Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE CHRISTELIKE LEWENSWYSE

Liefde vir God en ons naaste — Hoe om dit aan te leer

Liefde vir God en ons naaste — Hoe om dit aan te leer

Al is die Mosaïese Wet nie meer op Christene van toepassing nie, wys die twee grootse gebooie — om God en ons naaste lief te hê — nog steeds wat Jehovah van ons verwag (Mt 22:37-39). ’n Mens word nie met hierdie liefde gebore nie. Hierdie liefde moet aangeleer word. Hoe? Een belangrike manier is om elke dag die Bybel te lees. As ons aan die verskillende aspekte van God se persoonlikheid in die Bybel dink, sien ons “die lieflikheid van Jehovah” (Ps 27:4). Dan sal ons liefde vir hom groei en sal ons soos hy begin dink. Dit motiveer ons om God se gebooie te gehoorsaam, onder andere die gebod om selfopofferende liefde aan ander te bewys (Joh 13:34, 35; 1Jo 5:3). Hier is drie maniere wat jou sal help om jou Bybellees meer te geniet:

  • Gebruik jou verbeelding en leef jou in die gebeure in. Verbeel jou dat jy daar is. Wat sal jy sien, hoor en ruik? Hoe voel die mense oor wie jy lees?

  • Gebruik verskillende maniere. Hier is ’n paar opsies: Lees hardop of volg saam terwyl jy na ’n oudio-opname luister. Lees oor verskillende Bybelkarakters of -onderwerpe in plaas daarvan om net die een hoofstuk na die ander te lees. Gebruik byvoorbeeld Aanhangsel 4 of 16 in ’n Studiegids vir God se Woord om oor Jesus te lees. Lees die hele hoofstuk waaruit die dagteks geneem is. Lees die Bybelboeke in die volgorde waarin dit geskryf is.

  • Lees om te verstaan. Dit is beter om elke dag een hoofstuk te lees, daaroor na te dink en seker te maak dat jy dit verstaan as om baie hoofstukke op ’n slag te lees en niks in te neem nie. Kry die agtergrond. Analiseer die omstandighede. Gebruik kaarte en kruisverwysings. Doen navorsing oor ten minste een punt wat jy nie verstaan nie. As dit moontlik is, moet jy omtrent net soveel tyd gebruik om daaroor te peins as wat dit jou geneem het om dit te lees.