Spring na inhoud

Die Administratiewe Sentrum van Jehovah se Getuies in Rusland

27 APRIL 2016
RUSLAND

’n Waarskuwingsbrief bedreig die godsdiensvryheid van Jehovah se Getuies in Rusland

’n Waarskuwingsbrief bedreig die godsdiensvryheid van Jehovah se Getuies in Rusland

Die Russiese owerheid het nog ’n drastiese stap geneem in ’n aggressiewe veldtog teen Jehovah se Getuies. Die kantoor van die hoofaanklaer dreig om die Administratiewe Sentrum van Jehovah se Getuies in Rusland te likwideer weens beweerde “ekstremistiese bedrywighede”. Op 2 Maart 2016 het die verteenwoordiger van die hoofaanklaer, W.Ja. Grin, in ’n waarskuwingsbrief geëis dat die Sentrum alle “oortredings” binne twee maande regstel.

Die waarskuwing het Rusland se veldtog om die Getuies in ’n swak lig te stel en hulle godsdiensvryheid te beperk, in ’n groot mate verskerp. Indien die Getuies se organisasie gelikwideer word, sal hulle Administratiewe Sentrum gesluit word, sal dit op die federale lys van ekstremistiese organisasies geplaas word en sal al hulle eiendom aan die staat oorhandig word. Weens hulle verbintenis met die Sentrum kan alle godsdiensverenigings van Jehovah se Getuies—406 plaaslike godsdiensorganisasies (regsentiteite) en meer as 2 500 gemeentes—moontlik ook gelikwideer word. Gevolglik kan Getuies regoor Rusland hulle Koninkryksale (plekke van aanbidding) verloor. Op die ou end kan die likwidering van die Administratiewe Sentrum die Getuies van hulle reg ontneem om hulle godsdiens vryelik te beoefen.

Rusland se stelselmatige aanval op Jehovah se Getuies is op valse bewyse gegrond en dit is ’n doelbewuste wantoepassing van die Federale Wet op die Teëwerking van Ekstremistiese Bedrywighede. In 2015 het die VN se Menseregtekomitee hulle besorgdheid uitgespreek “oor die talle verslae dat die wet [op Ekstremistiese Bedrywighede] toenemend gebruik word om vryheid van spraak . . . asook godsdiensvryheid te beperk en Jehovah se Getuies word, onder andere, hierdeur geraak”. *

Jehovah se Getuies is ’n gevestigde, internasionale godsdiens. Hulle geniet godsdiensvryheid in demokratiese lande regoor die wêreld en in al die lidlande van die Europese Unie. Rusland is die uitsondering. Sy veldtog teen die vreedsame aanbidding van die Getuies het sedert die middel-1990’s geleidelik en stelselmatig toegeneem. Hierdie pogings het op ’n dramatiese wyse verskerp nadat Rusland wetgewing oor ekstremisme aangeneem het en dit verkeerdelik toegepas het om die Getuies te onderdruk.

Onduidelike definisie van ekstremistiese bedrywighede—Die grondslag vir onderdrukking

In 2002 het Rusland die Federale Wet op die Teëwerking van Ekstremistiese Bedrywighede aangeneem weens kommer oor terrorisme. Maar die wet se onduidelike definisie van ekstremistiese bedrywighede het van die begin af kommer laat ontstaan dat Russiese beamptes die wet verkeerdelik kon toepas en dit as ’n instrument vir onderdrukking kon gebruik. In 2003 het die VN se Menseregtekomitee Rusland aangespoor om die wet te wysig en ekstremistiese bedrywighede beter te omskryf sodat “enige moontlikheid van eiemagtige toepassing uitgeskakel kan word”. *

In plaas daarvan om die wet duideliker te maak, het latere hersienings die toepassing daarvan verbreed. In 2012 het die Parlementêre Vergadering van die Europese Raad gesê: “Ekstremisme is in die oorspronklike wet gedeeltelik beskryf as ‘aanhitsing van sosiale, nasionale, rasse- of godsdiensverdeeldheid wat met geweld gepaardgaan of geweld aanhits’. Die wysiging in 2006 het die uitdrukking ‘wat met geweld gepaardgaan of wat geweld aanhits’, verwyder. . . . Hierdie dubbelsinnige definisie van ‘ekstremisme’ maak dit vir wetstoepassingsinstansies moontlik om die wet eiemagtig toe te pas.”

