Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Leer jou kinders

Hy was koppig maar het uiteindelik geluister

Hy was koppig maar het uiteindelik geluister

HET jy al ooit geweier om te luister omdat jy koppig was? * Miskien het jy na ’n TV-program gekyk wat jou ma of pa gesê het jy nie na mag kyk nie. Jy het dalk later daaraan gedink en was jammer dat jy ongehoorsaam was. Iemand wat eers geweier het om gehoorsaam te wees, was Naäman. Kom ons kyk hoe hy gehelp is om nie meer koppig te wees nie.

Stel jou voor dat ons meer as 3 000 jaar gelede lewe. Naäman is ’n belangrike Siriese leërowerste. Hy is gewoond daaraan om vir sy soldate te sê wat om te doen, en hulle gehoorsaam hom. Maar Naäman kry ’n verskriklike velsiekte wat melaatsheid genoem word. Dit laat hom baie lelik lyk en is waarskynlik ook baie seer.

Naäman se vrou het ’n jong diensmeisie van Israel. Eendag vertel die meisie vir haar meesteres van ’n man in haar tuisland met die naam Elisa. Sy sê dat hy Naäman gesond kan maak. Wanneer Naäman hiervan hoor, wil hy dadelik na Elisa gaan. Hy neem baie geskenke en reis saam met sy soldate na Israel. Hy gaan na die koning van Israel om vir hom te sê waarom hy daar is.

Elisa kom hiervan te hore en stuur ’n boodskap na die koning dat hy Naäman na hom toe moet stuur. Wanneer Naäman by Elisa se huis aankom, stuur Elisa eenvoudig ’n boodskapper na Naäman om vir hom te sê dat hy sewe keer in die Jordaanrivier moet bad. Elisa sê dat Naäman gesond sal word as hy dit doen. Hoe dink jy voel Naäman hieroor?

Hy is kwaad. Hy weier dus koppig om God se profeet te gehoorsaam. Hy sê vir sy soldate: ‘Daar is beter riviere in ons land waarin ek kan bad.’ Naäman besluit om huis toe te gaan. Maar weet jy wat sy soldate vir hom vra?— ‘As die profeet u gevra het om iets moeiliks te doen, sou u dit nie gedoen het nie? Waarom gehoorsaam u hom dan nie wanneer hy u iets makliks vra om te doen nie?’

Naäman luister en doen wat sy soldate sê. Ses keer gaan hy in en uit die rivier. Wanneer hy ’n sewende keer uit die water kom, is Naäman verstom—sy velsiekte is genees! Hy is weer gesond! Hy gaan dadelik terug na Elisa se huis ongeveer 48 kilometer daarvandaan om vir hom dankie te sê. Hy wil vir Elisa duur geskenke gee, maar die profeet weier om enigiets te neem.

Naäman vra dus vir Elisa iets. Weet jy wat dit is?— ‘Laat my toe om grond, die vrag van twee muile, huis toe te neem.’ Weet jy waarom hy dit wil hê?— Naäman sê dat hy offerandes aan God wil bring op grond wat uit die land van God se volk, Israel, kom. Naäman belowe dan dat hy nooit weer ’n ander god behalwe Jehovah sal aanbid nie! Hy is nie meer koppig nie en is bereid om die ware God te gehoorsaam.

Kan jy sien hoe jy soos Naäman kan wees?— As jy ooit so koppig soos hy is, kan jy verander. Jy kan hulp aanvaar en nie meer koppig wees nie.

Lees in jou Bybel

^ par. 3 As jy saam met ’n kind lees, dien die aandagstreep as ’n herinnering om te pouseer en die kind aan te moedig om sy gedagtes uit te spreek.