Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kan jy dien waar meer Koninkryksverkondigers nodig is?

Kan jy dien waar meer Koninkryksverkondigers nodig is?

Kan jy dien waar meer Koninkryksverkondigers nodig is?

“Ons het ’n gemaklike lewe in die Verenigde State gelei, maar was bekommerd dat die materialistiese milieu daar uiteindelik ’n negatiewe invloed op ons en ons twee seuns sou hê. Ek en my vrou het voorheen as sendelinge gedien, en ons wou weer daardie eenvoudige maar gelukkige lewe geniet.”

BEWEEG deur hierdie begeerte het Ralph en Pam in 1991 besluit om aan etlike takkantore te skryf oor hulle begeerte om te dien waar meer Koninkryksverkondigers nodig is. Die takkantoor in Mexiko het geantwoord dat Koninkryksverkondigers wat vir die Engelssprekende bevolking in dié land kan preek, dringend nodig is. Trouens, die tak het gesê dat hierdie veld “wit is vir die oes” (Joh. 4:35). Kort voor lank het Ralph en Pam, tesame met hulle seuns, wat toe 8 en 12 jaar oud was, die uitnodiging aanvaar en voorbereidings begin tref om na ’n ander land te trek.

’n Ontsaglike gebied

Ralph vertel: “Voordat ons die Verenigde State verlaat het, het party welmenende broers en susters vir ons gesê: ‘Dis te gevaarlik om na ’n ander land te trek!’ ‘Sê nou julle word siek?’ ‘Waarom wil julle trek om in ’n Engelse gebied te gaan preek? Engelse mense daar sal nie in die waarheid belangstel nie!’ Maar ons was vasbeslote om te gaan. Ons besluit om te trek, was immers nie impulsief nie. Ons het jare lank daarvoor beplan. Ons het langtermynskuld vermy, geld gespaar en baie gesinsbesprekings gehad oor die probleme wat ons dalk sou teëkom.”

Ralph en sy gesin het eers die tak in Mexiko besoek. Daar het die broers hulle ’n kaart van die hele land gewys en vir die nuwe aankomelinge gesê: “Dít is julle gebied!” Die gesin het hulle gevestig in San Miguel de Allende, ’n stad met baie buitelanders, sowat 240 kilometer noordwes van Mexikostad. Drie jaar ná hulle aankoms is ’n Engelse gemeente van 19 verkondigers in hierdie stad gestig. Dit was die eerste Engelse gemeente in Mexiko—maar nog baie werk het voorgelê.

Daar woon na raming eenmiljoen Amerikaanse burgers in Mexiko. Daarbenewens is daar baie Mexikaanse beroepsmense en studente wat Engels as ’n tweede taal praat. Ralph verduidelik: “Ons het vir meer werkers gebid. Ons het altyd ’n spaarkamer in ons huis gehad vir broers en susters wat na ons gebied gekom het om as ’t ware ‘die land te verken’.”—Num. 13:2.

Hulle het hulle lewe vereenvoudig om hulle bediening uit te brei

Weldra het nog broers en susters wat hulle bediening wou uitbrei, daar aangekom. Onder hulle was Bill en Kathy uit die Verenigde State. Hulle het reeds 25 jaar lank in gebiede gedien waar meer verkondigers nodig was. Hulle het dit oorweeg om Spaans te leer, maar het van plan verander nadat hulle na die dorp Ajijic aan die oewer van die Chapala-meer getrek het, wat gewild is by afgetredenes uit die Verenigde State. Bill verduidelik: “In Ajijic het ons ons al hoe meer daarop toegelê om Engelssprekende mense te soek wat die waarheid wou leer.” Binne twee jaar nadat Bill en Kathy in hierdie dorp aangekom het, het hulle die vreugde gesmaak om te sien dat ’n gemeente gestig word—die tweede Engelse gemeente in Mexiko.