Die vrese dat die wet misbruik sou word, was geldig. In 2007 het die kantoor van die hoofaanklaer die bewoording van die wet gebruik om Jehovah se Getuies se bedrywighede te begin ondersoek. W.Ja. Grin, die verteenwoordiger van die hoofaanklaer—wat ook die onlangse waarskuwing aan die Administratiewe Sentrum onderteken het—het ’n amptelike brief uitgereik waarin aanklaers beveel word om die bedrywighede van Jehovah se Getuies te ondersoek. Hierdie brief was die eerste aanduiding dat die veldtog teen die Getuies regoor die land en vanaf ’n sentrale punt georganiseer sou word.

Hoewel die Getuies nie by kriminele bedrywighede betrokke raak nie, het aanklaers regoor Rusland sedert 2007 meer as 500 ondersoeke teen die Getuies begin. Dieselfde verslag van die Parlementêre Vergadering van die Europese Raad het gesê: “Die Federale Wet ‘op die teëwerking van ekstremistiese bedrywighede’ (Ekstremistiese Wetgewing), wat in 2002 aangeneem is, is verkeerdelik toegepas om die bedrywighede van sekere godsdienste teë te staan, veral dié van Jehovah se Getuies, wat ’n groot gemeenskap van 162 000 lede in Rusland het. Hierdie wantoepassing het dramaties toegeneem sedert die wysiging van die wet in 2006.” *

“Die Federale Wet ‘op die teëwerking van ekstremistiese bedrywighede’ . . . is verkeerdelik toegepas om die bedrywighede van sekere godsdienste teë te staan, veral dié van Jehovah se Getuies.”—Die Parlementêre Vergadering van die Europese Raad

Verbod op godsdienslektuur—’n Grondslag vir verdere onderdrukking

Voordat hulle hulle visier gestel het op die Administratiewe Sentrum, naby St. Petersburg, het die wetstoepassingsowerheid hulle aandag op die Getuies se godsdienspublikasies toegespits. Aanklaers in Taganrog en Gorno-Altaisk het klagtes by die hof ingedien en daarop aangedring dat talle publikasies van die Getuies as “ekstremisties” verklaar word en op die Federale Lys van Ekstremistiese Materiaal (FLEM) geplaas word.

In 2009 en 2010 het die howe in Taganrog en Gorno-Altaisk, op grond van sogenaamde deskundige navorsing, ’n beslissing ten gunste van die aanklaers bereik. Sedertdien het hierdie twee beslissings, wat altesaam 52 godsdienspublikasies verbied het, die grondslag gevorm van die meeste aanklagte teen die Getuies. Owerhede in ander dele van die land het die patroon van die hofsake in Taganrog en Gorno-Altaisk gevolg. Tot op hede is 87 van die Getuies se publikasies deur die howe op die FLEM geplaas.

Die Getuies betwis die Taganrog en Gorno-Altaisk beslissings, sowel as al die ander hofbeslissings in Russiese howe wat hulle publikasies as ekstremisties verklaar. Hulle het 28 aansoeke by die Europese Hof van Menseregte (EHMR) ingedien om aanklagte van ekstremisme en verwante onderdrukking aan te spreek. Daar word verwag dat die EHMR binnekort op 22 van hierdie beslissings ’n uitspraak sal lewer. Die Russiese regering het ter verdediging aan die EHMR erken dat talle van die Getuies se publikasies op die FLEM nie “direk aandring op geweld of geweld aanhits” nie.

’n Aanval op vryheid van spraak

Nadat die Russiese owerheid daarin geslaag het om lektuur as “ekstremisties” te verklaar, het hulle die “wetlike” middele gehad om aanvalle teen die Getuies te loods en hulle reg op vryheid van spraak verder te beperk.

Die owerhede het nie net vryheid van spraak beperk nie, maar het ook die publikasies op die FLEM gebruik as ’n voorwendsel om ondersoeke teen die Getuies se plaaslike regsentiteite te loods en om individuele Getuies weens hulle godsdiensbedrywighede te vervolg.

