Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LEWENSVERHAAL

’n Erfenis wat oor sewe geslagte strek

’n Erfenis wat oor sewe geslagte strek

Mense sê dat ek baie soos my pa is. Ek het my oë, my sin vir humor en my liggaamshouding by hom geërf. Maar hy het ook iets anders aan my oorgedra—’n erfenis wat deur sewe geslagte van ons familie gekoester is. Kom ek verduidelik.

Ek en my pa leer omtrent ons familie-erfenis

Een van my voorouers, Thomas(1) a Williams, is op 20 Januarie 1815 in Horncastle, Engeland, gebore. Sy ma is twee jaar later oorlede, en hy, sy suster en sy twee broers is dus deur hulle pa, John Williams, grootgemaak. John het Thomas as ’n timmerman opgelei, maar Thomas wou ’n ander loopbaan nastreef.

Op daardie stadium het Engeland ’n godsdiensherlewing deurgemaak. Die predikant John Wesley het van die Anglikaanse Kerk weggebreek en die Genootskap van Metodiste gevorm, ’n groep wat die klem op persoonlike Bybelstudie en evangelisasie geplaas het. Wesley se leringe het soos ’n veldbrand versprei, en die Williams-gesin het dit heelhartig aangeneem. Thomas het ’n Wesleyaanse prediker geword en onmiddellik vrywillig as ’n sendeling op die eilande van die Stille Suidsee gaan dien. In Julie 1840 het hy en sy vrou, Mary, (2) voet aan wal gesit by Lakeba-eiland, b Fidji, ’n vulkaniese eiland wat destyds deur kannibale bewoon is.

DIE LEWE TUSSEN KANNIBALE

Gedurende hulle vroeë jare in Fidji het Thomas en Mary baie moeilike tye deurgemaak. Hulle het ure lank harde werk gedoen onder primitiewe toestande en in tropiese hitte. Hulle het ook onbeskryflike gruweldade teëgekom—stamoorlog, weduwees wat verwurg word, kindermoord en kannibalisme—en oor die algemeen het die plaaslike mense hulle boodskap verwerp. Mary en haar eersgebore seun, John, het siek geword en is byna dood. In 1843 het Thomas geskryf dat hy oorweldig gevoel het en desperaat was. Maar hy en Mary het krag geput uit hulle geloof in Jehovah God en kon sodoende volhard.

Intussen het Thomas goed gebruik gemaak van sy vaardighede as ’n timmerman deur die eerste huis in die Europese styl in Fidji te bou. Die huis het ’n geventileerde, verhewe vloer en ander nuwe elemente gehad wat die plaaslike Fidjiane baie nuuskierig gemaak het. Net voordat die huis voltooi is, het Mary geboorte gegee aan haar tweede seun, Thomas Whitton (3) Williams, nog een van my voorouers.

In 1843 het Thomas senior gehelp om die Evangelie van Johannes in Fidjiaans te vertaal, ’n taak wat vir hom ’n groot uitdaging was. c Hy was egter ’n begaafde antropoloog met uitstekende waarnemingsvermoëns. Hy het sy navorsing sorgvuldig opgeteken in sy boek, Fiji and the Fijians (1858), ’n klassieke verslag van die lewe in Fidji in die 19de eeu.

As gevolg van die moeilike 13 jaar wat Thomas in Fidji deurgebring het, het sy gesondheid uiteindelik ingegee, en hy en sy gesin het na Australië getrek. Thomas het in 1891 in Ballarat, Victoria, gesterf, ná ’n lang en voortreflike loopbaan as ’n sendeling.

“GOUD” IN DIE WESTE

In 1883 het Thomas Whitton Williams en sy vrou, Phoebe, (4) saam met hulle jong gesin na Perth, Wes-Australië, getrek. Hulle tweede oudste kind, Arthur Bakewell (5) Williams, van wie ons familie afstam, was nege jaar oud.

Toe Arthur 22 jaar oud was, het hy sy fortuin gaan soek in Kalgoorlie, ’n gouddorp sowat 600 kilometer oos van Perth wat byna oornag ontstaan het. Daar het hy lektuur gelees wat uitgegee is deur die Internasionale Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het. Hy het ook ingeteken op Zion’s Watch Tower. Arthur is gefassineer deur wat hy gelees het, en hy het sy nuutgevonde kennis met ander begin deel en vergaderinge vir Bybelstudie begin hou. Dít was die nederige begin van die hedendaagse bedrywighede van Jehovah se Getuies in Wes-Australië.

Arthur het ook sy familie vertel van wat hy geleer het. Sy pa, Thomas Whitton, het Arthur se assosiasie met die Bybelstudente ondersteun, maar hy het kort daarna gesterf. Sy ma, Phoebe, en sy susters, Violet en Mary, het ook Bybelstudente geword. Violet het ’n voltydse evangeliedienaar, of pionier, geword. Arthur het gesê dat sy “die beste, ywerigste en opregste pionier in Wes-Australië” is. Hy het dit dalk gesê omdat Violet sy suster is, maar haar ywerige voorbeeld het ’n groot invloed op die volgende Williams-geslag gehad.