Ken en Joanne van Kanada wou hulle lewe vereenvoudig en meer tyd aan Koninkryksbedrywighede wy. Hulle het ook na Mexiko verhuis. Ken vertel: “Dit het ’n ruk geneem om daaraan gewoond te raak om in ’n plek te woon waar jy soms dae lank geen warm water, elektrisiteit of telefoondiens het nie.” Maar die predikingswerk was ’n bron van vreugde. Ken is kort voor lank as ’n bedieningskneg aangestel en twee jaar later as ’n ouer man. Aan die begin was dit vir hulle dogter Britanny moeilik om in ’n klein Engelse gemeente met min jongmense te wees. Maar nadat sy met Koninkryksaalbouprojekte begin help het, het sy talle goeie vriende regoor die land gemaak.

Patrick en Roxanne van Texas in die Verenigde State was opgewonde toe hulle hoor van ’n sendingveld waar mense Engels praat en wat nie te ver is nie. “Nadat ons Monterrey, ’n stad in die noordooste van Mexiko, besoek het, het ons gevoel dat Jehovah ons rig om daar te gaan help”, sê Patrick. Binne vyf dae kon hulle hulle huis in Texas verkoop en as ’t ware ‘oorkom na Masedonië’ (Hand. 16:9). Dit was nie maklik om in Mexiko ’n bestaan te maak nie, maar in net twee jaar het hulle die vreugde gesmaak om ’n groepie van 17 Getuies tot ’n gemeente van 40 verkondigers te sien groei.

Jeff en Deb is nog ’n egpaar wat hulle lewe vereenvoudig het om hulle bediening uit te brei. Hulle het hulle groot huis in die Verenigde State verkoop en in ’n woonstelletjie in Cancún ingetrek, ’n stad aan die ooskus van Mexiko. In die verlede was hulle daaraan gewoond om byeenkomste naby die huis in gerieflike fasiliteite met lugversorging by te woon. Nou moes hulle agt uur reis om die naaste Engelse byeenkoms by te woon, wat in ’n opelugfasiliteit gehou is. Maar hulle het die diepe bevrediging gehad om te sien dat ’n gemeente van sowat 50 verkondigers in Cancún gestig word.

’n Paar Mexikaanse broers en susters het ook begin help met die predikingswerk in die Engelse veld. Toe Rubén en sy gesin byvoorbeeld hoor dat die eerste Engelse gemeente in San Miguel de Allende gestig is en dat die hele Mexiko hierdie gemeente se gebied is, het hulle onmiddellik besluit om te help. Dit het beteken dat hulle Engels moes leer, aan ’n ander kultuur gewoond moes raak en groot afstande moes reis—800 kilometer per week—om die vergaderinge by te woon. Rubén vertel: “Ons het die vreugde gesmaak om vir buitelanders te getuig wat al jare in Mexiko woon, maar wat die boodskap van die goeie nuus vir die eerste keer in hulle eie taal gehoor het. Party het met trane in hulle oë vir ons gesê hoeveel hulle dit waardeer.” Nadat Rubén en sy gesin die gemeente in San Miguel de Allende gehelp het, het hulle gedien as pioniers in die stad Guanajuato, in Sentraal-Mexiko, waar hulle gehelp het om ’n Engelse gemeente van meer as 30 verkondigers te stig. Vandag dien hulle in ’n Engelse groep in Irapuato, ’n dorp naby Guanajuato.

Hulle preek vir dié wat moeilik is om te bereik

Benewens buitelanders is daar baie Mexikane wat Engels praat. Dit is dikwels moeilik om die Koninkryksboodskap aan hulle oor te dra omdat hulle in ryk buurte woon waar bediendes die deur oopmaak. Of as die huisbewoners wel deur toe kom, wil hulle dalk nie na ons boodskap luister nie omdat hulle dink dat Jehovah se Getuies ’n klein plaaslike sekte is. Maar wanneer Getuies uit ander lande met hierdie huisbewoners kom praat, reageer party gunstig.

