Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Van ons lesers

Van ons lesers

Van ons lesers

Gestremde verkondiger Ek kon die trane nie keer toe ek die verhaal van Konstantin Morozof in die artikel “’n Positiewe uitkyk ondanks gebreke” (22 Februarie 2000) gelees het nie. Ek is ’n enkelmoeder wat twee kinders moet grootmaak. Dit is nie maklik nie, en soms lyk dit of my probleme nooit gaan ophou nie. Maar dit is nog steeds niks in vergelyking met wat Konstantin moet deurmaak nie!

I., Rusland

Ek is ’n voltydse evangeliedienaar. Ek ly aan retinaverswakking en vind dit baie moeilik om te lees. Ek was altyd ’n ywerige leser, en soms raak ek gefrustreerd en terneergedruk. Wanneer ek aan Konstantin dink, voel ek dat ek nooit moet kla nie. Hy het bergagtige struikelblokke te bowe gekom en dien as ’n voltydse evangeliedienaar. Watter krag voorsien Jehovah tog!

W. W., Indië

Op die ouderdom van 16 is ek van die onderlyf af verlam. Soos Konstantin ondervind ek daagliks probleme. Die artikel het egter getoon dat ’n gestremde persoon wel ’n plek in die gemeenskap kan hê en God kan aanbid. Selfs al is my gehoor nie baie goed nie en kan ek nie mooi sien nie, getuig ek dikwels alleen op straat terwyl ek op ’n stoel met my rug na ’n muur sit. Ek wens Konstantin geluk vir sy ywer en toegewydheid.

D. F., Côte d’lvoire

Hedendaagse slawerny In die roerende reeks “Hedendaagse slawerny—Die einde is naby!” (8 Maart 2000) word die stelling gemaak: “Niemand kan ’n ware Christen wees en hom terselfdertyd skuldig maak aan die onmenslike uitbuiting en onderdrukking van enige ander mens nie.” Hoe versigtig moet ’n Christen dan wees om nie hierdie verskriklike gebruik te ondersteun nie? In die Westerse wêreld is dit byna onmoontlik om produkte te kry wat nie onder twyfelagtige omstandighede vervaardig is nie.

K. H., Verenigde State

Die artikel het die direkte uitbuiting van mense deur vervaardigers en ander bespreek. Ons het nie probeer sê dat ’n Christen verplig is om baie tyd daaraan te wy om die agtergrond van elke produk wat hy of sy koop, na te vors nie. Maar as dit bekend is dat iets die produk van slawearbeid is, moet ’n Christen persoonlik besluit of hy dit gaan koop of nie. Soos in alle aangeleenthede, sal ’n Christen ook hier ’n goeie gewete voor God wil behou (1 Petrus 3:16).—RED.

Ek is ’n 16-jarige meisie, en julle artikel het my diep geroer. Ek ken ’n aantal jong meisies wat weens moderne slawerny ly. Hulle werk baie hard in gesinne wat aan hulle blyplek voorsien. Maar hulle ontvang geen opvoeding—of liefde—nie. Ek was baie verlig om in die Bybel te lees dat Jehovah binnekort diegene sal bevry wat onderdruk word.

A. O., Burkina Faso

Geloof Vandag het ek die artikel “Die Bybelse beskouing: Ware geloof—Wat is dit?” (8 Maart 2000) gelees. Dit het op logiese wyse getoon dat die ware geloof nie goedgelowigheid is nie. Baie tydskrifte is vol advertensies en bevat min leersame of opbouende artikels. Ons moet nooit vanselfsprekend aanvaar wat julle vir ons publiseer nie.

E. S., Italië

Noag-video Ek moes net my waardering uitspreek vir die artikel “Noah—He Walked With God—Hoe die video gemaak is” (8 Maart 2000). Ons twee en ’n half jaar oue seuntjie kyk al na die video nog voordat hy kon loop. Hy kyk dit oor en oor en wil hê dat ek sekere gedeeltes moet terugspeel sodat hy weer daarna kan kyk. Hoe wonderlik is dit tog om hulpmiddele te hê wat liefde vir Jehovah by ons kinders inskerp!

M.V.G., Verenigde State