Ná verloop van tyd het Arthur getrou en na Donnybrook getrek, ’n dorpie omring deur vrugteplase in die suidweste van Wes-Australië. Daar het mense hom “Ou Mal 1914” genoem as gevolg van sy ywerige verkondiging van Bybelprofesieë wat na daardie jaar wys. d Die spottery het opgehou toe die Eerste Wêreldoorlog uitgebreek het. Arthur het ook gereeld vir klante in sy winkel getuig, waar hy Bybellektuur in die venster uitgestal het. In die venster was daar ook ’n bordjie wat 100 pond aangebied het aan enigiemand wat die Drie-eenheid kon bewys—’n onskriftuurlike lering wat Arthur heeltemal verwerp het. Niemand het ooit die geld gekry nie.

In Donnybrook het Bybelstudiegroepe in die Williams-huis bymekaargekom, en die gemeentelike vergaderinge is ook daar gehou. Later het Arthur ’n Koninkryksaal, of vergaderplek, in die dorp gebou—een van die eerste Koninkryksale in Wes-Australië. Toe hy al diep in sy 70’s was, het hy gereeld ’n pak en ’n das aangetrek, sy perd met die naam Doll opgesaal en wyd en syd deur die distrik van Donnybrook gaan preek.

Arthur se voorbeeld as ’n ywerige verkondiger en ’n stil en waardige man het ’n groot uitwerking op sy kinders gehad. Sy dogter Florence (6) het as ’n sendeling in Indië gedien. En soos hulle pa, het sy seuns, Arthur Lindsay (7) en Thomas, lank as gemeentelike ouer manne gedien.

DIE SOET LADY WILLIAMS

Arthur Lindsay Williams, my oupagrootjie, was bekend en geliefd weens sy goedhartigheid. Hy het altyd tyd gehad vir mense en het hulle met respek behandel. Hy was ook ’n kampioenhoutkapper, wat in 12 jaar 18 streekswedstryde vir houtkappery gewen het.

Arthur was glad nie beïndruk met sy tweejarige seun, Ronald (8) (my oupa), toe hy ’n klein appelboom langs die gesinshuis met ’n byl gekap het nie. Ronald se ma het die kapplekke op die boom versigtig met verbande toegedraai, en uiteindelik het dit appels gedra wat buitengewoon soet was. Dit is die Lady Williams-appel genoem, ’n nuwe soort appel wat later gebruik is om die Cripps Pink-appel te kweek, wat een van die wêreld se gewildste appelsoorte is.

Ronald, my oupa, het homself later op meer konstruktiewe maniere besig gehou. Hy en my ouma het jare lank as vrywilligers gewerk aan bouprojekte van die Getuies in Australië en die Salomonseilande. My oupa, wat nou byna 80 jaar oud is, dien nog steeds as ’n gemeentelike ouer man en help om Koninkryksale in Wes-Australië te bou en op te knap.

EK WAARDEER MY ERFENIS

My ouers, Geoffrey (9) en Janice (10) Williams, het in die voetspore van hulle voorouers gevolg en het hard probeer om my en my suster, Katharine, (11) groot te maak om Christelike beginsels te waardeer. Op die ouderdom van 13 het ek (12) daardie waardes my eie gemaak. Toe ek eenkeer ’n Christenbyeenkoms bygewoon het, het John E. Barr, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, die jongmense in die gehoor aangespoor: “Moenie die kosbaarste ding wat jy het—die geleentheid om Jehovah te leer ken en lief te hê—deur jou vingers laat glip nie.” Daardie aand het ek my lewe aan Jehovah toegewy. Twee jaar later het ek begin pionier.

Vandag geniet ek dit om voltyds te preek saam met my vrou, Chloe, in Tom Price, ’n afgesonderde myndorp in die noordweste van Wes-Australië. Ons werk deeltyds om in ons behoeftes te voorsien. My ouers en my suster, Katharine, en haar man, Andrew, pionier in Port Hedland, ongeveer 420 kilometer noord van ons. Ek en my pa dien ook as gemeentelike ouer manne.

Sewe geslagte gelede het my voorvader Thomas Williams besluit om Jehovah God te dien. Daardie erfenis van geloof en diens is aan my oorgedra. Ek voel waarlik geseënd om so ’n ryk geestelike erfenis te hê.

a Die syfer stem ooreen met die persoon in die prente op bladsy 12 en 13.

b Dit is voorheen Lakemba-eiland genoem en is geleë in die Lau-eilandgroep, in die oostelike deel van Fidji.

c Die sendeling John Hunt het die grootste deel van die Fidjiaanse Nuwe Testament vertaal, wat in 1847 gepubliseer is. Die vertaling is merkwaardig, want dit gebruik die goddelike naam, “Jiova”.

d Sien die deel in die aanhangsel “1914—’n Betekenisvolle jaar in Bybelprofesie” in die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies en aanlyn beskikbaar op www.jw.org/af.