Spring na inhoud

’n Getuienis word gegee langs die Xingu-rivier

’n Getuienis word gegee langs die Xingu-rivier

Vroeg in Julie 2013 het ’n groep van 28 Getuies van Jehovah in Brasilië die dorp São Félix do Xingu verlaat om na die gebied van die Cayapo- en Yuruna-Indiane te reis. Hulle het in ’n 15 meter lange rivierboot stroomop gevaar op die Xingu-rivier, wat 2 092 kilometer noordwaarts tot die Amasonerivier vloei.

Die groep het hierdie reis afgelê om vir die mense in dorpies langs die rivier oor God se Koninkryk te preek. Op die derde dag het die groep die dorpie Kokraimoro bereik. Die besoekers is deur vriendelike, gasvrye mense verwelkom. ’n Vrou wat hulle ontmoet het, het wild met haar hande beduie. Die plaaslike gids wat saam op die reis gegaan het, het verduidelik wat sy probeer sê: “Haar gebare beteken: ‘Kom, julle almal. Ons wil julle almal leer ken!’ ”

Die Getuies het met almal gepraat—met party in Portugees en met ander deur middel van tekens en gebare. Die kleurvolle prente in die Bybelpublikasies wat hulle saamgeneem het, het gehelp, en baie dorpsbewoners het lektuur aanvaar, veral die brosjure met die titel Listen to God.

Gerson, ’n spesiale pionier in São Félix do Xingu, het vertel hoe ’n dorpsbewoner gereageer het toe hy die publikasie My boek met Bybelverhale ontvang het: “Hy het daarna gekyk en dit met albei hande styf vasgehou; hy wou dit nie eens vir ’n oomblik neersit nie.”

Jehovah se Getuies het ongeveer 500 boeke, tydskrifte en brosjures by dankbare dorpsbewoners langs die rivier gelaat. In Kawatire het die dorpsbewoners met groot belangstelling na die Bybel se belofte van ’n aardse paradys geluister. “Die mense in die Paradys sal lewe soos ons lewe”, het Tonjaikwa, ’n gasvrye Cayapo-Indiaan, gespekuleer.

Baie mense in die dorp São Félix do Xingu het geweet van die reis. Simone, een van dié wat saamgegaan het, het gesê dat party mense van haar tuisdorp getwyfel het of sy en haar metgeselle in die dorpies toegelaat sou word. Maar daar was geen probleem nie. “Ons is verwelkom”, het Simone gesê, “en ons het vir almal gepreek.”