Spring na inhoud

Die Wagtoring—Die tydskrif met die grootste sirkulasie in die wêreld

Die Wagtoring—Die tydskrif met die grootste sirkulasie in die wêreld

Die Wagtoring het die grootste sirkulasie van alle tydskrifte in die wêreld. Elke nommer het ’n oplaag van meer as 42 miljoen eksemplare. Die Ontwaak! het die tweede grootste sirkulasie, met ’n oplaag van 41 miljoen eksemplare per nommer. Albei tydskrifte word deur Jehovah se Getuies uitgegee en word in 236 lande versprei.

Hoe vergelyk ander publikasies hiermee? Volgens The Association of Magazine Media word die Amerikaanse tydskrif met die hoogste verkoopsyfer uitgegee deur AARP, ’n organisasie wie se teikengroep mense ouer as 50 jaar is. Hierdie tydskrif het ’n sirkulasie van oor die 22,4 miljoen. Duitsland se ADAC Motorwelt het ’n gemiddelde sirkulasie van byna 14 miljoen eksemplare, en die Chinese Gushi Hui (verhale) druk 5,4 miljoen eksemplare.

Wat koerante betref, het die Japannese Jomjoeri Sjimboen die grootste sirkulasie. Hierdie koerant se oplaag oorskry gereeld tienmiljoen eksemplare.

Die Getuies se publikasies blink ook uit wat vertaling betref. Die Wagtoring word in meer as 190 tale vertaal, en die Ontwaak! in meer as 80 tale. In vergelyking hiermee word die Reader’s Digest in 21 tale uitgegee, hoewel die inhoud van land tot land verskil.

In teenstelling met die ander tydskrifte wat hier gemeld word, word Die Wagtoring en Ontwaak! deur vrywillige bydraes gefinansier; dit bevat geen advertensies nie en het geen verkoopprys nie.

Die doel van Die Wagtoring is om Bybelleringe te verduidelik—veral wat die Skrif oor God se Koninkryk sê. Dit word sedert 1879 onafgebroke uitgegee. Die Ontwaak! handel oor algemene onderwerpe, soos die natuur en die wetenskap, met die doel om geloof in die Skepper op te bou. Dit vestig ook die aandag op hoe die Bybel van praktiese waarde in ons lewe kan wees.