Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Die jongste oor ondervoeding

“Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) skat dat ongeveer die helfte van die bevolking van alle lande—ryk en arm—aan een of ander vorm van ondervoeding ly”, berig State of the World 2000. Daar word geskat dat 1,2 miljard mense regoor die wêreld aan ondervoeding ly. Daarbenewens ly etlike miljarde mense na bewering aan ‘stille honger’, wat na diegene verwys wat skynbaar genoeg kos kry, maar aangetas word deur ’n gebrek aan noodsaaklike vitamiene en minerale. “Die mite bestaan nog vandag dat honger veroorsaak word deur onvoldoende voedselvoorraad”, sê die Worldwatch-instituut, wat die jaarlikse State of the World-verslag saamstel. “In werklikheid is honger die gevolg van mense se besluite . . . Of mense ’n behoorlike bestaan kan maak, watter status aan vroue gegee word en of regerings teenoor hulle burgers aanspreeklik is—dít, veel eerder as ’n land se landboupotensiaal, bepaal wie eet en wie nie.”

Selfmoord in Frankryk

“Dertig persent van Franse volwassenes het al oorweeg om selfmoord te pleeg”, berig die koerant Le Monde. Van diegene wat in hierdie opname ondervra is, die eerste een in Frankryk oor selfmoord, het 13 persent gesê dat hulle dit al ernstig oorweeg het om selfmoord te pleeg, en nog 17 persent het erken dat die gedagte al by hulle opgekom het. Maar volgens Michel Debout, professor van geregtelike geneeskunde aan die universiteitshospitaal in Saint-Étienne, is die ware syfer veel hoër, aangesien baie geneig is om sulke gedagtes weens skuldgevoelens weg te steek. Die meeste van diegene wat ondervra is, beskou selfmoord as “’n wanhoopsdaad” wat deur maatskaplike probleme veroorsaak word en nie deur gesinsomstandighede nie. Daar is elke jaar 160 000 selfmoordpogings en ongeveer 12 000 sterfgevalle weens selfmoord in Frankryk.

A la carte-godsdiens

’n Studie deur die meningspeiler George Gallup jr. toon dat die meeste mense in die Verenigde State godsdiens as “’n mengelslaai” beskou. In plaas van “tradisionele geloofstelsels [te volg], soek [Noord-]Amerikaners uit wat hulle wil glo en meng hulle dikwels idees in een godsdiens of bring hulle twee of meer godsdienste saam in ’n persoonlike geloofstelsel”, berig die Kanadese koerant die National Post. Die studie toon ook dat “daar ’n opvallende gebrek aan kennis oor die Bybel, basiese leerstellings en die tradisies van ’n mens se eie godsdiens is” en dat “die geloof wat mense bely dikwels oppervlakkig is, aangesien mense nie weet wat hulle glo of waarom hulle dit glo nie”, sê die koerant. Reginald Bibby, ’n professor van sosiologie aan die Universiteit van Lethbridge, Alberta, Kanada, sê: “Die oorgrote meerderheid assosieer hulleself nog steeds met die oorheersende Katolieke en Protestantse tradisies, maar soek sorgvuldig opvattings, gebruike en professionele dienste uit—soos doopplegtighede, troues en begrafnisse.”

Koffie en gifstowwe

Volgens onlangse navorsing kan koffie “78 tot 90 persent van opgeloste swaarmetale, soos lood en koper, [uit kraanwater verwyder], aangesien die koffiemoer, met ongelaaide of negatief gelaaide molekules, die positief gelaaide swaarmetale aantrek”, berig die koerant die Australian. “Hoe sterker die koffie, hoe beter is die verwydering”, het die omgewingskeikundige dr. Mike McLaughlin gesê. Soortgelyke eksperimente is met teesakkies gedoen, maar hoewel tee ongeveer ’n derde van die lood verwyder, het dit blykbaar nie veel uitwerking op die koper nie.

Sabbatsneeuman?

