Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Jou keuse van behandeling

Jou keuse van behandeling

Jou keuse van behandeling

IN SY boek oor alternatiewe geneeskunde het dr. Isadore Rosenfeld hierdie punt beklemtoon: “Enige gesondheidsmaatreël of behandeling wat aan ’n groep mense beskikbaar gestel word wat willekeurig gekies is en die versekering gegee is dat dit sal ‘werk’, sal in tot die helfte van die gevalle moontlik ’n verbetering tot gevolg hê.”

Dit word die plasebo-effek genoem, wat beteken dat selfs ’n suikerpil kan werk as die persoon glo dat dit sal. Die plasebo-effek kan subjektiewe simptome, onder meer pyn, naarheid, moegheid, duiseligheid, angs en depressie, verlig. Wat toon dit?

Om maar een ding te noem, dit toon dat vertroue in die behandeling wat ’n mens ontvang in baie gevalle ’n belangrike faktor in die genesingsproses is. Terselfdertyd is dit dalk raadsaam om seker te maak dat die oorsaak van die probleem behandel word en nie net die simptome nie. Dit kan gedoen word deur die uitwerking van die behandeling met behulp van objektiewe middele te meet, soos laboratoriumtoetse en x-strale.

Maar daar is meer wat ’n mens kan doen wanneer jy ’n vorm van mediese behandeling kies.

Belangrike stappe om te neem

Dit is verstandig om navorsing te doen voordat ’n mens ’n besluit neem. Stel vrae. Watter resultate kan verwag word? Wat is die voordele, die nadele en die verwagte koste en duur van die behandeling? Praat met mense wat dieselfde behandeling ontvang of ondergaan het. Vra hulle of dit hulle gehelp het. Onthou egter dat sulke bewyse op grond van persoonlike ondervinding misleidend kan wees.

Dit is dalk onverstandig om ’n onkonvensionele vorm van terapie te kies as dit ’n mens behandeling laat uitstel wat al in die verlede suksesvol was, al is die suksessyfer van die konvensionele terapie nie so hoog nie. Getuienis van die skade wat dit tot gevolg kan hê, het in ’n verslag in The New England Journal of Medicine verskyn. Die tydskrif het die vordering van kanker in twee jong pasiënte beskryf wat konvensionele terapieë geweier het terwyl hulle alternatiewe medisyne gebruik het. Een van hierdie pasiënte het gesterf.

Mense met chroniese of lewensgevaarlike siektes moet besef dat hulle kwesbare teikens vir kwaksalwers kan wees wat bedrieglike terapieë bevorder. Wees versigtig vir enige produk wat belowe om verskeie kwale te genees. ’n Onlangse voorbeeld was ’n nuwe vitamien wat na bewering “gehelp het om alles van asemhalingsprobleme en tamheid tot lewensgevaarlike siektes te genees”. ’n Ondersoek van die “vitamien” het gevind dat dit niks meer as soutwater was nie.

Party vorme van alternatiewe terapieë kan ongetwyfeld help om goeie gesondheid te bevorder. Wees egter realisties in jou verwagtinge. Dit is verstandig om seker te maak dat jy voedsame kos eet, genoeg slaap en oefening kry, asook mediese behandeling versigtig kies.

Die einde van alle siekte

Dit is duidelik dat geen menslike terapie alle siekte en uiteindelik die dood uit die weg kan ruim nie. Dit is omdat ons dit van ons oorspronklike ouer, die eerste mens, Adam, oorgeërf het (Job 14:4; Psalm 51:7; Romeine 5:12). Talle mediese behandelingsmetodes—ongeag wat dit is—is dalk nuttig, maar hulle is slegs tydelike maatreëls wat ’n mens se lewe dalk sal verleng en dit vir ’n rukkie aangenamer sal maak. Maar daar is ’n gewisse oplossing vir die probleem van swak gesondheid, en miljoene het dit reeds ontdek.

Daardie oplossing is deur ons Skepper, Jehovah God, die Groot Geneesheer, voorsien. Deur geloof in hom te beoefen en voordeel te trek uit die versoeningswaarde van die losprysofferande van sy Seun, Jesus Christus, sal jy volmaakte gesondheid en ewige lewe in ’n siektevrye wêreld kan geniet! (Matteus 20:28). Die Bybel belowe dat “geen inwoner” in daardie nuwe wêreld sal sê “ek is siek” nie.—Jesaja 33:24.

[Lokteks op bladsy 12]

Miljoene het die enigste gewisse hoop vir volmaakte gesondheid gevind