Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die Bybel en jou toekoms

Die Bybel en jou toekoms

STEL JOU VOOR dat jy laat een aand op ’n donker paadjie loop. Al het die son lankal gesak, voel jy nie heeltemal verlore nie, want jy het ’n sterk flitslig in jou hand. Wanneer jy die flitslig voor jou op die grond skyn, kan jy duidelik sien wat reg voor jou is. Wanneer jy dit vorentoe skyn, verlig die helder straal van die flitslig jou pad tot in die verte.

Op ’n manier is die Bybel soos daardie flitslig. Soos ons in die vorige artikels gesien het, kan God se Woord ons help met wat reg voor ons is — die probleme waarmee ons elke dag sukkel in hierdie wêreld wat so onseker is. Maar die Bybel doen meer as dit. Dit gee ons ook ’n helder prentjie van die toekoms wat ons help om ’n lewenspad te volg wat ons gelukkig en tevrede sal maak (Psalm 119:105). Hoe doen die Bybel dit?

Kom ons kyk na twee maniere waarop die Bybel ons ’n hoop vir die toekoms gee wat prakties is: 1 Dit help ons om ’n doel in die lewe te hê, en 2 dit leer ons hoe om ’n ewige vriendskap met ons Skepper op te bou.

1 ’N DOEL IN DIE LEWE

Die Bybel gee ons goeie raad oor hoe ons ons probleme kan hanteer, maar dit is baie meer as net ’n selfhelpboek. Die Bybel leer ons om onsself as deel van ’n groter prentjie te sien eerder as om op ons eie probleme te fokus. Ons lewe kan net ware betekenis hê as ons dit doen.

Kyk byvoorbeeld na hierdie Bybelwaarheid: “Dit verskaf groter geluk om te gee as om te ontvang” (Handelinge 20:35). Het jy al ooit iemand gehelp wat iets nodig gehad het? Of het jy dalk mooi geluister toe ’n vriend sy hart uitgepraat het? Was dit nie vir jou lekker toe jy iemand anders beter laat voel het nie?

Dit maak ons baie gelukkig wanneer ons gee sonder om iets terug te verwag. ’n Skrywer het gesê: “Dit is amper onmoontlik om van jouself te gee sonder dat jy meer terugkry as wat jy gegee het — maar dan moet jy gee sonder om enigiets terug te verwag.” Wanneer ons van onsself gee, veral aan mense wat ons glad nie kan terugbetaal nie, kry ons wel iets beters terug. Ons word deel van ’n groter prentjie. Ons werk hand aan hand met die Skepper. Hy sien die goeie dinge wat ons doen as iets wat ons aan hom leen (Spreuke 19:17). Hy waardeer regtig die dinge wat ons doen vir mense wat hulp nodig het. Hy belowe dat hy ons gaan terugbetaal met niks minder nie as die ewige lewe op ’n paradysaarde. Wat ’n wonderlike hoop vir die toekoms is dit tog! — Psalm 37:29; Lukas 14:12-14. *

Nog belangriker, die Bybel leer ons dat ons regtig ’n doel in die lewe kan hê wanneer ons die ware God, Jehovah, aanbid. Sy Woord spoor ons aan om hom te eer, te loof en te gehoorsaam omdat hy dit verdien (Prediker 12:13; Openbaring 4:11). Wanneer ons dit doen, kry ons iets reg wat ongelooflik is om aan te dink: Ons het ’n positiewe uitwerking op ons Skepper. Daarom spoor hy ons aan: “Wees wys . . . en maak my hart bly” (Spreuke 27:11). Dink net: wanneer ons goeie besluite maak wat op Bybelwaarhede gegrond is, maak ons ons liefdevolle hemelse Vader se hart bly. Hoekom? Omdat hy vir ons omgee en wil hê dat ons onsself moet bevoordeel deur sy raad te volg (Jesaja 48:17, 18). Ja, daar is niks belangrikers as om die Soewerein van die heelal te aanbid en op ’n manier te lewe wat sy hart bly maak nie.

2 VRIENDSKAP MET ONS SKEPPER

Die Bybel sê ook vir ons om ’n vriendskap met ons Skepper op te bou. Jakobus 4:8 sê: “Kom nader aan God, en hy sal nader aan julle kom.” Soms twyfel ons of dit regtig moontlik is om met die almagtige Skepper vriende te wees. Maar die Bybel verseker ons dat ons God ‘werklik sal vind’ as ons hom “soek”, want ‘hy is eintlik nie ver van elkeen van ons af nie’ (Handelinge 17:27). Die Bybel se raad oor hoe ons God se vriend kan word, is baie belangrik vir ons toekoms. Hoekom?

Dink hieraan: Al probeer ons hoe hard, nie een van ons kan van die grootste vyand, die dood, wegkom nie (1 Korintiërs 15:26). Maar God is ewig. Hy sal nooit doodgaan nie, en hy wil hê dat sy vriende ook vir ewig moet lewe. Die Bybel gebruik hierdie eenvoudige maar mooi woorde om te beskryf wat Jehovah vir die mense wil hê wat hom soek: “Mag julle hart vir ewig lewe.” — Psalm 22:26.

Hoe kan jy so ’n ewige vriendskap met God opbou? Hou aan om van hom uit sy Woord, die Bybel, te leer (Johannes 17:3; 2 Timoteus 3:16). Vra hom om jou te help om die Bybel te verstaan. Die Bybel belowe dat God vir ons wysheid sal gee as ons ‘aanhou om hom daarvoor te vra’ (Jakobus 1:5). * Probeer ook hard om toe te pas wat jy leer, en laat God se Woord “’n lamp vir [jou] voet en ’n lig vir [jou] pad” wees, nou en vir ewig. — Psalm 119:105.

^ par. 8 Vir meer inligting oor God se belofte van die ewige lewe op die Paradysaarde kyk na hoofstuk 3 van die boek Wat leer die Bybel werklik? uitgegee deur Jehovah se Getuies.

^ par. 13 Jehovah se Getuies sal graag die Bybel met jou wil studeer en jou help om die Bybel beter te verstaan. Om meer oor hierdie gratis Bybelstudie uit te vind, kyk asseblief na die video Wat gebeur tydens ’n Bybelstudie? Jy kan dit kry op jw.org/af.

God is ewig, en hy wil hê dat sy vriende ook vir ewig moet lewe