Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Les oor trots en nederigheid

’n Les oor trots en nederigheid

’n Les oor trots en nederigheid

’N VOORVAL in die lewe van koning Dawid beklemtoon die verskil tussen ware nederigheid en bose trots. Dit het plaasgevind nadat Dawid Jerusalem verower het en dit sy hoofstad gemaak het. Dawid het Jehovah as die ware Koning van Israel beskou, en daarom het hy gereël dat die Ark, wat God se teenwoordigheid gesimboliseer het, in die stad ingebring word. Hierdie gebeurtenis was vir Dawid so belangrik dat hy voor almal aan sy vreugde uiting gegee het terwyl hy die priesters gevolg het wat die Ark gedra het. Die inwoners van Jerusalem het gesien hoe hulle koning “rondhuppel” en ‘met alle mag ronddans’.—1 Kronieke 15:15, 16, 29; 2 Samuel 6:11-16.

Maar Dawid se vrou Migal het nie aan daardie vreugdevolle optog deelgeneem nie. Sy het deur ’n venster afgekyk, en in plaas van die manier te bewonder waarop Dawid Jehovah loof, het sy “hom in haar hart begin verag” (2 Samuel 6:16). Waarom het Migal so gevoel? Sy het blykbaar te veel waarde geheg aan die feit dat sy die dogter van Israel se eerste koning, Saul, en nou die vrou van Israel se tweede koning was. Sy het moontlik gevoel dat haar man, die koning, hom nie tot die vlak van die gewone mense moes verneder en saam met hulle moes feesvier nie. Hierdie hoogmoedige gevoelens is geopenbaar in die manier waarop sy Dawid gegroet het toe hy by die huis aankom. Sy het sarkasties gesê: “Hoe glorieryk het die koning van Israel hom tog vandag gemaak toe hy hom vandag voor die oë van die slavinne van sy knegte ontbloot het, net soos een van die leeghoofdiges hom openlik ontbloot!”—2 Samuel 6:20.

Hoe het Dawid op hierdie kritiek gereageer? Dawid het Migal tereggewys deur te sê dat Jehovah haar vader, Saul, ten gunste van hom verwerp het. Dawid het bygevoeg: “Ek sal maak dat ek selfs nog meer geringgeag word, en ek sal in my oë gering word; en met die slavinne wat jy genoem het, met hulle is ek vasbeslote om my te verheerlik.”—2 Samuel 6:21, 22.

Ja, Dawid was vasbeslote om Jehovah nederig te bly dien. Hierdie gesindheid help ons om te verstaan waarom Jehovah Dawid “’n man na my hart” genoem het (Handelinge 13:22; 1 Samuel 13:14). Trouens, Dawid het die voortreflikste voorbeeld van nederigheid gevolg—dié van Jehovah God self. Dit is interessant dat die uitdrukking wat Dawid gebruik het toe hy vir Migal gesê het: “Ek sal in my oë gering word”, afgelei is van ’n Hebreeuse grondwerkwoord wat ook gebruik word om God se beskouing van die mensdom te beskryf. Hoewel Jehovah die grootste Persoon in die heelal is, sê Psalm 113:6, 7 van hom: “Hy buig hom neer [daal laer as sy rang of waardigheid om met ’n mindere te handel] om na die hemel en die aarde te kyk, en hy rig die geringe uit die stof op; hy verhef die arme uit die asput.”

Aangesien Jehovah nederig is, is dit geen wonder dat hy die “trotse oë” van hoogmoediges haat nie (Spreuke 6:16, 17). Omdat Migal hierdie bose eienskap aan die dag gelê het en oneerbiedig was teenoor die een wat God as koning gekies het, is sy die voorreg ontsê om vir Dawid ’n seun te baar. Sy het kinderloos gesterf. Wat ’n belangrike les vir ons! Almal wat God se guns wil hê, moet gehoorsaam wees aan hierdie woorde: “Omgord julle . . . met ootmoed teenoor mekaar, want God staan die hoogmoediges teë, maar hy gee onverdiende goedhartigheid aan die nederiges.”—1 Petrus 5:5.