Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hulle het hulle gewillig aangebied—in Brasilië

Hulle het hulle gewillig aangebied—in Brasilië

’N PAAR jaar gelede het Rúbia (1), ’n suster wat nou 30 jaar oud is, gaan kuier by Sandra (2), ’n pionier wat in ’n klein gemeente in die suide van Brasilië dien. Gedurende die besoek het iets gebeur wat so ’n groot indruk op Rúbia gemaak het dat dit haar hele lewe verander het. Wat was dit? Kom ons hoor by Rúbia.

“EK KON MY ORE NIE GLO NIE”

“Sandra het my saamgeneem om ’n vrou te besoek met wie sy die Bybel studeer. Gedurende die studie het die vrou terloops gesê: ‘Sandra, drie meisies by die werk wil die Bybel studeer, maar ek het vir hulle gesê dat hulle hulle beurt sal moet afwag. Ek weet dat jy vir die res van die jaar vol bespreek is.’ Ek kon my ore nie glo nie. Mense wat Jehovah wou leer ken, moes op ’n waglys geplaas word! In  my tuisgemeente was dit vir my moeilik om selfs net een studie te vind. Op daardie oomblik, in die huis van daardie Bybelstudent, het ek ’n innige begeerte gehad om die mense in haar dorpie te help. Kort daarna het ek getrek uit die groot stad waar ek gewoon het, na die dorpie waar Sandra gepionier het.”

Hoe het dinge vir Rúbia verloop? Sy vertel: “Binne die eerste twee maande nadat ek daarheen getrek het, het ek 15 Bybelstudies gehou en—verbasend genoeg—ná ’n rukkie het ek, soos Sandra, ook ’n waglys gehad!”

BEWEEG OM SY BEDIENING WEER IN OËNSKOU TE NEEM

Diego (3), ’n broer wat nou in sy vroeë 20’s is, het ’n paar pioniers besoek wat dien in Prudentópolis, ’n klein dorpie in die suide van Brasilië. Die besoek het ’n groot indruk op hom gemaak; trouens, hy is beweeg om sy bediening weer in oënskou te neem. Hy verduidelik: “Ek het my nie juis ingespan in my gemeente nie en het elke maand maar net ’n paar uur velddiens gedoen. Maar toe ek daardie pioniers besoek het en na hulle ondervindinge geluister het, kon ek nie anders as om hulle vreugdevolle gesindheid met my eie traak-my-nie-agtige houding teenoor die bediening te vergelyk nie. Toe ek sien hoe gelukkig en opgewonde hulle is, het ek gewens dat my lewe ook so sinvol soos hulle s’n kan wees.” Ná hierdie besoek het Diego begin pionier.

Is jy, soos Diego, ’n jong Getuie wat aan die predikingswerk deelneem en Christelike vergaderinge bywoon maar terselfdertyd voel dat die bediening ietwat meganies, selfs vervelig, geword het? Kan jy dan veranderinge in jou lewe aanbring sodat jy die vreugde kan smaak wat dit meebring om te dien waar meer Koninkryksverkondigers nodig is? Dit is te verstane dat dit dalk vir jou oorweldigend lyk om ’n gerieflike lewenswyse prys te gee. Baie jongmense het nogtans gekies om juis dit te doen. Hulle het die uitdaging aanvaar om hulle persoonlike doelwitte en begeertes aan te pas om Jehovah in groter mate te dien. Kom ons kyk ook na die voorbeeld van Bruno.

MAESTRO OF BEDIENAAR?

’n Paar jaar gelede het Bruno (4), wat nou 28 jaar oud is, aan ’n bekende musiekskool gestudeer, en sy doelwit  was om ’n dirigent te word. Trouens, hy het so goed in sy studies gevorder dat hy by etlike geleenthede genooi is om ’n simfonieorkes te dirigeer. ’n Belowende loopbaan het op hom gewag. “Nogtans het ek gevoel dat daar iets in my lewe kortkom”, vertel Bruno. “Ek het my aan Jehovah toegewy, maar ek het geweet dat ek hom nie my beste gee nie, en dit het my gepla. Ek het vir Jehovah in gebed gesê hoe ek voel, en ek het ook met ervare broers in die gemeente gepraat. Ná ernstige oorweging het ek besluit om my bediening bo my musiek te stel. Ek het die musiekskool verlaat en die uitdaging aanvaar om te dien in ’n gebied waar daar meer Koninkrykspredikers nodig was.” Wat het toe gebeur?

