Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Is die Bybel se raad vandag nog prakties?

Is die Bybel se raad vandag nog prakties?

PARTY SÊ NEE. ’n Dokter het gesê dat om die raad in die Bybel te volg dieselfde is as om ’n handboek uit die 1920’s in ’n wetenskapklas te gebruik. Iemand wat glad nie respek vir die Bybel het nie, sal jou dalk vra of jy ’n handboek vir ’n stokou rekenaar sou gebruik as jy wil uitvind hoe ’n splinternuwe rekenaar werk. Met ander woorde party mense dink dat die Bybel hopeloos te oud is.

Hoekom sal enigiemand die raad in so ’n ou boek volg in vandag se moderne wêreld met al sy tegnologie? Daar is in elk geval baie webwerwe en blogs waar jy die nuutste raad kan kry. Daar word aanhoudend onderhoude met sielkundiges, ghoeroes en skrywers op TV-programme gevoer wat raad gee oor hoe jy moet lewe. En boekwinkels maak hope geld deur die een selfhelpboek ná die ander te verkoop, en dit hou ’n multimiljoenrand-bedryf aan die gang.

Waarom sal jy die Bybel, wat omtrent 2 000 jaar gelede voltooi is, gebruik as jy elke minuut van die dag die nuutste inligting kan kry? Is mense nie dalk reg wanneer hulle sê dat om so ’n ou boek te gebruik dieselfde is as om ’n ou wetenskap- of rekenaarhandboek te gebruik nie? Nee, want eintlik is dit nie ’n goeie vergelyking nie. Die wetenskap en tegnologie verander die heeltyd, maar die basiese dinge wat mense nodig het, het nie verander nie. Mense probeer nog steeds om ’n doel in die lewe te vind. Hulle wil ook graag gelukkig en veilig wees en gelukkige gesinne en goeie vriende hê.

Al is die Bybel baie oud, gee dit raad oor hierdie dinge en nog meer. Dit sê ook dat dit deur ons Skepper geïnspireer is. Dit gee ons raad op alle gebiede van die lewe en help ons om reg te wees vir enige groot uitdaging (2 Timoteus 3:16, 17). Nog belangriker, die Bybel sê dat die raad daarin altyd prakties is — dit word nooit oud nie! Dit sê duidelik: “Die woord van God is lewend.” — Hebreërs 4:12.

Kan die dinge wat die Bybel sê, regtig waar wees? Is dit outyds of is dit eerder die mees praktiese boek ooit, in werklikheid ’n lewende boek? Die doel van hierdie uitgawe van Die Wagtoring, die eerste in ’n spesiale reeks, is om jou te help om antwoorde op hierdie vrae te kry.