Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Beter gesondheid—’n Nuwe rigting?

Beter gesondheid—’n Nuwe rigting?

Beter gesondheid—’n Nuwe rigting?

Min onderwerpe is vir mense van groter belang as gesondheid. Soms lyk dit of daar net soveel opinies as gesondheidspraktisyns is. Ontwaak! kies nie kant nie, maar probeer eerder deur hierdie reeks artikels verslag lewer oor die toenemende gebruik van behandelingsmetodes wat dikwels alternatiewe genoem word. Ons beveel nie enige van die vorme van gesondheidsbehandeling wat ons gaan bespreek of enige ander vorm van behandeling aan nie. Baie behandelingsmetodes word nie gemeld nie—waarvan party taamlik gewild en ander omstrede is. Opvoeding oor gesondheidsake is na ons mening oor die algemeen nuttig; besluite in verband met gesondheidsake is heeltemal persoonlik.

ALMAL wil gesond wees. Maar goeie gesondheid kan ontwykend wees, soos gesien kan word uit die aantal mense wat gesondheidsprobleme het. Dit lyk vir party of meer mense vandag siek is as ooit tevore.

In hulle stryd teen siekte skryf dokters veral medisyne voor wat deur farmaseutiese maatskappye ontwikkel en aggressief bemark word. Dit is van belang om te weet dat die wêreldmark vir sulke geneesmiddels in onlangse dekades die hoogte ingeskiet het, van net ’n paar miljard rand per jaar tot honderdmiljarde rand elke jaar. Waartoe het dit gelei?

Voorskrifmedisyne het al baie mense gehelp. En tog het die gesondheid van party wat geneesmiddels gebruik onveranderd gebly of agteruitgegaan. Party het hulle dus in onlangse tye tot ander metodes van mediese behandeling gewend.

Waartoe baie hulle wend

In plekke waar moderne, konvensionele geneeskunde die standaardbehandeling is, wend baie hulle nou tot sogenaamde alternatiewe, of aanvullende, terapieë. “Dit lyk of die Berlynse Muur wat lank ’n skeidsmuur tussen alternatiewe terapieë en hoofstroomgeneeskunde was, nou verbrokkel”, het die Consumer Reports van Mei 2000 gesê.

The Journal of the American Medical Association (JAMA) van 11 November 1998 het opgemerk: “Alternatiewe mediese terapieë, wat formeel gedefinieer word as behandelings wat nie algemeen in mediese fakulteite geleer word of geredelik in Amerikaanse hospitale beskikbaar is nie, het landwyd al hoe meer die aandag getrek van die media, die mediese gemeenskap, staatsinstansies en die publiek.”

Maar die Journal of Managed Care Pharmacy het in 1997 na aanleiding van onlangse neigings verduidelik: “In die verlede was konvensionele mediese praktisyns skepties oor alternatiewe mediese gebruike, maar 27 mediese fakulteite in die Verenigde State [’n onlangser verslag sê 75], onder meer Harvard, Stanford, die Universiteit van Arizona en Yale, bied tans opsionele kursusse in alternatiewe geneeskunde aan.”

JAMA het gemeld wat baie pasiënte doen om hulle gesondheid te verbeter. Dit het berig: “In 1990 het ongeveer 1 (19,9%) uit 5 mense wat ’n dokter oor ’n ernstige toestand geraadpleeg het ook ’n alternatiewe terapie gevolg. Hierdie persentasie het in 1997 tot byna 1 (31,8%) uit 3 toegeneem.” Die artikel het ook gesê: “Landwye opnames wat buite die Verenigde State gedoen is, dui daarop dat alternatiewe geneeskunde dwarsdeur die nywerheidswêreld gewild is.”

Volgens JAMA was die deel van die bevolking wat gedurende ’n onlangse tydperk van 12 maande alternatiewe behandelingsmetodes gevolg het 15 persent in Kanada, 33 persent in Finland en 49 persent in Australië. “Die omvang van die vraag na alternatiewe terapie is opmerkenswaardig”, erken JAMA. Dit is veral so in die lig van die feit dat alternatiewe terapieë selde deur mediese fondse gedek word. Die artikel in JAMA het dus ten slotte gesê: “Die huidige gebruik sal waarskynlik nie die volle omvang van gebruik verteenwoordig as versekeringsdekking vir alternatiewe terapieë in die toekoms toeneem nie.”

Die neiging om alternatiewe en konvensionele terapieë te kombineer, is al lank ’n algemene gebruik in baie lande. Dr. Peter Fisher, van Londen se Koninklike Homeopatiese Hospitaal, het gesê dat die vernaamste vorme van aanvullende geneeskunde “in baie plekke feitlik konvensioneel” geword het. “Daar is nie meer twee soorte geneeskunde, ortodoks en aanvullend, nie”, het hy beweer. “Daar is slegs goeie geneeskunde en slegte geneeskunde.”

Gevolglik erken baie mediese deskundiges vandag die waarde van ortodokse geneeskunde sowel as alternatiewe terapieë. Hulle dring nie daarop aan dat ’n pasiënt die een vorm van geneeskunde óf die ander volg nie, maar hulle beveel aan dat die pasiënt uit al die verskillende vorme van behandeling dié terapie moet kies wat hom sal help.

Wat is party van die geneeskundige metodes van sogenaamde alternatiewe, of aanvullende, geneeskunde? Wanneer en waar het party van hulle ontstaan? En waarom maak soveel mense gebruik daarvan?