly, en die luiperd sal by die boklam gaan lê, en die kalf en die jong maanhaarleeu en die vetgevoerde dier almal bymekaar; en ’n blote seuntjie sal hulle lei.”

Maar dit is nie al nie! Die teks sê verder: “Die koei en die berin sal wei; hulle kleintjies sal bymekaar lê. En selfs die leeu sal strooi eet net soos die bul. En die suigeling sal beslis by die gat van die kobra speel; en op die liggat van ’n giftige slang sal ’n gespeende kind sy hand sit. Hulle sal geen kwaad doen of enige verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal beslis vol wees van die kennis van Jehovah soos die waters die see bedek.”—Jesaja 11:6-9.

In Jehovah se nuwe wêreld sal die probleem nie bestaan dat mense dig opmekaar woon in groot stede waar hulle en hulle troeteldiere swaar kry nie. Daar is weliswaar vandag ook baie mense wat dit geniet om diere aan te hou, en baie is gebalanseerd wat hulle gesindheid teenoor en versorging van troeteldiere betref. Maar dink net aan die wonderlike vooruitsig om vir ewig troeteldiere in ’n regverdige nuwe wêreld te hê! Die liefdevolle sorg wat hulle ontvang, sal die Grootse Skepper van alles wat lewe, werklik verheerlik.

As jy nog nie van God se wonderlike voornemens geleer het nie—soos tot onlangs toe met Maria, die diereliefhebber, die geval was—nooi ons jou hartlik uit om in aanraking te kom met die uitgewers van hierdie tydskrif of met een van Jehovah se Getuies, wat jou graag sal help om hiervan te leer.

[Prent op bladsy 10]

In God se nuwe wêreld sal mense dit vir ewig kan geniet om diere aan te hou