Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Kykie na vandag se dieretuine

’n Kykie na vandag se dieretuine

DRIEDUISEND jaar gelede het ’n Chinese keiser ’n park aangelê en dit die Tuin van Intelligensie genoem. Talle lewende diere kon besigtig word in die park, wat 607 hektaar beslaan het. Destyds was so ’n park ongetwyfeld iets seldsaams.

Maar vandag kan miljoene mense regoor die wêreld dieretuine besoek. “In ’n wêreld waar daar al hoe minder ongerepte natuur is en al hoe meer mense na die stede trek, het ’n besoek aan ’n dieretuin vir baie mense die maklikste manier geword om die natuurlewe te geniet”, sê die boek Zoos in the 21st Century.

Wat ’n moderne dieretuin kan bied

Dieretuine bied besoekers die geleentheid om van die aarde se mooiste en indrukwekkendste diere in ’n redelik natuurlike omgewing te sien. Jy kan kleurvolle skoenlappers in ’n tropiese tuin sien rondfladder of pikkewyne in die ys sien speel in ’n afgekampte plek wat lyk soos die ysige wildernis van die Suidpool.

Jy kan deur ’n miniatuur- ekwatoriale woud wandel en kyk na party van die diere en voëls wat in hierdie habitat voorkom. Of jy kan in ’n donker vertrek ingaan waar jy nagdiere kan sien. In party dieretuine kan jy selfs vertonings sien van roofvoëls in vlug of van dolfyne wat akrobatiese toertjies doen. Gevaarlike diere word nie meer in hokke aangehou nie, maar in opelugkampe met ’n grag wat die wilde diere van die publiek skei.

 Die twee kante van ’n geskil

Sommige kampvegters vir diereregte maak daarteen beswaar dat diere uit die natuur geneem word en in ’n onnatuurlike omgewing aangehou word. Hulle meen dat dieretuine die diere se beweging beperk en hulle instinktiewe gedrag ontwrig.

In reaksie op hierdie kritiek sê dieretuineienaars dat hulle ’n belangrike rol speel in natuurbewaring en opvoeding. “Ons doelwit is om by mense respek vir diere in te boesem”, verduidelik Jaime Rull, van die park Faunia, Madrid, Spanje. “Ons wil by ons besoekers die begeerte skep om die diere se habitat te help bewaar, waarsonder hulle nie sal oorleef nie.” Party opnames toon dat dieretuine wat diere op doeltreffende wyse vertoon, die publiek wel meer bewus maak van die belangrikheid daarvan om bedreigde spesies te beskerm.

Sekere skaars diersoorte—soos die reusepanda—het blykbaar ’n spesiale plekkie in die publiek se hart verower. “Al die besoekers wil ons twee pandas sien”, sê Noelia Benito, van  Madrid se Dieretuin en Akwarium. “Hierdie gewilde spesie het ’n simbool geword van ons stryd om bedreigde spesies te red. Ons hoop dat die pandas sal paar, hoewel hierdie diere baie kieskeurig is wanneer dit by ’n maat kom.”

In teenstelling met pandas teel baie diere goed aan in dieretuine, danksy verbeterde toestande en goeie veeartsenykunde. Suksesvolle teelprogramme het gehelp om ’n antwoord te voorsien aan kritici wat meen dat dieretuine nie by die handel in bedreigde spesies betrokke moet wees nie. Baie dieretuine hou nie net diere aan sodat mense hulle kan besigtig nie, maar probeer ook met bedreigde spesies teel in die hoop dat hulle eendag in die natuur vrygelaat kan word.

’n Vername rede waarom diere in die natuur uitsterf, is die verlies van hulle habitat. Dieretuine het dus daadwerklik betrokke geraak by die finansiering van bewaringsprogramme en werk direk saam met natuurreservate in tropiese lande. *

Geniet die prag van die natuurlewe

Aangesien die meeste kinders van nature deur diere gefassineer word, kan ’n gesinsuitstappie na die dieretuin oor ’n naweek of tydens ’n vakansie ouers die geleentheid bied om hulle kinders van God se skepping te leer. Hulle kan die prag van die natuurlewe saam geniet.

Van die vroegste tye af stel die mensdom intens in die dierewêreld belang. Dit is ’n belangstelling wat ons gerus in ons kinders kan kweek, aangesien die natuur ons insig gee in die persoonlikheid van die Skepper. ’n Besoek aan die dieretuin kan ons meer bewus maak van die wonderlike skepsele wat op ons brose planeet voorkom en ons groter respek vir hulle gee.

Kloksgewys van links bo: Tropiese skoenlapper, Bengaalse tier, reusepanda, Amerikaanse adelaar, Kaliforniese seeleeu

^ par. 12 Dieretuine se pogings om die tier in Asië, lemurs in Madagaskar en ape in Afrika te help beskerm, was blykbaar suksesvol.