Spring na inhoud

RUSLAND

In die tronk weens hulle geloof – Rusland

In die tronk weens hulle geloof – Rusland

Die geskiedenis van Jehovah se Getuies in hedendaagse Rusland is ’n verslag van onderdrukking en vervolging. Gedurende die grootste deel van die 20ste eeu behandel die Russiese regering die Getuies sleg, al het hulle bekend gestaan as vreedsame burgers wat gehoorsaam is aan die wet. Die doel van die regering van die Sowjetunie was om hulle te dwing om die idees van die Sowjetunie te aanvaar. Hulle is verbied om Bybels en godsdienspublikasies te hê. Hulle was die heeltyd dopgehou en moes hulle godsdiensvergaderinge in die geheim hou. As hulle gevang is, is hulle geslaan en het hulle lang tronkstrawwe gekry. Die regering het duisende verban en na Siberië gestuur.

Dit het in 1991 begin verander toe die Russiese regering wetlike erkenning aan Jehovah se Getuies gegee het en hulle toegelaat het om godsdiensvryheid te hê sonder dat die owerhede inmeng. Maar hierdie tyd van vrede het nie lank gehou nie.

In 2009 het die teenstand en beperkings begin toeneem toe die Russiese Hooggeregshof gebly het by die uitspraak deur ’n laer hof wat ’n gemeente van Jehovah se Getuies “ekstremisties” verklaar het. Ná jare van hofsake het die Russiese Hooggeregshof in April 2017 beslis dat die Getuies se regsentiteite gelikwideer moet word as gevolg van beweerde ekstremistiese bedrywigheid. Die Russiese owerhede het dadelik stappe geneem om hulle eiendom af te vat, hulle plekke van aanbidding toe te maak en hulle godsdienspublikasies as “ekstremistiese materiaal” te verklaar.

Die Russiese regering het nie opgehou nadat hulle die regsentiteite van die Getuies aangeval het nie. Hulle het ook gekies om Jehovah se Getuies as individue aan te val. Hulle het dinge verder gevat en het die private aanbidding van elke Getuie geassosieer met die organisasie wat verbied is. Die polisie het die Getuies se huise deursoek, en dit het daartoe gelei dat hulle mishandel en op ’n wrede manier ondervra is. Mans sowel as vrouens van alle ouderdomme wat Getuies is, is gearresteer, skuldig bevind en tot tronkstraf of huisarres gevonnis.

Vanaf die verbod in April 2017 is honderde Getuies in aanhouding geplaas voor hulle verhoor of tot tronkstraf gevonnis op die aanklag van ekstremisme. Tot en met 20 Mei 2024 is altesaam 126 Getuies in die tronk.

Protes teen Rusland se wrede behandeling van Jehovah se Getuies

Die Russiese regering hou aan om Getuies skuldig te bevind aan ekstremistiese bedrywigheid al vra die internasionale gemeenskap dat Rusland moet ophou met sy aanhoudende vervolging. Ingeligte waarnemers en howe buite Rusland het die Russiese regering veroordeel omdat hulle aanhou om Jehovah se Getuies te onderdruk.

Europese Hof van Menseregte: Op 7 Junie 2022 het die Europese Hof van Menseregte ’n belangrike uitspraak teen Rusland gelewer, waarin hulle die vervolging van Jehovah se Getuies veroordeel (Taganrog LRO and Others v. Russia, nr. 32401/10 en 19 ander). Die Hof het gesê dat dit onwettig was vir Rusland om ’n verbod op Jehovah se Getuies in 2017 te plaas. Rusland is beveel om “alle nodige maatreëls te neem om seker te maak dat hulle ophou met alle kriminele sake wat hangend is teen Jehovah se Getuies . . . en om Jehovah se Getuies [wat in die tronk is] . . . vry te laat.” Hulle is ook beveel om alle eiendom wat afgevat is, terug te gee of om meer as R1 miljard as vergoeding te betaal en om die aansoekers meer as R60 miljoen as vergoeding te betaal.

’n Brief van die sekretaris-generaal van die Raad van Europa: In ’n brief van 9 Desember 2022 wat aan die Russiese Minister van Buitelandse Sake gestuur is, het Marija Pejčinović Burić gesê: “In die sake Jehovah’s Witnesses of Moscow and Others en Krupko and Others wanneer dit kom by die ontbinding van die applikant se godsdiensgemeenskap wat ’n verbod op hulle bedrywighede insluit, die ontwrigting van ’n vreedsame godsdiensseremonie en die feit dat die vryheid van party van sy deelnemers daarna weggeneem is, beveel die Komitee ten sterkste aan dat die owerhede die verbod op die bedrywighede van al Jehovah se Getuies se organisasies moet verwyder en moet ophou om hulle krimineel te vervolg.”

Die besluit van die Europese Raad se Komitee van Ministers: Die Komitee van Ministers [CoM] het by hulle vergadering in September 2023 gesê dat dit hulle grootliks bekommer dat die Russiese owerhede die Europese Hof van Menseregte se duidelike uiteensetting van Artikel 46 van die Konvensie en die belangrike deel van die uitspraak in Taganrog LRO and Others heeltemal en opsetlik geïgnoreer het, veral wanneer dit kom by die vrylating van Getuies van Jehovah wat in die tronk is. Omdat Rusland weier om saam te werk, het die CoM “besluit om hierdie groep sake onder die aandag te bring van die Verenigde Nasies se Menseregtekomitee, die Werkende Groep vir Arbitrêre Opsluiting van die VN se Raad vir Menseregte en ander relevante internasionale organisasies wat te doen het met die vervolging van Jehovah se Getuies in die Russiese Federasie. Die doel is om seker te maak dat die vereistes van die betrokke uitsprake nagekom word.”

