Spring na inhoud

24 MEI 2023
LETLAND

Lettiese Nuwe Wêreld-vertaling uitgestal by boekeskou in Riga

Lettiese Nuwe Wêreld-vertaling uitgestal by boekeskou in Riga

Vroeg in Maart 2023 het meer as 21 000 mense die Lettiese boekeskou in Riga, Letland, bygewoon. Dit was die sewende keer dat ons broers en susters deelgeneem het aan die skou, en die eerste keer ná die begin van die COVID-19-pandemie. Hulle was opgewonde om die volledige Nuwe Wêreld-vertaling van die Bybel in Letties, wat in 2020 vrygestel is, vir mense aan te bied.

By die uitstalling is daar spesifiek aandag gegee aan God se naam, Jehovah. Besoekers was verbaas om te hoor dat die naam Jehovah in die eerste Lettiese vertaling van die Bybel, wat in 1689 uitgegee is, verskyn het. Hulle was ook verbaas toe daar vir hulle gewys is dat die Nuwe Wêreld-vertaling God se naam in meer as 7 000 plekke in die Bybel teruggesit het.

Sekere aspekte van die Nuwe Wêreld-vertaling het ook die aandag van party getrek. Een man wat in die uitgewersbedryf werk, het gesê dat die Bybel van hoë kwaliteit-materiaal gemaak is. Hy het gesê dat dit duidelik is dat die Bybel gemaak is om elke dag gebruik te word.

Nog ’n besoeker het gesê dat hy baie beïndruk was deur die moderne, maklike taal wat in die Nuwe Wêreld-vertaling gebruik is nadat hy ’n persoonlike kopie gekry het. Hy het verduidelik dat hy in die verlede die Bybel begin lees het, maar dan opgehou het omdat ander vertalings te moeilik was om te verstaan. Nou sien hy daarna uit om die Nuwe Wêreld-vertaling saam met sy dogter te lees. Aan die einde van die skou van drie dae was meer as 130 kopieë van die Nuwe Wêreld-vertaling in Letties versprei.

Ons broers en susters binne die stalletjie by die Lettiese boekeskou

Diegene wat aan die boekeskou deelgeneem het, was opgewonde om ander mense te help om meer oor die Bybel en sy Skrywer te leer. Een suster het opgewonde gesê: “Ek het nog nooit in net ’n paar dae so baie mense gehelp om te leer wat Jehovah se naam is nie!”

Daar is op die oomblik meer as 2 100 verkondigers in Letland. Ons is baie bly dat hulle saam met baie ander mense wat in God se Woord belangstel, nou baat vind by hierdie moderne vertaling en nader aan Jehovah kom. – Jakobus 1:17.