Spring na inhoud

Dennis Christensen in die hof gedurende ’n verhoor in 2017

10 MEI 2018
RUSLAND

Eerste getuienis in die verhoor van Dennis Christensen word in Oriol-hof gegee

Eerste getuienis in die verhoor van Dennis Christensen word in Oriol-hof gegee

Op 23 April 2018 het Dennis Christensen se kriminele saak voortgegaan in die Zjeleznodorozjni-streekhof in Oriol. Mnr. Christensen, ’n Deense burger en een van Jehovah se Getuies, is gearresteer terwyl hy in Mei 2017 ’n godsdiensvergadering bygewoon het, en hy is sedertdien in aanhouding.

Die aanklaer, mnr. Fomin, het mnr. Christensen aangekla van ‘die organisering van die bedrywigheid van ’n ekstremistiese organisasie’. Hulle verwys hier na die Plaaslike Godsdiensorganisasie (LRO) van Jehovah se Getuies in Oriol, wat in Junie 2016 gelikwideer is onder die onregverdige aanklag van ekstremisme. Mnr. Christensen se prokureurs het beswaar hierteen gemaak omdat die gemeente van Jehovah se Getuies in Oriol nie ’n regsentiteit is nie, maar ’n groep vreedsame aanbidders wat bymekaar kom om die Bybel te studeer. Sy prokureurs het beklemtoon dat die Russiese regering self erken het dat hulle nie die godsdiens van Jehovah se Getuies verban het nie en dat Rusland se grondwet die reg waarborg dat ’n persoon sy eie godsdiensoortuigings kan beoefen. * Met ander woorde, toe mnr. Christensen aan ’n godsdiensvergadering deelgeneem het, het hy net sy geloof beoefen.

Die eerste getuienis is op 24 April 2018 gegee. Die aanklaer se eerste getuie was ’n agent van die Federale Veiligheidsdiens. Die agent het getuig dat die Koninkryksaal in Oriol sedert 2017 deur middel van video-opnames dopgehou is. Maar hy kon nie sê wat binne gebeur het nie omdat die opnames net wys hoe mnr. Christensen mense by die ingang van die gebou verwelkom het. Die aanklaer het toe ’n plaaslike vrou laat getuig wat die vergaderinge van Jehovah se Getuies in Oriol bygewoon het. Maar sy kon niks oor mnr. Christensen se bedrywighede sê nie omdat sy vergaderinge bygewoon het voordat die LRO in Oriol gelikwideer is.

Irina Christensen

Die volgende dag het die aanklaer ’n 78-jarige vrou, wat een van Jehovah se Getuies is, opgeroep om te getuig. Die aanklaer het haar twee en ’n half uur lank ondervra in ’n poging om beskuldigende “bewyse” te kry. Sy het net gesê dat die Getuies nie direkteure of leiers het nie en dat hulle nooit godsdienspublikasies wat in Rusland verban is, gedurende hulle vergaderinge gebruik nie.

Die verhoor sal op 14 Mei 2018 verder gaan en sal ’n paar dae in die maand voortgaan. As mnr. Christensen skuldig bevind word, kan hy ses tot tien jaar lank tronkstraf kry. Jehovah se Getuies regoor die wêreld is geskok deur hierdie moontlikheid en is bekommerd oor mnr. Christensen en sy vrou, Irina.

^ par. 3 Die Hooggeregshof het gebly by die beslissing om die LRO van Jehovah se Getuies in Oriol te verban en het gesê: “Die reg van sulke lede om hulle gekose godsdiens te beoefen, sal nie geskend word nie omdat die moontlikheid om onafhanklik godsdiensvergaderinge te hou wat nie met die verspreiding van ekstremistiese godsdienslektuur te doen het nie, nie van hulle weggeneem word nie.”