Voorbeelde van wrede uitsprake wat onlangs gegee is

  • Op 25 Januarie 2024 is Sona Olopova, ’n 37-jarige getroude vrou, tot twee jaar dwangarbeid in ’n tronk gevonnis. Sy moet in die tronk in die Samara-streek tot aan die einde van haar vonnis bly.

  • In Julie 2018 het gewapende polisiemanne by ’n woonstel ingebars waar Dmitri en Jelena Barmakin gebly het om na Jelena se 90-jarige ouma om te sien. Dmitri en Jelena is albei na hulle tuisstad, Wladiwostok, teruggevat, waar Dmitri gearresteer is. ’n Kriminele saak is teen hom gemaak, en hy is aangekla van die “organisering van die bedrywighede van ’n ekstremistiese organisasie”. Op 6 Februarie 2024 het ’n appèlhof sy skuldigbevinding gehandhaaf. Hy is in die hof in aanhouding geneem om sy vonnis van agt jaar uit te dien. Jelena moet ook voor die hof verskyn as gevolg van haar geloof.

  • Aleksandr Tsjagan, ’n 53-jarige getroude man, is deur die Tsentralni-distrikshof van Toljatti in die Samara-streek skuldig bevind. Hy is tot agt jaar tronkstraf gevonnis, een van die langste vonnisse wat aan ’n Getuie-man in Rusland gegee is. Op 29 Februarie 2024, aan die einde van sy verhoor, is hy in die hof in aanhouding geneem. Hy is op die oomblik in die tronk in Detensiesentrum Nr. 4 in die Samara-streek.

  • ’n Hof in die Irkoetsk-streek in Oos-Siberië het nege Getuie-mans aan ekstremisme skuldig bevind. Op 5 Maart 2024 is die nege mans, waarvan die oudste 72 jaar oud is, verskeie tronkvonnisse gegee van tot sewe jaar lank. Hulle is skuldig bevind in kriminele sake wat in Oktober 2021 begin het nadat polisiemanne hulle huise deursoek het. Teen die tyd dat hulle gevonnis is, was een van die mans, Jaroslaf Kalin, alreeds twee jaar lank in aanhouding voor sy verhoor. Hy beskryf sy gevangenskap as ’n bitter ondervinding in die “ergste selle en toestande wat ons kan hê”.

Verdere pogings om ’n einde te maak aan onregverdige opsluiting

Jehovah se Getuies wêreldwyd is baie ontsteld omdat hulle medegelowiges deur Rusland wreed behandel word. Miljoene Getuies regoor die wêreld het briewe na Russiese regeringsamptenare gestuur en hulle gevra om die Getuies wat in die tronk is, te help. Prokureurs vir Getuies wat in die tronk is, het appèlsake gemaak in al die verskillende Russiese howe, en baie aansoeke is by die Europese Hof van Menseregte ingegee. Jehovah se Getuies het ook klagtes by die VN se Menseregtekomitee en die VN se Werkende Groep vir Arbitrêre Opsluiting ingedien. Hulle het ook verslae by internasionale organisasies ingedien wat die skending van menseregte dophou. Jehovah se Getuies sal aanhou om alle kanale te gebruik om ander bewus te maak van die slegte situasie van hulle medegelowiges in Rusland sodat hierdie aaklige godsdiensvervolging kan ophou.

Tydlyn

  1. 20 Mei 2024

    Altesaam 126 Getuies in die tronk.

  2. 24 Oktober 2023

    Die VN se Menseregtekomitee (CCPR) gee twee beslissings wat met die Plaaslike Godsdiensorganisasies in Elista en Abinsk te doen het. In albei sake het die CCPR tot die gevolgtrekking gekom dat Rusland die Getuies se regte geskend het volgens Artikel 18.1 (“die reg op vryheid van denke, gewete en godsdiens”) en 22.1 (“die reg op vryheid van assosiasie”) van die Internasionale Verdrag oor Burgerlike en Politieke Regte. Die beslissings bevestig dat daar niks in hulle godsdienspublikasies is wat haat of geweld bevorder nie.

  3. 7 Junie 2022

    Die EHMR lewer belangrike uitspraak, Taganrog LRO and Others v. Russia, wat Rusland veroordeel vir die mishandeling van Jehovah se Getuies.

  4. 12 Januarie 2022

    Die Departement van Justisie van die Russiese Federasie voeg die JW Library-app by die Federale Lys van Ekstremistiese Materiaal. Dit is die eerste en enigste app wat in Rusland verbied is en as ekstremisties beskou word.

  5. 27 September 2021

    Sint Petersburg-stadshof verwerp appèl teen die beslissing van 31 Maart 2021. In daardie beslissing is die JW Library-app ekstremisties verklaar, en die gebruik daarvan is regdeur die Russiese Federasie en die Krim verbied. Die hof se beslissing tree dadelik in werking.

  6. 26 April 2019

    Die VN se Werkende Groep vir Arbitrêre Opsluiting beslis dat die regte van Dmitri Michailof geskend is en veroordeel Rusland se vervolging van Jehovah se Getuies.

  7. 20 April 2017

    Die Hooggeregshof van die Russiese Federasie beslis dat die nasionale kantoor van Jehovah se Getuies en 395 Plaaslike Godsdiensorganisasies gelikwideer moet word.