Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Stukkie paradys

’n Stukkie paradys

’n Stukkie paradys

Deur Ontwaak!-medewerker in Côte d’Ivoire

SOU jy graag wou teruggaan in tyd en die aarde se oerwoude, met hulle welige plantegroei en ryk dierelewe, wou besoek? Bestaan sulke plekke nog? Die Taï- Nasionale Park, in die suidwestelike hoek van Côte d’Ivoire, naby die Liberiese grens, is blykbaar so ’n ongeskonde stukkie paradys.

Die Taï- Nasionale Park is die grootste oorblywende deel van die ongerepte tropiese reënwoud wat vroeër oor die hedendaagse Côte d’Ivoire, Ghana, Liberië en Sierra Leone gestrek het. Die park sluit meer as die helfte van die bestaande reënwoude in Wes-Afrika in. Danksy die vindingryke bewaringsmaatreëls wat sedert 1926 getref is, het hierdie biologiese juweel behoue gebly. Kom saam met ons terwyl ons die ryk diversiteit wat in hierdie park aangetref word, van naderby ondersoek.

’n Reënwoud met groot diversiteit

Terwyl ons in die woud loop en na ’n koor van voëlsang en aaproepe luister, kyk ons met ontsag na die ou bome met hulle enorme stamme wat tot 60 meter bo ons uittoring. Ons gids sê vir ons dat meer as die helfte van die 1 300 plantsoorte in hierdie park, wat 3 500 vierkante kilometer beslaan, slegs in hierdie deel van Wes-Afrika voorkom.

Die plantegroei is welig en daar is ’n groot verskeidenheid. Baie soorte timmerhoutbome groei in die digte woud, veral mahonie-, ebbe-, dabéma- en makore-bome. Ons moet reusetreë oor boomwortels gee, want sommige van hulle steek ’n meter bo die woudvloer uit en is 15 meter lank. Diere gebruik hierdie wortelstelsels soms as skuiling teen roofdiere en reënstorms.

Die boonste boomtakke vorm ’n aaneenlopende blaredak. Dit keer dat lig die woudvloer bereik, wat die groei van kleiner plante belemmer. Maar hangende liane—houtagtige klimplante—en epifiete groei hier. Sommige klimplante groei teen bome vir ondersteuning en vleg om die stam, en soms wurg dit selfs die boom. Ons gids wys vir ons ’n wurgvy wat styf om ’n enorme boomstam gedraai is. Met verloop van tyd sal die vy die oorhand kry en sal die gasheerboom doodgaan.

Die Taï-park is ’n ryk bron van medisyne en voedsel. Ons gids sê vir ons dat die Kru-stam die bas van die limbaboom gebruik om malaria te behandel. Die vrug van ’n ander boom bevat ’n proteïen wat duisende kere soeter is as gewone suiker.

Ryk aan dierelewe

Skielik hoor ons die geritsel van blare hoog bokant ons. Dit is ’n groot trop lawaaierige diana- en mona-ape. Hulle gee skril alarmroepe terwyl hulle van tak tot tak spring. ’n Mona-aap, met sy komieklike gesig met ’n wit streep, hou ons met net soveel belangstelling dop as wat ons hom dophou! Met al die vrugte en neute in die blaredak is daar oorgenoeg kos vir die ape, sjimpansees en voëls. ’n Mens sien dikwels hoe ape en voëls lawaaierig van dieselfde vrugteboom eet.

Daar word 50 soorte soogdiere in die Taï-park aangetref, en baie van hulle kom algemeen in die streek voor. Buffels en bosolifante woon hier, sowel as bongo’s, bosvarke, duikers, reusebosvarke, luiperds en dwergseekoeie. Van die kleiner diere is die sivetkat, die goudkat, die woudmuskeljaatkat, die muishond, die miervreter en die naglewende ooraap.

Ons gids identifiseer baie dierespore, soos dié van die duiker, ’n kleinerige boksoort. In die woud is daar sewe soorte duikers, onder meer die seldsame Jentink se duiker, die sebraduiker en Ogilby se duiker. Ons sien die spore van reusebosvarke waar hulle na wortels gesoek het, en ons inspekteer die houplek van die geskubde, reusemiervreter, wat miere en termiete eet. Een paar reusemiervreters het ’n groot gat met twee kamers in die woudvloer gegrawe. Hierdie ondergrondse kamers is tot 40 meter lank en 5 meter diep. Die miervreter eet snags en loop kilometers ver voordat hy net voor sonsopkoms na sy woongat terugkeer. Hy breek termietneste met sy skerp kloue oop en gebruik sy klewerige tong om die insekte uit te haal.