Bruno het getrek na die dorp Guapiara (met ’n bevolking van omtrent 7 000), wat ongeveer 260 kilometer van die stad São Paulo is. Dit was ’n groot verandering. Hy vertel: “Ek het in ’n klein huisie ingetrek wat nie ’n yskas, TV of Internetverbinding gehad het nie. Maar die huisie het ’n paar dinge gehad wat ek nooit voorheen gehad het nie—’n groentetuin en ’n vrugteboord!” Terwyl Bruno daar in ’n klein gemeente gedien het, het hy een keer per week kos, water en lektuur in sy sak gepak en per motorfiets op die platteland gaan preek. Baie mense in hierdie gebied het nooit tevore die goeie nuus gehoor nie. “Ek het tot 18 Bybelstudies gehou”, vertel hy. “Dit het my soveel vreugde verskaf om te sien hoe hierdie studente veranderinge in hulle lewe aanbring!” Hy voeg by: “Toe het ek besef dat ek gevind het wat in my lewe kortgekom het—die diepe tevredenheid wat dit meebring wanneer ’n mens Koninkryksbelange eerste in jou lewe stel. Ek sou dit nooit ervaar het as ek materialistiese doelwitte nagejaag het nie.” En hoe het Bruno hom in Guapiara onderhou? Met ’n glimlag sê hy: “Deur kitaarlesse te gee.” Hy is nog steeds ’n maestro—in sekere sin.

“EK MOES EENVOUDIG BLY”

Mariana (5), wat nou in haar laat 20’s is, het haar in ’n soortgelyke situasie as Bruno bevind. Sy het as ’n regsgeleerde gewerk, maar ondanks haar goed betaalde beroep het sy nie werklik vergenoeg gevoel nie. Sy sê: “Ek het gevoel asof dit ‘’n gejaag na wind’ is” (Pred. 1:17). ’n Hele paar broers en susters het haar aangespoor om die pionierdiens te oorweeg. Nadat Mariana  daaroor nagedink het, het sy en haar vriendinne Bianca (6), Caroline (7) en Juliana (8) besluit om te gaan help in ’n gemeente in Barra do Bugres, ’n afgeleë dorp naby Bolivia, duisende kilometer van die huis af. Wat het daarna gebeur?

Mariana sê: “Ek was van plan om drie maande daar te bly. Maar teen die einde van hierdie tydperk het ek 15 Bybelstudies gehou! Hierdie studente het natuurlik nog baie hulp nodig gehad om in die waarheid te vorder. Daarom kon ek dit nie oor my hart kry om vir hulle te sê dat ek moet gaan nie. Ek moes eenvoudig bly.” En dit is presies wat al vier susters gedoen het. Het Mariana se nuwe loopbaan tot ’n sinvoller lewe gelei? Sy sê: “Dit laat my goed voel dat Jehovah my gebruik om mense te help om hulle lewe te verbeter. Dit is vir my ’n seën om te weet dat ek nou my tyd en energie gebruik om iets te doen wat werklik die moeite werd is.” Caroline som die gevoelens van die vier susters op en sê: “Wanneer ek saans gaan slaap, ervaar ek diepe tevredenheid omdat ek my ingespan het om Koninkryksbelange na te streef. Ek spits my daarop toe om my Bybelstudente te help. Dit is wonderlik om te sien hoe hulle vorder. Ek sien hoe waar die woorde is: ‘Smaak en sien dat Jehovah goed is.’”—Ps. 34:8.

Hoe bly moet Jehovah tog wees om regoor die wêreld ’n immer toenemende aantal jong broers en susters te sien wat “hulle gewillig aanbied” om die goeie nuus van sy Koninkryk in afgeleë gebiede te verkondig! (Ps. 110:3; Spr. 27:11). En al hierdie gewillige werkers ondervind Jehovah se ryk seën.—Spr. 10:22.