Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Hele wêreld is vernietig!

’n Hele wêreld is vernietig!

’n Hele wêreld is vernietig!

Kyk na die wêreld om jou, met sy stede, sy kultuur, sy wetenskaplike prestasies, sy bevolking wat miljarde tel. Dit is maklik om deur sy oënskynlike permanensie beïndruk te word, nie waar nie? Kan jy jou indink dat hierdie wêreld eendag heeltemal kan verdwyn? Dit is waarskynlik moeilik om jou so iets voor te stel. Maar het jy geweet dat ’n baie betroubare bron toon dat daar ’n wêreld voor hierdie een bestaan het en dat dit heeltemal vernietig is?

Ons praat nie van ’n wêreld wat uit primitiewe stamme bestaan het nie. Die wêreld wat vergaan het, was beskaafd, met stede, kunswerke, wetenskaplike kennis. Nogtans vertel die Bybelverslag ons dat daar skielik, op die 17de dag van die 2de maand, 352 jaar voor die geboorte van die aartsvader Abraham, ’n vloed gekom het wat ’n hele wêreld weggesleur het. a

Is dit ’n juiste verslag? Het so iets werklik gebeur? Was daar werklik voor die huidige wêreld ’n wêreld wat floreer het en toe vernietig is? Indien wel, waarom het dit geëindig? Wat het verkeerd geloop? En is daar ’n les wat ons uit die ondergang daarvan kan leer?

Is ’n eertydse wêreld werklik vernietig?

As so ’n verskriklike ramp werklik plaasgevind het, sou mense dit nooit heeltemal vergeet nie. Daarom is daar in baie nasies dinge wat as ’n herinnering aan daardie vernietiging dien. Kyk byvoorbeeld na die presiese datum wat in die Skrif opgeteken is. Die tweede maand van die antieke kalender het gestrek van wat ons nou middel-Oktober tot middel-November noem. Die 17de dag kom dus ooreen met om en by die eerste November. Moontlik is dit dan nie toevallig dat feeste vir die dooies daardie tyd van die jaar in baie lande gevier word nie.

Ander bewyse van die Vloed kan in die tradisies van die mensdom gevind word. Feitlik elke antieke beskawing het ’n legende dat hulle voorouers ’n wêreldwye vloed oorleef het. Die Pigmeë van Afrika, die Kelte van Europa, die Inkas van Suid-Amerika—almal het soortgelyke legendes, en dieselfde geld vir volke van Alaska, Australië, China, Indië, Litaue, Mexiko, Mikronesië, Nieu-Seeland en dele van Noord Amerika, om net ’n paar te noem.

Daar is natuurlik met verloop van tyd op die legendes voortgeborduur, maar hulle almal bevat verskeie besonderhede wat toon dat hulle oor dieselfde aangeleentheid handel: Die mensdom se goddeloosheid het God se woede laat ontvlam. Hy het ’n groot vloed gebring. Die hele mensdom is vernietig. ’n Paar regverdiges is egter bewaar. Hulle het ’n vaartuig gebou waarin mense en diere gered is. Mettertyd is voëls uitgestuur om na droë grond te soek. Die vaartuig het uiteindelik op ’n berg tot rus gekom. Toe die oorlewendes uit die ark kom, het hulle ’n offerande gebring.

Wat bewys dit? Die ooreenkomste kan onmoontlik blote toeval wees. Die gesamentlike getuienis wat hierdie legendes lewer, bevestig die Bybel se eeue oue verklaring dat alle mense afstam van die oorlewendes van ’n vloed waardeur ’n mensewêreld vernietig is. Ons hoef derhalwe nie op legendes of mites te vertrou om te weet wat gebeur het nie. Ons het die goed bewaarde verslag in die Hebreeuse Geskrifte van die Bybel.—Genesis, hoofstukke 6-8.

Die Bybel bevat ’n geïnspireerde geskiedenisverslag wat teruggaan tot waar lewe begin het. Daar is egter bewyse dat dit meer as blote geskiedenis is. Die onfeilbare profesieë en diepe wysheid daarin toon dat dit is wat dit sê dit is—God se boodskap aan die mensdom. In teenstelling met mites bevat die Bybel name en datums sowel as geslagsregisters en geografiese besonderhede in sy geskiedkundige verslae. Dit gee ons ’n beskrywing van hoe die lewe voor die Vloed was en openbaar waarom ’n hele wêreld skielik tot ’n einde gekom het.

Wat het verkeerd geloop met daardie mensegemeenskap voor die Vloed? Die volgende artikel bespreek hierdie vraag. Dit is ’n belangrike vraag vir diegene wat dalk wonder hoe veilig die toekoms van ons hedendaagse beskawing is.

[Voetnoot]

[Tabel op bladsy 4]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Vloedlegendes oor die hele wêreld

Land Ooreenkomste 1 2 3 4 5 6 7 8 9 10

Griekeland 7 ◆ ◆ ◆ ◆ ◆ ◆

Rome 6 ◆ ◆ ◆ ◆ ◆ ◆

Litaue 6 ◆ ◆ ◆ ◆ ◆ ◆

Assyrië 9 ◆ ◆ ◆ ◆ ◆ ◆ ◆ ◆ ◆

Tanzanië 7 ◆ ◆ ◆ ◆ ◆ ◆ ◆

Indië - Hindoe 6 ◆ ◆ ◆ ◆ ◆ ◆

Nieu-Seeland - Maori 5 ◆ ◆ ◆ ◆ ◆

Micronesië 7 ◆ ◆ ◆ ◆ ◆ ◆ ◆

Washington VSA - Yakima 7 ◆ ◆ ◆ ◆ ◆ ◆ ◆

Mississippi VSA - Choctaw 7 ◆ ◆ ◆ ◆ ◆ ◆ ◆

Mexiko - Michoacan 5 ◆ ◆ ◆ ◆ ◆

Suid-Amerika - Quechua 4 ◆ ◆ ◆ ◆

Bolivia - Chiriguano 5 ◆ ◆ ◆ ◆ ◆

Guyana - Arawak 6 ◆ ◆ ◆ ◆ ◆ ◆

1: Goddeloosheid laat God se woede ontvlam

2: Vernietiging deur ’n vloed

3: Deur God beveel

4: Goddelike waarskuwing gegee

5: Net ’n paar mense oorleef dit

6: In ’n vaartuig gered

7: Diere gered

8: Voël of ander dier uitgestuur

9: Kom uiteindelik op ’n berg tot rus

10: Offerande gebring