Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die dood—Is dit werklik die einde?

Die dood—Is dit werklik die einde?

IN Februarie 1987 het ’n 85-jarige man besluit om die gereelde nierdialise te staak wat hom aan die lewe gehou het. Twee weke later het hy vreedsaam by die huis gesterf, met sy enigste seun aan sy sy.

Daardie laaste tydjie saam het die twee kans gegee om na te dink oor ’n onderwerp wat hulle vantevore bespreek het: Is lewe anderkant die graf moontlik? Die vader, ’n man met universiteitsopleiding, was skepties. Hy is deur die evolusieleer beïnvloed en het die huigelary in godsdiens afstootlik gevind. Hy het homself ’n agnostikus genoem—iemand wat glo dat dit onmoontlik is om te weet of God bestaan.

Die seun, wat vertroosting en hoop wou bied, het sy vader gewys waarom lewe anderkant die graf werklik moontlik is. Met sy naderende dood het die vader erken dat hy graag weer sou wou lewe, met hernieude krag en gesondheid.

Vertroosting in die aangesig van die dood

Die meeste mense, indien nie almal nie, sou weer wou lewe as hulle dit met hernieude gesondheid en krag kon doen in ’n wêreld waar daar vrede heers. Mense is nie soos diere nie, wat in die Bybel beskryf word as “redeloos”, of as “skepsele met instink” (2 Petrus 2:12; New International Version). Ons begrawe ons dooies. Ons dink oor die toekoms. Ons wil nie oud word, siek word en sterf nie. Tog is hierdie dinge die werklikhede wat alle mense ondervind.

Dit ontstel ons wanneer ons dink aan die dood wat naderkom, hetsy ons eie of dié van ’n geliefde. Die Bybel spoor ons egter aan om die dood dapper tegemoet te gaan en sê: “Dit is beter om na die huis van rou te gaan as om na die huis van feesmaaltye te gaan.” Dit voeg by: “Die lewende moet dit ter harte neem” (Prediker 7:2). Waarom moet ons die dood ter harte neem, of diep daaroor nadink?

Om een rede te noem, ons het ’n ingebore begeerte om te lewe en die lewe in vrede en veiligheid te geniet. Ons vind die dood—’n toestand van niebestaan—instinktief weersinwekkend. Dit is moeilik, indien nie byna onmoontlik nie, om te aanvaar. Die Bybel verduidelik waarom: “[God] het die ewigheid in die mens se verstand gesit”, of “in hulle hart gesit” (Prediker 3:11; Revised Standard Version). Ons wil lewe—nie sterf nie. Dink hieroor na: Sou hierdie begeerte so sterk gewees het as dit nie ons Skepper se oorspronklike voorneme was dat ons vir ewig lewe nie? Is dit moontlik om weer te lewe, met eindelose gesondheid en geluk?

Rede om te glo

Verlede jaar het die artikel “Lewe ná die dood” in AARP The Magazine verskyn, wat deur die Amerikaanse Vereniging vir Afgetredenes uitgegee word. Onderhoude wat gevoer is met talle mense ouer as 50 jaar, het aan die lig gebring dat “bykans driekwart (73 persent) saamstem met die stelling ‘Ek glo in lewe ná die dood’”. Daarenteen het die tydskrif berig dat bykans ’n kwart saamgestem het met die stelling “Ek glo dat wanneer ek sterf, dit die einde is”. Maar is dit wat mense werklik wil glo?

In dieselfde artikel het Tom, ’n Katoliek van New York, blykbaar gesê: “Hulle verkondig dat daar lewe ná die dood is, weet jy? Jong, mense verkondig baie dinge. Jy moet maar self oor dinge besluit. Ek woon die mis by. Ek lei my lewe asof daar lewe ná die dood is, hoewel ek dit nie glo nie. Maar as dit waar is, wel, dan is dit ’n bonus.”

Soos Tom, is baie mense skepties—ook die  vader wat aan die begin gemeld is en wat dikwels vir sy seun gesê het: “Om in godsdiens te glo, is vir diegene wat nie die werklikheid van die dood kan hanteer nie.” Maar soos hy en ander skeptici moes erken, maak geloof in ’n almagtige Skepper dit moontlik om wonderwerke te verklaar wat andersins onverklaarbaar sou gewees het.

Byvoorbeeld, net drie weke ná bevrugting begin die menslike embrio breinselle vorm. Hierdie selle vermenigvuldig in vlae, soms tot ’n kwartmiljoen per minuut! Nege maande later word ’n baba gebore met ’n brein wat die wonderbaarlike vermoë het om te leer. Die molekulêre bioloog James Watson het die mensebrein beskryf as “die ingewikkeldste ding wat ons nog in ons heelal ontdek het”.

Word jy, soos die meeste mense, met ontsag vervul wanneer jy aan sulke wonders dink? Het dit jou gehelp om ’n antwoord te kry op die vraag wat ’n man lank gelede geopper het: “As ’n man sterf, kan hy weer lewe?” Daardie man het met vertroue vir God gesê: “U sal roep, en ek sal u antwoord. Na die werk van u hande sal u vurig verlang.”—Job 14:14, 15.

Dit sal beslis goed wees om bewyse te oorweeg wat ons rede gee om te glo dat lewe ná die dood moontlik is.