Spring na inhoud

Bybels in hulle moedertaal

Bybels in hulle moedertaal

Jehovah se Getuies versprei die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif aan almal wat dit wil lees.

Hoewel miljarde Bybels en tallose vertalings al deur verskillende Bybelgenootskappe gedruk is, verhinder armoede en godsdiensvooroordeel baie mense om ’n Bybel in hulle eie taal te bekom. Jehovah se Getuies bied dus die Nuwe Wêreld-vertaling aan in meer as 115 tale.

Kyk na ’n paar voorbeelde:

  • Rwanda: “Ons is baie arm”, verduidelik Silvestre en Venantie, wat vier kinders het, “en daarom kan ons nie vir elke lid van ons gesin ’n Bybel koop nie. Nou het elkeen van ons sy eie eksemplaar van die Nuwe Wêreld-vertaling in Kinyarwanda, en ons lees die Bybel elke dag saam.

    ’n Geestelike van die Anglikaanse Kerk in daardie land het gesê: “Dit is ’n Bybel wat ek kan verstaan. Dit is baie beter as al die ander Bybels wat ek al gelees het. Jehovah se Getuies stel werklik belang in mense!”

  • Demokratiese Republiek van die Kongo: Party kerke het geweier om Bybels in Lingala—een van die land se algemeenste tale—aan Jehovah se Getuies te verkoop.

    Geen wonder dan dat Kongolese Getuies die Nuwe Wêreld-vertaling in Lingala sedert die vrystelling daarvan gretig gebruik en versprei het nie. Trouens, toe die Nuwe Wêreld-vertaling by ’n streekbyeenkoms van Jehovah se Getuies vrygestel is, het dit soveel opgewondenheid veroorsaak dat polisiemanne wat by die stadion teenwoordig was, tougestaan het om hulle eie eksemplare te verkry.

  • Fidji: Bybels in Fidjiaans is so duur dat baie van Jehovah se Getuies in die verlede die Engelse Nuwe Wêreld-vertaling gebruik het. Maar in 2009 het Fidjiane die Nuwe Wêreld-vertaling van die Christelike Griekse Geskrifte (Nuwe Testament) in hulle moedertaal ontvang.

    Een man was so beïndruk met hoe duidelik die Fidjiaanse Nuwe Wêreld-vertaling is dat hy ’n eksemplaar wou hê. Maar plaaslike Getuies het verduidelik dat hy ten minste ’n maand sou moes wag voordat die volgende besending Bybels in sy dorp aankom. Die man was nie bereid om vir sy Bybel te wag nie en het ingestem om ’n ander Getuie, wat ’n Nuwe Wêreld-vertaling gehad het om vir hom te gee, meer as 35 kilometer daarvandaan te ontmoet. Die man het gesê: “Hierdie vertaling is baie beter as die een wat ons gewoonlik gebruik. Dis duidelik en maklik om te verstaan.”

  • Malawi: Nadat Davide saam met Jehovah se Getuies begin studeer het, het lede van ’n plaaslike Baptiste-organisasie in sy huis ingegaan en die Bybel teruggeneem wat hulle hom gegee het. Die vrystelling van die Nuwe Wêreld-vertaling in Chichewa was dus vir Davide ’n droom wat bewaarheid is. Aangesien Bybels in Malawi so duur is, het Davide gewonder hoe hy ooit weer een sou kon kry. Maar toe ’n eksemplaar van die Nuwe Wêreld-vertaling vir hom gegee is, het hy gesê: “Nou het ek ’n beter Bybel as wat ek voorheen gehad het!”

Toe die eerste deel van die Nuwe Wêreld-vertaling in Engels meer as 60 jaar gelede by ’n byeenkoms in die stad New York vrygestel is, is die gehoor aangespoor: “Lees dit deur. Bestudeer dit . . . Plaas dit in die hande van ander.” Om hierdie doelwit te bereik, het Jehovah se Getuies al meer as 175 miljoen eksemplare van die Nuwe Wêreld-vertaling uitgegee. Wat meer is, jy kan nou die Bybel aanlyn lees in meer as 50 tale.