Spring na inhoud

Hulp aan vlugtelinge in Sentraal-Europa

Hulp aan vlugtelinge in Sentraal-Europa

In onlangse jare het baie vlugtelinge uit Afrika, die Midde-Ooste en Suid-Asië na Europa toe gestroom. Om hulle te help, werk staatsinstansies en plaaslike vrywilligers hard om kos, behuising en mediese sorg aan hulle te voorsien.

Vlugtelinge het natuurlik meer as net fisiese hulp nodig. Baie van hulle het ook hoop en vertroosting nodig as gevolg van die traumatiese ondervindinge wat hulle deurgemaak het. Jehovah se Getuies in Sentraal-Europa probeer om vlugtelinge te help deur na hulle te luister en hulle te vertroos met behulp van die Bybel.

Vertroosting uit die Bybel

Sedert Augustus 2015 het Getuies uit meer as 300 gemeentes in Oostenryk en Duitsland ’n spesiale poging aangewend om vlugtelinge te vertroos. Hulle sê dat vlugtelinge dit veral geniet om te praat oor die Bybel se antwoorde op vrae soos die volgende:

Tussen Augustus en Oktober 2015 het plaaslike Getuies meer as vier ton Bybellektuur van die takkantoor in Sentraal-Europa bestel en dit gratis vir die vlugtelinge aangebied.

Die taalprobleem

Baie vlugtelinge praat net hulle moedertaal. Daarom gebruik die Getuies die webwerf jw.org, wat artikels en video’s in honderde tale bevat. Matthias en Petra, twee vrywilligers in Erfurt, Duitsland, sê: “Soms kommunikeer ons deur gebare te maak, na prentjies te wys of deur iets te teken.” Hulle gebruik ook JW Language, ’n app wat jou help om ’n ander taal te leer. Hierdie app help Getuies om die Bybel se boodskap aan vlugtelinge in hulle moedertaal te verduidelik. Ander Getuies gebruik die JW Library-app, wat in baie tale beskikbaar is, om tekste te lees en video’s te wys.

’n Oorweldigende reaksie

’n Getuiepaartjie uit Schweinfurt, Duitsland, vertel: “Skares het om ons saamgedrom. Binne twee en ’n half uur het vlugtelinge sowat 360 publikasies geneem. Baie van hulle het hulle kop geknik om dankie te sê.” Wolfgang, ’n vrywilliger in Diez, Duitsland, sê: “Die vlugtelinge is so bly dat iemand in hulle belangstel. Soms vra hulle vir lektuur in vyf of ses verskillende tale.”

Baie van hulle begin dadelik die publikasies lees, terwyl ander terugkom om die Getuies te bedank. Ilonca, ’n Getuie in Berlyn, Duitsland, vertel: “Twee jong mans het lektuur geneem. ’n Halfuur later het hulle vir ons brood gebring as ’n geskenk. Hulle het om verskoning gevra dat hulle niks anders vir ons kon gee om dankie te sê nie.”

“Dankie! Baie dankie!”

Welsynswerkers, amptenare en bure waardeer die Getuies se vrywillige werk. ’n Welsynswerker wat na omtrent 300 vlugtelinge omsien, het gesê: “Dankie! Baie dankie dat julle so besorg is oor die welsyn van uitlanders!” ’n Ander welsynswerker wat by ’n vlugtelingkamp werk, het gesê dat vlugtelinge se lewe op die oomblik net uit drie maaltye per dag bestaan. Daarom is dit goed dat die Getuies vir die vlugtelinge betekenisvolle leesstof in hulle eie taal gee.

Marion en haar man, Stefan, woon in Oostenryk. Hulle het die doel van hulle vrywillige werk aan twee polisiemanne wat op patrollie was, verduidelik. Die polisiemanne het hulle bedank en vir twee boeke gevra. Marion sê: “Die polisie het ons oor en oor vir ons werk bedank.”

’n Vrou in Oostenryk wat gereeld goedere aan ’n kamp skenk, het gesien dat die Getuies, ongeag van die weer, die vlugtelinge kom help het. Op ’n dag het sy vir hulle gesê: “Die vlugtelinge het beslis materiële hulp nodig. Maar wat hulle die meeste nodig het, is hoop. En dit is presies wat julle vir hulle gee.”