Spring na inhoud

30 JANUARIE 2017
COLOMBIA

Getuies ontvang toekennings van Gebaretaal-vertaalverenigings in Colombia

Getuies ontvang toekennings van Gebaretaal-vertaalverenigings in Colombia

’n Toekenning vir die Getuies se werk om die dowe gemeenskap in Colombia van Bybelgebaseerde gebaretaal-video’s te voorsien.

BOGOTA, Colombia—By ’n nasionale konferensie wat vanaf 7-9 Oktober 2016 gehou is, het Colombia se Nasionale Vereniging vir Gebaretaal-vertalers/tolke en -tolkgidse (ANISCOL) en twee streekverenigings ’n toekenning aan Jehovah se Getuies gegee vir hulle gebaretaal-video’s. Dit was die eerste nasionale konferensie in Colombia vir tolke en tolkgidse van gebaretaal wat mense wat blind sowel as doof is, op praktiese maniere help.

Die Getuies is na die konferensie uitgenooi om ’n toekenning te ontvang vir “hulle uitstekende werk in die produksie van godsdiensmateriaal en die positiewe uitwerking wat dit op die lewe van die dowe gemeenskap in Colombia het”. Ricardo Valencia López, een van die organiseerders van die geleentheid, is die president van die Vereniging van Tolke, Tolkgidse en Vertalers in Colombiaanse Gebaretaal in die Koffiestreek (ASINTEC). Hy sê dat Jehovah se Getuies genooi is omdat hulle “bygedra het tot die ontwikkeling van hierdie beroep deur goed voorbereide gebaretaal-video’s te vervaardig. Hulle werk dien as ’n voorbeeld van hoe vertaling gedoen moet word.”

Die Getuies se uitstekende aanbieding het daartoe gelei dat die komitee wat die geleentheid georganiseer het, hulle nog ’n toekenning gegee het.

By die konferensie het die Getuies ’n aanbieding gedoen en gepraat oor hulle ondervindinge as ’n vertaal- en tolkspan. Die komitee wat die konferensie georganiseer het, het die Getuies nog ’n toekenning gegee omdat hulle sulke positiewe terugvoering gekry het oor die Getuies se uitstekende aanbieding.

Cristian David Valencia is ’n grafiese en oudiovisuele ontwerper van Pereira en het die geleentheid bygewoon. Hy het gesê dat hy “verbaas was om te sien dat ’n godsdiensgemeenskap so ’n goeie opvoedingsprogram ontwerp het”, veral omdat die Getuies nie vir hulle werk betaal word nie.

Wilson Torres, ’n woordvoerder vir Jehovah se Getuies in Colombia, sê: “Ons voorsien al sedert die jaar 2000 gebaretaal-video’s aan plaaslike dowe gemeenskappe. Op ons webwerf is daar nou al meer as 400 video’s in Colombiaanse Gebaretaal vir grootmense, tieners en kinders. Ons sal aanhou om al ons lektuur, insluitende sulke gebaretaal-video’s wat op die Bybel gebaseer is, kosteloos te voorsien.”

Vertaalspanne van Jehovah se Getuies regoor die wêreld vervaardig en versprei video’s in 88 verskillende gebaretale. Jehovah se Getuies het ook die JW Library Sign Language-app vervaardig wat dit vir gebruikers maklik maak om gebaretaal-video’s van hulle amptelike webwerf, jw.org, af te laai, te organiseer en te speel.

Mediaverteenwoordigers:

Internasionaal: David A. Semonian, Office of Public Information, +1-845-524-3000

Colombia: Wilson Torres, +57-1-8911530

Suid-Afrika: Mzamo Goloda, +27 11-761-1000