Spring na inhoud

Gevangenes word gehelp om hulle lewe te verander

Gevangenes word gehelp om hulle lewe te verander

In Spanje word 68 tronke deur Jehovah se Getuies besoek, en ongeveer 600 gevangenes studeer die Bybel.

Een van die Getuies wat tronke besoek, is Miguel, wat 12 jaar in die tronk was voordat hy ’n Getuie geword het. Nou keer hy elke week terug tronk toe. Waarom? Sodat ander gehelp kan word om hulle lewe te verander net soos hy gehelp is.

Oor die afgelope agt jaar het Miguel die Bybel met baie gevangenes studeer. “Dis vir my lekker om gevangenes in my ou tronk te help”, sê hy. “Dit maak my werklik gelukkig wanneer ek hulle begeerte sien om die wêreld van misdaad agter te laat.”

Toe Miguel vier jaar oud was, het ’n dronk bestuurder sy pa doodgery. Sy weduweema moes toe lang ure werk om vir die gesin te sorg.

Toe het Miguel en sy ouer broer begin om stokkies te draai en by huise en motors in te breek. Teen die tyd dat Miguel 12 was, was hy ’n kleindief. Teen die tyd dat hy 15 was, het hy baie geld gemaak as ’n dwelmhandelaar. Maar sy verslawing aan heroïen en kokaïen het hom soveel gekos dat hy al hoe meer moes steel. Van 16 af was hy herhaaldelik in die tronk, en kort voor lank het hy ’n geharde misdadiger geword. “Ek was oortuig dat ek in die tronk of aan ’n oordosis sou sterf”, sê Miguel. “Ek het soos ’n vlieg in ’n spinnerak gevoel.”

Maar in 1994 het een van Miguel se vriende ’n Getuie gevra om ’n brief aan Miguel te skryf, wat toe in die tronk was. Uit daardie brief het Miguel geleer dat dit God se voorneme is om die Paradys op die aarde te herstel. Die skrywer het Miguel aangespoor om veranderinge in sy lewe aan te bring sodat hy die vervulling van daardie belofte kan geniet. “Sy woorde het my hart geraak”, sê Miguel. “Daardie dag was vir my ’n keerpunt, en ek het besluit om die Bybel te studeer, hoewel ek geweet het dat dit glad nie maklik sal wees nie.”

Miguel het dit geweet omdat hy aan dwelms en tabak verslaaf was. Al twee was vryelik beskikbaar. Sy selmaat het elke dag vir hom dwelms aangebied. Miguel het voortdurend gebid vir krag om sy verslawing te bowe te kom, en uiteindelik het hy dit reggekry.

Drie maande later het Miguel met ander gevangenes oor sy geloof begin praat. Die volgende jaar is hy vrygelaat en is hy as een van Jehovah se Getuies gedoop. Hy het ook beplan om te trou, maar toe het ’n probleem ontstaan. ’n Maand voor die troue het ’n hof Miguel tot nog tien jaar tronkstraf gevonnis weens etlike hangende sake. Maar hy is drie en ’n half jaar later vrygelaat weens goeie gedrag. Uiteindelik het die huwelik plaasgevind. Miguel het nooit teruggekeer na ’n lewe van misdaad nie.