’n Patroon van inspeksies en skuldigbevinding

Wanneer ’n publikasie op die FLEM geplaas word, word die massaverspreiding, die vervaardiging of die berging daarvan, met die doel om dit te versprei, verbied. Plaaslike owerhede het hierdie bepaling in die wet uitgebuit om hofbevele te kry om honderde huise van Getuies en hulle Koninkryksale te deursoek vir enige verbode godsdienslektuur.

Die klopjagte word dikwels aggressief uitgevoer en owerhede lê beslag op baie meer as wat deur die wet toegelaat word en soms word persoonlike items geneem sowel as alle godsdienslektuur, ongeag of dit op die FLEM verskyn of nie.

  • In Augustus 2010 is ’n godsdiensvergadering in Josjkar-Ola onderbreek deur ’n groep van ongeveer 30 beamptes van die polisie, die Federale Veiligheidsdiens (FSB) en die gewapende spesiale weermag. Die beamptes het party van die Getuies gegryp en hulle in ’n wurggreep en armklemposisie gehou. Hulle het ook die perseel deursoek en beslag gelê op persoonlike items, dokumente en lektuur.

  • In Julie 2012, in die Republiek van Karelië, het beamptes van die FSB ’n Getuie in die openbaar aangeval. Die beamptes het outomatiese wapens gehad en skimaskers gedra. Hulle het die Getuie op sy motor se enjinkap gestoot en sy arms agter sy rug gedraai. Die beamptes het die huise van verskeie Getuies deursoek en beslag gelê op persoonlike items en godsdienslektuur, ongeag of dit op die FLEM verskyn het of nie.

  • In Maart 2016 het die polisie in die Tataarse Republiek klopjagte uitgevoer op ’n Koninkryksaal en op etlike huise van die Getuies. Hulle het beslag gelê op rekenaartoerusting, persoonlike elektroniese tablette en godsdienslektuur.

Video wat toon hoe “bewyse” versteek word

Die wetstoepassingsowerheid het in die geheim video-opnames van Getuies in hulle eie huise en by hulle Koninkryksale gemaak. Hulle het die Getuies se telefoongesprekke afgeluister, hulle e-posse gemonitor en ander onwettige maniere gebruik om inligting te verkry. Sommige polisiebeamptes was so vasbeslote om hulle bewerings van ekstremisme te regverdig dat hulle selfs sover gegaan het om van die Getuies se verbode lektuur in Koninkryksale te versteek in ’n poging om valse bewyse teen hulle te vind. Gevolglik is daar kriminele of administratiewe klagtes teen talle Getuies gemaak.

Likwidasie lei tot kriminele aanklagte

Wetstoepassingsbeamptes het nie net klagtes teen individuele Getuies ingedien nie, maar hulle het ook die verbode lektuur wat hulle in die Koninkryksale versteek het, as “bewyse” gebruik om die Getuies se plaaslike godsdiensorganisasies (LROs) * te likwideer. Sodra ’n LRO weens “ekstremisme” gelikwideer word, lê die Staat beslag op die bates van die organisasie. Gevolglik verloor die plaaslike Getuies hulle plekke van aanbidding. Dit het reeds in Taganrog en in Samara gebeur. Owerhede in ander stede volg dieselfde patroon.

Jehovah se Getuies word in Taganrog, Rusland, verhoor

Nadat die LRO in Taganrog gelikwideer is, het die owerheid vergadering vir gebed en aanbidding op ’n onwettige manier gelyk gestel aan wanneer ’n verbode organisasie “voortgaan met onwettige bedrywighede”. Die owerheid in Taganrog het hierdie taktiek gebruik om 16 Getuies van Jehovah skuldig te bevind op kriminele aanklagte net omdat hulle vreedsaam bymekaargekom het vir aanbidding. Dit is dieselfde godsdiensvergaderinge wat regoor die wêreld deur Jehovah se Getuies gehou word. Dit is nou vir die eerste keer sedert die val van die Sowjetunie ’n misdaad as Jehovah se Getuies hulle aanbidding in Taganrog beoefen.

