Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Van pyn tot narkose

Van pyn tot narkose

 Van pyn tot narkose

VOOR die 1840’s het pasiënte nie angstig gevoel wanneer hulle in ’n operasiesaal ingegaan het nie. Hulle was doodbang! Waarom? Want daar was geen narkose nie. In sy boek “We Have Conquered Pain”, sê Dennis Fradin: “Dit was nie ongewoon vir chirurge om met ’n bottel whisky in elke hand die operasiesaal in te gaan nie—een vir die pasiënt en die ander vir die dokter sodat hy sy pasiënt se geskreeu kon verduur.”

Dronk of bedwelmde pasiënte!

Dokters, tandartse en pasiënte het amper enigiets probeer om die pyn van ’n operasie te verminder. Chinese en Indiese dokters het dagga en hasjisj gebruik. Opium is ook algemeen in verskillende wêrelddele gebruik, asook alkohol. Die antieke Griekse geneesheer Dioscorides—die eerste persoon waarvan ons weet wat die woord “anestesie” gebruik het—het narkotiese eienskappe toegeskryf aan middels wat van alruin en wyn gemaak is. Later het dokters selfs met hipnotisme geëksperimenteer.

Maar pynverligting was nog glad nie bevredigend nie. Gevolglik het chirurge en tandartse so vinnig as moontlik gewerk; trouens, hulle is volgens hulle spoed beoordeel. Maar die vinnigstes kon nog steeds geweldige pyn veroorsaak. Daarom het mense dikwels verkies om eerder met allerhande gesondheidsprobleme saam te leef, van gewasse tot ’n mond vol vrot tande, as om ’n operasie te ondergaan of hulle tande te laat trek en die pyn te verduur.

Soet vitrioel en laggas

In 1275 het die Spaanse geneesheer Raymond Lullus tydens eksperimente met chemiese stowwe ’n vlugtige, vlambare vloeistof gemaak wat hy soet vitrioel genoem het. In die 16de eeu het ’n Switserse geneesheer, wat algemeen as Paracelsus bekend gestaan het, hoenders soet vitrioel laat inasem en opgelet dat hulle nie net aan die slaap geraak het nie, maar ook geen pyn gevoel het nie. Soos Lullus voor hom het hy ook nie op mense geëksperimenteer nie. In 1730 het die Duitse skeikundige Frobenius hierdie vloeistof sy huidige naam, eter, gegee, wat Grieks is vir “hemels”. Maar nog 112 jaar het verbygegaan voordat eter se narkotiese waarde ten volle benut is.

Intussen, in 1772, het die Engelse wetenskaplike Joseph Priestley die gas stikstofmonoksied ontdek. Aanvanklik het mense gedink dat hierdie gas dodelik is, selfs in klein dosisse. Maar in 1799 het die Britse skeikundige en uitvinder Humphry Davy besluit om uit te vind deur  op homself te eksperimenteer. Tot sy verbasing het hy uitgevind dat stikstofmonoksied hom laat lag, en daarom het hy dit laggas genoem. Davy het oor die moontlike narkotiese eienskappe van stikstofmonoksied geskryf, maar niemand het destyds die saak enigsins verder gevoer nie.

Eter- en laggaspartytjies

Davy se manewales terwyl hy onder die invloed van laggas was—waaraan hy tydelik verslaaf geraak het—het goed bekend geword. Mense het dit kort voor lank vir die pret begin inasem. Selfs reisende vermaaklikheidskunstenaars het as deel van hulle programme vrywilligers uit die gehoor na die verhoog geroep en hulle stikstofmonoksied laat inasem. Die gas het inhibisies laat verdwyn, en die onbeheerste manewales van die vrywilligers het die gehore laat skater van die lag.

In daardie selfde tyd het die gebruik van eter vir die pret ook gewild geword. Maar eendag het ’n jong Amerikaanse geneesheer met die naam Crawford W. Long opgemerk dat sy vriende geen pyn gevoel het wanneer hulle hulleself beseer het terwyl hulle onder die invloed van eter rondgestrompel het nie. Hy het onmiddellik aan die moontlike gebruik daarvan tydens operasies gedink. Toevallig het ’n deelnemer aan een van daardie “eterpartytjies”, ’n student met die naam James Venable, twee klein gewasse gehad wat hy wou laat verwyder. Maar omdat Venable bang was vir die pyn van die operasie het hy dit bly uitstel. Long het dus voorgestel dat hy die operasie onder die invloed van eter ondergaan. Venable het ingestem, en op 30 Maart 1842 het hy ’n pynlose operasie gehad. Maar Long het sy ontdekking eers in 1849 bekend gemaak.

Tandartse ontdek ook narkose

In Desember 1844 het ’n Amerikaanse tandarts met die naam Horace Wells ’n vertoning van reisende vermaaklikheidskunstenaars bygewoon waar ’n sekere Gardner Colton stikstofmonoksied gedemonstreer het. Wells het aangebied om die gas in te asem, maar hy het nugter genoeg gebly om op te merk dat ’n ander deelnemer sy been teen ’n harde bank gestamp het, maar geen pyn gevoel het nie, al het hy gebloei. Daardie aand het Wells besluit om stikstofmonoksied in sy tandheelkundige praktyk op die proef te stel—maar eers nadat hy dit op homself getoets het. Hy het gereël dat Colton die gas voorsien en dat die tandarts John Riggs ’n lastige verstandtand uittrek. Die tand is met welslae uitgetrek.

