Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Van ons lesers

Van ons lesers

Van ons lesers

Vaderlose gesinne Dankie vir die reeks “Vaderlose gesinne—Hoe die kringloop verbreek kan word”! (8 Februarie 2000). Ek was so verbitterd oor my egskeiding dat ek vir alleentoesig oor my dogter wou veg. Maar hierdie artikels het my laat besef dat my dogter die bes moontlike verhouding met haar pa nodig het. ’n Stryd oor wie toesig gaan hê, is nie die oplossing nie.

L. D., Guam

As ’n enkelmoeder het ek nog altyd hard gewerk om my seun volgens Bybelbeginsels groot te maak. My gewese man is een van dié, soos julle dit beskryf, wat ‘net nie meer omgee nie’; hy toon geen belangstelling in sy seun nie. Ek het my seun nietemin geleer om sy pa lief te hê en te respekteer, net soos julle artikel voorgestel het. Dit was baie bemoedigend om te weet dat ek die regte ding doen.

R. S., Brasilië

My ouers het geskei toe ek vyf jaar oud was. My pa het nooit enige belangstelling in sy kinders getoon nie. Soms voel ek dat dit beter sou gewees het as ek hom eerder nooit geken het nie as om te sien hoe min hy omgee. Danksy Jehovah het ek op ’n vroeë ouderdom die Bybel saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Die feit dat ek Bybelwaarhede geleer het, het my gehelp om hierdie gevoelens van verwerping en gegriefdheid te verwerk.

C. B., Puerto Rico

Dit is nou al byna sewe jaar dat ek drie seuns op my eie grootmaak, en soms is dit alles behalwe maklik. Daar is byvoorbeeld tye wanneer dit baie moeilik is om die seuns te hanteer. Maar ek is innig lief vir hulle, en ek dank Jehovah dat ek hulle het. Die oudste is onlangs gedoop; dit is dus alles die moeite werd. Sulke artikels moedig my aan om voort te gaan. Ek sal dit dikwels lees.

N. B., Kanada

My pa het ons verlaat toe ek ses jaar oud was. Nou is ek 21, en ek besef nou eers watter uitwerking dit op my gehad het. Ek was nog altyd so bang om te trou, want ek het gedink dat ’n man my waarskynlik sou verlaat. Ek het ook gevoel dat ek ’n man niks kan bied nie, aangesien ek nie weet hoe ’n funksionele gesin werk nie. Maar hierdie artikel het my baie vertroos. Dit het my verseker dat ek eendag ’n gebalanseerde, getroue, liefdevolle vrou kan wees.

E.V.W., Verenigde State

Probleme met vriende Ek wou al dikwels vir julle skryf, maar ek het nog nooit nie. Ek het so pas die artikel “Jongmense vra . . . Waarom het my vriend my seergemaak?” (22 Februarie 2000) gelees. Ek het ’n ernstige probleem met ’n goeie vriend gehad en kwade gevoelens teenoor hom gekoester. Hierdie artikel het op die regte tyd verskyn.

C. V., Italië

Een van my vriende het my seergemaak. Die artikel het my gehelp om te sien dat ons mekaar soms kwaad maak omdat ons onvolmaak is. Ek het gedoen wat die artikel gesê het en die geskil met haar uit die weg geruim.

N. T., Trinidad

Ek is 18 en het twee goeie vriende. Die een is baie ouer as ek, en die ander is twee jaar jonger as ek. Wel, ek en my jonger vriend het die afgelope tyd probleme gehad. Hierdie artikel het net op die regte tyd gekom. Kolossense 3:13 het ons daaraan herinner dat Jehovah ons baie, baie kere vryelik vergewe en dat ons op ons beurt ander moet vergewe. Die laaste paragraaf het die punt laat inslaan. Elkeen van ons wil dus ’n vriend wees soos die een wat in Spreuke 18:24 beskryf word—“wat sterker aanhang as ’n broer” of ’n suster!

W. C., Verenigde State