Waarskuwing aan Administratiewe Sentrum—’n Gevaarteken

Die perseel van die Administratiewe Sentrum

Indien beamptes die Sentrum likwideer, sal hulle dit sluit en die organisasie se bedrywighede regoor Rusland verbied. Net soos hulle medegelowiges in Taganrog, sal Jehovah se Getuies regoor die land moontlik krimineel vervolg word bloot omdat hulle Christelike vergaderinge bywoon en met ander oor hulle geloof praat. Jehovah se Getuies in Rusland kan hulle in ’n situasie bevind waar hulle vry is om te glo wat hulle wil, maar nie vry is om hulle godsdiens saam met ander te beoefen nie. *

Philip Brumley, hoofregsadviseur vir Jehovah se Getuies, het gesê: “Om Jehovah se Getuies saam met ekstremistiese groepe te klassifiseer en om hulle lektuur op ’n lys te sit saam met lektuur van gewelddadige terroriste, is in stryd met wat reg en regverdig is. Die Russiese owerheid het ’n wet verkeerdelik toegepas wat in stryd is met internasionale standaarde, die standaarde van die Raad van Europa, die VN se Verklaring van Menseregte en Rusland se eie grondwet. Hulle gebruik dit om vreedsame aanbidding te onderdruk en om die kern van die Getuies se bedrywighede in Rusland aan te val.”

Wasili Kalin, ’n verteenwoordiger van die Administratiewe Sentrum, het gesê: “Jehovah se Getuies beoefen hulle aanbidding sedert die 19de eeu in Rusland en het gedurende die Sowjettydperk hewige vervolging verduur. Die Staat het later erken dat ons slagoffers van onderdrukking was. Ons wil graag voortgaan om ons godsdiens vreedsaam in Rusland te beoefen. Die lasterlike beskuldigings van ‘ekstremisme’ teen ons word bloot gebruik om die godsdiensonverdraagsaamheid te verbloem van diegene wat nie met ons oortuigings saamstem nie. Ons is nie ekstremiste nie.”

Jehovah se Getuies hoop dat Rusland, net soos baie ander lande, hulle godsdiensvryheid sal beskerm. Hulle vra ook dat die kantoor van die hoofaanklaer sy aanval op die Administratiewe Sentrum sal beëindig en dat Rusland die menseregte van godsdiensminderheidsgroepe sal handhaaf. Die vraag is: Sal Rusland dit doen? Of sal dit Jehovah se Getuies weer onderdruk soos gedurende die Sowjet-era?

^ par. 4 “Slotopmerkings van die sewende periodieke verslag van die Russiese Federasie”, Verenigde Nasies se Menseregtekomitee, CCPR/C/RUS/CO/7, 28 April 2015, paragraaf 20.

^ par. 7 “Oorweging van verslae wat deur die Staat se Partye ingedien is onder Artikel 40 van die Verdrag, slotopmerkings van die Menseregtekomitee, Russiese Federasie,” VN se Menseregtekomitee, CCPR/CO/79/RUS, 1 Desember 2003, paragraaf 20.

^ par. 10 “Die nakoming van verpligtinge deur die Russiese Federasie”, Dok. 13018, Parlementêre Vergadering van die Europese Raad, van 14 September 2012, paragraaf 497.

^ par. 30 In Rusland kan godsdiensgroepe wat aan die wetlike standaarde voldoen, regsentiteite vorm wat “plaaslike godsdiensorganisasies” genoem word. Hierdie regsentiteite is nie verantwoordelik vir godsdiensbedrywighede regoor die land nie, maar word deur plaaslike gemeentelede gevorm in kleiner gebiede, soos in ’n stad of dorp. ’n Regsentiteit stel plaaslike aanbidders in staat om, onder andere, eiendom te huur of te koop.

^ par. 33 Dit is ’n skending van Artikel 28 van die Russiese Federasie se Grondwet, wat sê: “Elkeen het die reg op gewetensvryheid, godsdiensvryheid, met inbegrip van die reg om individueel of saam met ander aan enige godsdiens te behoort, of om aan geen godsdiens te behoort nie, om self godsdiensbeskouings of enige ander beskouings te kies, te hê en aan ander bekend te maak, asook om daarvolgens op te tree.”

^ par. 40 Die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van Pennsilvanië is ’n niewinsgewende korporasie wat hoofsaaklik internasionaal gebruik word om die bedrywighede van Jehovah se Getuies wêreldwyd te ondersteun. Dit is die kopiereghouer van die Getuies se publikasies.