Wells het besluit om sy ontdekking in die openbaar bekend te maak deur dit voor sy kollegas te demonstreer. Maar hy was baie senuweeagtig en het sy pasiënt nie genoeg gas gegee nie sodat hy geskree het toe die tand getrek is. Wells se gehoor het hom onmiddellik bespot. Maar hulle moes die pasiënt ondervra het, want hy het later vir Wells gesê dat hy min pyn gevoel het, al het hy geskree.

Op 30 September 1846 het ’n ander Amerikaanse  tandarts William Morton ’n pasiënt wat ingestem het om eter te gebruik—dieselfde gas as wat Long in 1842 gebruik het—se tand sonder enige pyn getrek. Morton het sy eter met die hulp van die beroemde skeikundige Charles Thomas Jackson voorberei. Anders as Long het Morton ’n openbare demonstrasie gereël van eter se narkotiese eienskappe op ’n pasiënt wat ’n operasie ondergaan het. Op 16 Oktober 1846 in Boston, Massachusetts, het Morton die pasiënt verdoof. Toe het die chirurg, ’n dr. Warren, die operasie uitgevoer—die verwydering van ’n gewas onder die pasiënt se kaak. Die operasie was ’n groot sukses. Die nuus het soos ’n veldbrand deur die Verenigde State en Europa versprei.

Verdere ontdekkings

As gevolg van hierdie opwindende ontdekkings het eksperimente met verskillende vlugtige stowwe voortgegaan. Chloroform is in 1831 ontdek en is in 1847 met welslae gebruik. In sommige plekke het dit gou die verdowingsmiddel geword wat by voorkeur gebruik is. Weldra is chloroform vir vroue tydens bevalling gegee, onder andere in April 1853 aan koningin Victoria van Engeland.

Ongelukkig is die geskiedenis van algehele verdowing effens geskend. ’n Hewige geskil het ontstaan oor wie—Long, Wells, Morton of Jackson, die beroemde skeikundige wat Morton bygestaan het—die grootste erkenning vir die ontdekking van narkose moes ontvang (natuurlik nie van die chemiese stowwe self nie). Geen eenstemmigheid is al ooit bereik nie, maar later, toe mense se emosies bedaar het, het baie die bydrae van al vier mans erken.

Intussen is vooruitgang in die veld van plaaslike verdowing gemaak, wat dikwels lokale verdowing genoem word. Verdowingsmiddels word gebruik wat pasiënte toelaat om by hulle volle bewussyn te bly terwyl een deel van hulle liggaam verdoof word. Deesdae gebruik tandartse dikwels plaaslike verdowing wanneer hulle aan tande en tandvleis werk, en geneeshere gebruik dit vir klein operasies en wondbehandeling. Narkotiseurs dien dikwels plaaslike verdowing toe aan vroue wat geboorte gee.

Verdowingskunde het met verloop van tyd in ’n mediese spesialiteit ontwikkel. Hedendaagse narkotiseurs help om pasiënte vir operasies voor te berei. Hulle verdoof pasiënte met behulp van gesofistikeerde toerusting en verdowingsmiddels wat mengsels van ’n aantal chemiese middels is, tesame met suurstof. Trouens, baie pasiënte weet miskien nie eers dat hulle dokter narkotiese gasse gebruik het nie omdat dit dikwels toegedien word eers nadat aanvanklike verdowing binneaars toegedien is. Die narkotiseur is ook betrokke by pynverligting ná die operasie.

Moet dus nie te angstig word as jy eendag ’n operasie moet ondergaan nie. Stel jou voor dat jy twee eeue gelede op ’n eenvoudige operasietafel lê. Die deur gaan oop en die chirurg stap in met twee bottels whisky. Skielik lyk die gesofistikeerde toerusting van die hedendaagse narkotiseur nie heeltemal meer so vreesaanjaend nie, of hoe?

[Venster op bladsy 22]

AKUPUNKTUUR—Pynverligting uit die Ooste

Akupunktuur is ’n antieke Chinese terapie wat blykbaar pyn verlig. Praktisyns steek naalde op spesifieke plekke in die liggaam in, dikwels ver van die liggaamsdeel wat behandel word. Wanneer die naalde eers ingesteek is, kan dit gedraai of aan ’n swak elektriese stroom gekoppel word. Die Encyclopædia Britannica sê dat akupunktuur “dikwels in China gedurende chirurgie gebruik word om pasiënte te verdoof. Westerse besoekers het al ingewikkelde (en gewoonlik pynlike) operasies op Chinese pasiënte aanskou wat by hulle volle bewussyn was en slegs plaaslike verdowing deur middel van akupunktuur toegedien is.”

Akupunktuur moet slegs deur ’n bekwame, medies opgeleide terapeut beoefen word. Volgens die Encyclopedia Americana “het ernstige ongelukke al plaasgevind wanneer akupunktuurnaalde die hart of die longe raakgesteek het, en wanneer ongesteriliseerde naalde gebruik word, kan dit tot hepatitis, plaaslike infeksie en soortgelyke komplikasies lei”. Natuurlik hou algehele verdowing, soos met operasies self—ongeag watter vorm van verdowing gebruik word—ook gevare in.

[Prent op bladsy 23]

Verdowingskunde het ’n mediese spesialiteit geword

[Erkenning]

Courtesy of Departments of Anesthesia and Bloodless Medicine and Surgery, Bridgeport Hospital - CT

[Foto-erkenning op bladsy 21]

Bladsye 2 en 21: Reproduced from Medicine and the Artist (Ars Medica) by permission of the Philadelphia Museum of Art/Carl Zigrosser/Dover Publications, Inc.