Kyk na die geval van Gloria in die stad Querétaro, in Sentraal-Mexiko. Sy verduidelik: “Spaanssprekende Getuies het al voorheen met my gepraat, maar ek het nie na hulle geluister nie. Maar toe my familie en vriende probleme begin ondervind, het ek terneergedruk geword en tot God gebid en hom gesmeek om vir my ’n oplossing te toon. Kort daarna het ’n Engelssprekende vrou aan my deur geklop. Sy het gevra of enigiemand in die huis Engels praat. Omdat sy ’n buitelander was, was ek nuuskierig oor haar, en ek het vir haar gesê dat ek Engels praat. Terwyl sy haar aanbieding gedoen het, het ek gedink: ‘Wat doen hierdie mal Amerikaner hier in my buurt?’ Maar ek het God vir ’n teken gevra. En miskien was hierdie buitelander God se antwoord op my gebed.” Gloria het ’n Bybelstudie aanvaar en het spoedig tot doop gevorder ten spyte van familieteenstand. Vandag dien Gloria as ’n gewone pionier, en haar man en seun dien Jehovah ook.

Belonings vir dié wat hulle bediening uitbrei

Om te dien waar meer Koninkryksverkondigers nodig is, bied uitdagings, maar die belonings is talryk. Ralph, wat aan die begin genoem is, sê: “Ons het Bybelstudies gehou met mense uit Brittanje, China, Jamaika, Swede en selfs met lede van Ghana se koninklike familie. Party van hierdie Bybelstudente het self die voltydse diens betree. Gedurende die afgelope jare het ons gesin gesien dat sewe Engelse gemeentes gestig word. Albei ons seuns het saam met ons begin pionier, en hulle dien nou by Bethel in die Verenigde State.”

Daar is tans 88 Engelse gemeentes en talle groepe in Mexiko. Waaraan kan die vinnige groei toegeskryf word? Baie Engelssprekende mense in Mexiko het nooit tevore met die Getuies gepraat nie. Ander het gunstig gereageer omdat hulle nie die portuurdruk ondervind het wat hulle dalk in hulle vaderland sou teruggehou het nie. Nog ander het die aanbod om die Bybel te studeer, aanvaar omdat hulle afgetree het en tyd gehad het om geestelike belange na te streef. Daarbenewens dien meer as ’n derde van die verkondigers in die Engelse gemeentes as pioniers, wat grootliks bydra tot die geesdrif en groei in hierdie gemeentes.

Seëninge wag op jou

Nog meer mense regoor die wêreld sal ongetwyfeld gunstig reageer wanneer hulle die Koninkryksboodskap in hulle eie taal hoor. Dit is dus hartverblydend om te sien dat talle geestelikgesinde broers en susters—jonk en oud, getroud en ongetroud—bereid is om na gebiede te trek waar Koninkryksverkondigers nodig is. Hulle verduur dalk wel ontberinge, maar dit is onbenullig in vergelyking met die vreugde wat hulle smaak wanneer hulle opregtes van hart vind wat Bybelwaarhede aanneem. Kan jy aanpassings maak sodat jy na ’n gebied kan trek waar Koninkryksverkondigers nodig is, hetsy in jou eie of in ’n ander land? (Luk. 14:28-30; 1 Kor. 16:9). a Indien wel, kan jy seker wees dat ryk seëninge op jou wag.

[Voetnoot]

a Vir meer inligting oor diens waar hulp nodig is, sien Georganiseer om Jehovah se wil te doen, bladsye 111-112.

