Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Asemrowende watervalle

Asemrowende watervalle

Asemrowende watervalle

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN ZAMBIË

TEEN 1855 het die Skotse sendeling en ontdekkingsreisiger David Livingstone alreeds jare lank deur Afrika gereis. Destyds was die kontinent nog grotendeels onbekend vir die res van die wêreld. Terwyl hy ooswaarts langs die magtige Zambezirivier gereis het, het inboorlinge met ontsag gepraat van die reusewaterval wat hy verder vorentoe sou teëkom. As gevolg van die geweldige geraas en die miswolk om die waterval het die inboorlinge dit Mosi-oa-Tunya genoem, wat “die rook wat donder” beteken.

Livingstone was vasbeslote om die waterval, wat nou die Victoriawaterval genoem word, van naderby te beskou. Toe hy dit die eerste keer gesien het, het hy dit so beskryf: “Ek het in verwondering nader aan die rand gekruip en in ’n groot skeur afgekyk wat van oewer tot oewer in die breë Zambezi gemaak is, en ek het gesien hoe ’n stroom van ’n duisend treë breed honderd voet [30 meter] ver neerstort en dan skielik deur ’n opening van vyftien tot twintig treë gepers word.”

In die vloedseisoen word die Victoriawaterval, wat deur Zambië en Zimbabwe gedeel word, vandag as die grootste stroom vallende water op die planeet beskou! Dan stort daar 545 000 000 liter water per minuut by ’n groot afgrond af wat 108 meter diep is. Daarna stroom al die water van die Zambezi deur ’n diep kronkelende kloof wat minder as 65 meter breed is. Hierdie unieke geologiese kenmerke maak die Victoriawaterval ’n waarlik verstommende skouspel.

Die gebied rondom die waterval is ook verbasend mooi. Dit is tot ’n nasionale park verklaar en is die tuiste van ’n wonderlike verskeidenheid bome en plante asook fassinerende diere—insluitende seekoeie, olifante, kameelperde, wildebeeste, sebras en selfs leeus. Pragtige voëls soos arende en seldsame taitavalke maak hulle neste op die klipkranse.

Soos Livingstone gesê het: “Niks wat in Engeland te sien is, kan vergelyk word met die prag van hierdie uitsig nie. Geen Europese oog het dit nog ooit aanskou nie; maar engele in hulle vlug moes met verwondering na sulke pragtige tonele gestaar het.” Vandag, byna 150 jaar nadat Livingstone die plek die eerste keer gesien het en dit die Victoriawaterval genoem het, na koningin Victoria van Engeland, kom honderdduisende mense jaarliks van regoor die wêreld om self die prag van die waterval te sien.

Die Victoriawaterval staan tereg as een van die wonders van die natuur bekend.

Maar daar is ’n hele aantal minder bekende watervalle in Zambië se talle groot riviere wat ook asemrowend mooi is. Kom kyk gerus saam met ons na ’n paar van hulle.

Ngonyewaterval

Op ’n warm, droë Novemberdag, omtrent twee jaar voordat Livingstone die Victoriawaterval die eerste keer gesien het, het hy by Ngonyewaterval, ook bekend as Siomawaterval, aangekom. Hy het geskryf: “Die eilande bo die waterval is met van die allermooiste plantegroei bedek. As ’n mens van die rotsmassa af kyk wat oor die waterval hang, is die uitsig die pragtigste wat ek nog gesien het.” Besoekers aan Ngonyewaterval stem van harte saam met wat Livingstone gesê het.

Livingstone het vertel: “Die rivier hieronder word baie myle ver beperk tot ’n nou spasie wat niks meer as honderd treë breed is nie. Die stroom bruis voort en lyk soos groot massas water wat eindeloos maal sodat selfs die beste swemmer dit moeilik sou vind om bo te bly.”

Lumangwewaterval

Baie van Zambië se ander watervalle is afgesonder en ongeskonde. Hulle wissel baie wat grootte betref. Lumangwewaterval lyk soos ’n miniatuurweergawe van die Victoriawaterval. Maar dit is glad nie klein nie. Een van die watervalle is sowat 30 meter hoog en meer as 100 meter breed. Die mis van die waterval voorsien selfs ’n klein reënwoud van water.

Kalambowaterval

Die Kalambowaterval, die hoogste in Zambië, vloei van die hoë plato af tot in Afrika se Groot Skeurvallei. Die water val meer as 200 meter langs steil klipkranse af, waar die seldsame reusemaraboe in die droë seisoen broei.

“Die Kalambo is dus die tweede hoogste ononderbroke waterval in Afrika [naas die Tugelawaterval in Suid-Afrika] en die twaalfde hoogste in die wêreld—meer as twee keer hoër as die Victoriawaterval”, sê die publikasie National Monuments of Zambia.

Hoewel hierdie waterval moeilik is om te bereik, het die plaaslike skrywer C. A. Quarmby die Kalambo as “een van Afrika se onvergeetlikste besienswaardighede” beskryf. Hy voorspel: “Dit sal lank neem voordat dit deel word van almal se reisplan. . . . Net ’n paar gelukkiges kom ooit by Kalambo uit.”

Ja, baie van Zambië se watervalle en ander natuurlike aantreklikhede is baie afgeleë. National Monuments of Zambia sê dat party “slegs met ’n Land-Rover oor ruwe terrein bereik kan word en ander slegs te voet”. Dit is natuurlik een van die redes waarom hierdie plekke so besonders is. Besoekers is nietemin welkom. Mnr. Kagosi Mwamulowe, ’n bewaringsgeoloog by Zambië se Nasionale Erfenisbewaringskommisie, verduidelik dat dit hulle doelwit is om mense die geleentheid te gee om hierdie wonderlike plekke te besoek en terselfdertyd hulle ongerepte prag te bewaar.

Zambië se grootste skat

In sy boek Zambia, sê die skrywer Richard Vaughan: “Zambië bly ’n land van besonderse natuurskoon, waarvan groot dele vir beide besoekers en Zambiërs onbekend is. . . . Die land is geseën met ’n geweldige verskeidenheid mere, riviere, woude en berge.” Maar die land se grootste skat is iets anders.

“Sy mense is bekend vir hulle hartlikheid, opgeruimdheid en aanpasbaarheid”, sê Vaughan. ’n Ander skrywer, David Bristow, stel dit so: “Die hart van Zambië, sy mense, is so warm soos die Afrikason.” As jy ooit na hierdie pragtige deel van die wêreld kom, sal jy sekerlik daarmee saamstem.

[Kaart/Prente op bladsy 18]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

TANZANIË

DEMOKRATIESE REPUBLIEK VAN DIE KONGO

ANGOLA

ZAMBIË

KALAMBO-WATERVAL

LUMANGWE- WATERVAL

Lusaka

NGONYE-WATERVAL

VICTORIA-WATERVAL

ZIMBABWE

MOSAMBIEK

INDIESE OSEAAN

[Prente]

Lumangwewaterval—soos ’n miniatuurweergawe van die Victoriawaterval

Kalambowaterval—twee keer hoër as die Victoriawaterval

Ngonyewaterval—“jy sal die hele plek gewoonlik vir jouself hê”

[Erkenning]

Lumangwe- en Ngonyewaterval: Marek Patzer/www.zambiatourism.com; kaart: Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.

[Prent op bladsy 16, 17]

Victoriawaterval—“Die rook wat donder”

[Erkenning]

Marek Patzer/www.zambiatourism.com