Ons gids vind ’n trop sjimpansees wat in hierdie gebied van 20 vierkante kilometer rondbeweeg. Daar is meer as 2 000 sjimpansees in die park. Ons het al gehoor dat hulle klippe of takke saam met hulle dra om neute mee oop te breek. Ons was in die wolke toe ons ’n sjimpansee ongeveer vyf meter van ons af op die woudvloer sien sit terwyl hy ’n neut met ’n tak probeer oopbreek.

’n Voëlkykersparadys

Die volgende dag vaar ons in ’n kano op die Hana-rivier. Terwyl ons gidse saggies roei, identifiseer hulle die talle voëlsoorte wat ons sien. Ons hoor die bloukeelneushoringvoël, wat uitgeken word aan sy skel roep en die geluid wat sy vlerke maak wanneer hy vlieg. Sewe van die talle soorte neushoringvoëls kom in die Taï-park voor. Altesaam word meer as 200 soorte voëls hier aangetref. Dit sluit ses soorte visvangers in, asook valke, loeries, papegaaie, duiwe, fisante, suikerbekkies en vlieëvangers. Die seldsame en kleurvolle bosloerie is ook al hier gesien. Die mannetjie het blinkgroen vlerke, ’n rooi bors en wit stertvere. Ons sien talle helderkleurige voëls, soos die grootbloutoerako, die Madagaskarpapegaaiduif, die gryspapepaai, blouborsvisvanger en die hadida, met sy metaalgroen vere. Die Taï-park is ’n voëlkykersparadys!

Op die rivieroewer is daar nog dierespore, onder andere dié van die dwergseekoei—’n miniatuurweergawe van die gewone seekoei. Hierdie dier is omtrent so groot soos ’n groot vark. Die dwergseekoei bring minder tyd in die water deur as sy groter neef en beweeg nooit in ’n trop rond nie. Hy word slegs in Wes-Afrika aangetref. Ons sien ook ’n waterlikkewaan, ’n groot gespikkelde akkedis wat soortgelyk is aan ’n krokodil, maar baie kleiner. Daar is 3 soorte krokodille hier sowel as 34 soorte slange, ’n groot verskeidenheid akkedisse en ’n groot insekbevolking—en hulle almal floreer in die woud. Baie van die insekte moet nog geïdentifiseer word.

Dit is betreurenswaardig dat die reënwoude van ons planeet teen ’n kommerwekkende spoed verdwyn. Die vernaamste bedreigings is die uitbreiding van die landbou en die houtbedryf. Dit is bemoedigend om te weet dat die toekoms van ons aarde in die betroubare hande van die Skepper self is.—Psalm 96:12, 13.

[Kaart op bladsy 14]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Sierra Leone

Liberië

Côte d’Ivoire

Taï- Nasionale Park

Ghana

[Prent op bladsy 15]

Boomwortels bo die grond

Mahonie

[Prent op bladsy 15]

Olifantkalfie

[Prent op bladsy 15]

Afrika-goudkat

[Prent op bladsy 15]

Afrika-buffel

[Prent op bladsy 15]

Sebraduiker

[Prent op bladsy 15]

Rugduiker

[Prent op bladsy 16]

Hadida

[Prent op bladsy 16]

Grootbloutoerako’s

[Prent op bladsy 16]

Visarend

[Prent op bladsy 16]

Bosloerie

[Prent op bladsy 16]

Blouborsvisvanger

[Prent op bladsy 16]

Langstertmiervreter

[Prent op bladsy 16]

Dwergseekoei

[Prent op bladsy 16]

Boompadda

[Prent op bladsy 16]

Muishond

[Prent op bladsy 16]

Waterlikkewaan

[Prent op bladsy 17]

Mona-aap

[Prent op bladsy 17]

Westerse rooi kolobusape

[Prent op bladsy 17]

Sjimpansee

[Prent op bladsy 17]

Klein witneusaap

[Prent op bladsy 17]

Luiperd

[Prent op bladsy 17]

Bosvark

[Prent op bladsy 16, 17]

Afrika-sivetkat

[Foto-erkenning op bladsy 14]

Parc National de Taï

[Foto-erkenning op bladsy 15]

Goudkat: © Art Wolfe/Photo Researchers, Inc.; alle ander foto’s behalwe olifant: Parc National de Taï

[Foto-erkenning op bladsy 16]

Hadida: © Joe McDonald/Visuals Unlimited; visvanger: Keith Warmington; seekoei: © NHPA/Anthony Bannister; bosloerie: © P&H Harris; alle ander foto’s: Parc National de Taï

[Foto-erkenning op bladsy 17]

Vark: © Ken Lucas/Visuals Unlimited; alle ander foto’s behalwe sjimpansee en luiperd: Parc National de Taï