[Venster op bladsy 21]

Gelukkige afgetredenes trek aandag

Beryl het uit Brittanje na Kanada geëmigreer. Daar het sy as bestuurderes vir etlike internasionale maatskappye gewerk. Sy het ook ’n vaardige damesruiter geword en is selfs gekies om Kanada by die Olimpiese Spele in 1980 te verteenwoordig. Nadat Beryl en haar man afgetree en na Chapala, Mexiko, getrek het, het hulle dikwels by plaaslike restaurante gaan eet. Wanneer sy Engelssprekende afgetredenes gesien het wat gelukkig gelyk het, het sy haar aan hulle voorgestel en gevra wat hulle in Mexiko doen. Hierdie gelukkige mense was byna altyd Jehovah se Getuies. Beryl en haar man het gedink dat hulle God ook wou leer ken as kennis van hom tot geluk en ’n doel in die lewe lei. Nadat Beryl etlike maande Christelike vergaderinge bygewoon het, het sy ingestem om die Bybel te studeer en het sy ’n Getuie geword. Dit was vir Beryl moontlik om ’n aantal jare lank as ’n gewone pionier te dien.

[Venster op bladsy 22]

“Dit is ’n seën om hulle by ons te hê”

Diegene wat na lande verhuis waar Koninkryksverkondigers nodig is, word hoog op prys gestel deur die plaaslike broers. ’n Takkantoor op een van die Karibiese Eilande het geskryf: “As die honderde buitelanders wat hier dien, sou weggaan, sou dit die stabiliteit van die gemeentes raak. Dit is ’n seën om hulle by ons te hê.”

God se Woord sê: “Die vroue wat die goeie nuus verkondig, is ’n groot leër” (Ps. 68:11). Dit is derhalwe nie verbasend dat daar baie ongetroude susters is onder diegene wat in ander lande dien nie. Hierdie selfopofferende susters is ’n groot hulp. ’n Takkantoor in Oos-Europa het gesê: “In baie van ons gemeentes is daar ’n hoë persentasie susters, soms tot 70 persent. Die meeste is nuut in die waarheid, maar ongetroude pioniersusters wat van ander lande gekom het, voorsien waardevolle hulp deur hierdie nuwelinge op te lei. Hierdie susters uit ander lande is waarlik vir ons ’n gawe!”

Hoe voel hierdie susters oor hulle diens in ’n ander land? “Daar is baie uitdagings”, sê Angelica, ’n suster in haar middeldertigerjare wat jare lank as ’n ongetroude pionier in ’n ander land gedien het. “In een toewysing het ek dag ná dag deur modderige paaie aangesukkel en was ek omring deur neerdrukkende tonele van menselyding. Maar dit het my bevrediging verskaf om mense in die bediening te help. My hart is ook geraak deur al die woorde van dankbaarheid van plaaslike susters wat my dikwels bedank het omdat ek hulle kom help het. Een suster het vir my gesê dat die voorbeeld wat ek gestel het deur die hele pad na haar land toe te kom om as ’n pionier te dien, haar beweeg het om ook die voltydse diens te betree.”

Sue, ’n pionier in haar vroeë vyftigerjare, sê: “Jy kom beslis voor uitdagings te staan, maar dit kan nie vergelyk met die seëninge wat jy ontvang nie. Die bediening is opwindend! Aangesien ek baie tyd in die bediening saam met jong susters deurbring, vertel ek hulle wat ek uit die Bybel en ons publikasies geleer het oor hoe om struikelblokke te bowe te kom. Hulle sê dikwels vir my dat die voorbeeld wat ek daarin gestel het om probleme te oorkom gedurende die talle jare wat ek al as ’n ongetroude pionier dien, hulle help besef dat hulle ook uitdagings in hulle lewe die hoof kan bied. Dit verskaf my groot bevrediging om hierdie susters te help.”

[Kaart op bladsy 20]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

MEXIKO

Monterrey

Guanajuato

Irapuato

Ajijic

Chapala

Chapala-meer

San Miguel de Allende

Querétaro

MEXIKOSTAD

Cancún

[Prent op bladsy 23]

Party smaak die vreugde om vir buitelanders te getuig wat die goeie nuus vir die eerste keer hoor