Swaar sneeuval in Israel verlede winter het plaaslike Ortodokse Jode met ’n paar moeilike vrae gelaat: Is sneeubalgevegte toelaatbaar op die Sabbat? En mag ’n mens ’n sneeuman maak? Volgens die nuusdiens IsraelWire het die voormalige Israeliese hoofrabbi Mordehai Elijahoe nou met riglyne vorendag gekom vir dié gelowiges wat onseker is oor wat toelaatbaar en wat nie toelaatbaar is nie. Om ’n sneeuman te maak, is “werk”, het die rabbi verduidelik, selfs al word dit net vir die pret gedoen. Gevolglik kom hierdie aktiwiteit onder die Sabbatsbeperkings. Om ’n sneeugeveg te hê, is egter nie werk nie en is derhalwe toelaatbaar. Maar daar is een voorwaarde. Alle deelnemers moet tot die geveg instem, wat beteken dat ’n mens nie sneeuballe na verbygangers mag gooi nie.

Volwassenes se brein vervaardig nuwe senuselle?

“Daar is dekades lank aangeneem dat mense met al die breinselle gebore word wat hulle ooit sal hê”, sê The New York Times. Al het eksperimente op sekere diere reeds in 1965 getoon dat hulle brein nuwe senuselle vervaardig, het baie neuroloë geglo dat dit nie met mense gebeur nie. Maar gedurende die afgelope dekade is daar baie bewyse gevind dat die brein wel nuwe senuselle vervaardig en dat dit moontlik voortdurend hernieu word. Verlede jaar het navorsers ontdek dat nuwe selle in ’n deel van die mensebrein gevorm word wat met die korttermyngeheue geassosieer word. Sommige wetenskaplikes glo nou dat “die brein homself gedurigdeur herstel”.

Ernstige spanning geassosieer met kindermishandeling

“Vroue wat as kinders fisies of seksueel mishandel is, kan lewenslank ly omdat hulle verkeerd op spanning reageer”, berig The Dallas Morning News. Navorsers by die Emory-universiteit in Atlanta het die spanningshormoonvlakke en die hartklop van vroue wat voorheen mishandel is met dié van vroue vergelyk wat nie mishandel is nie, terwyl die vroue ’n spanningsvolle taak verrig het. Diegene wat as kinders mishandel is, het baie hoër vlakke van spanningshormone en ’n vinniger hartklop weens spanning gehad. Die navorsers het tot die gevolgtrekking gekom dat “daar moontlik ’n permanente biochemiese versteuring kan wees in die manier waarop hulle liggaam op spanning reageer en dit reguleer”, sê die koerant.

Swaar rugsakke

’n Studie deur die Amerikaanse Akademie van Ortopediese Chirurge het getoon dat daar ’n nou verwantskap is tussen rug- en skouerpyn by kinders en die swaar rugsakke wat sommige kinders dra. Nadat hulle hulle rugsakke vol skoolboeke, kos en koeldrank, musiekinstrumente en skoon klere gestop het, dra party kinders vragte van tot 18 kilogram. Kindergeneeskundiges waarsku dat laerskoolkinders uiteindelik ernstige rugprobleme kan hê, onder andere ruggraatverkromming, as hulle elke dag sulke swaar vragte skool toe dra. Sommige spesialiste stel aan skoolhoofde en onderwysers voor dat die gewig van die rugsakke wat leerlinge dra nie meer as 20 persent van die liggaamsgewig van die kind moet wees nie of dat rugsakke “wielletjies, heupbande en selfs ’n gewatteerde rugkant moet hê”, berig die koerant Excelsior van Mexikostad.

Wyn—drie eeue oud

Twee bottels wyn is in die puin van ’n Londense gebou ontdek wat in 1682 verwoes is, berig The Times van Londen. Die kurk van een van die bottels het verkrummel, en die wyn het asyn geword; maar die ander kurk, wat deur draad en was in posisie gehou is, was nog steeds perfek geseël. By ’n spesiale wynproegeleentheid by die Londen-museum het wynkenners die eeue oue wyn wat met ’n spuit uit die bottel getrek is, geproe. Hulle sê dat dit waarskynlik ’n droë Madeira is, en hulle het die smaak as “vars, skoon, lewendig en goed gebalanseerd” beskryf.

Wêreld se riviere in ernstige gevaar

“Meer as die helfte van die wêreld se groot riviere droog op of is besoedel”, berig die koerant USA Today. Talle waterweë is “baie laag en besoedel” weens die oorgebruik en misbruik van grond en water, sê die Wêreldkommissie vir Water vir die 21ste Eeu. Die besoedeling van hierdie natuurlike hulpbronne “bedreig die gesondheid en lewensonderhoud van mense wat daarop staat maak vir besproeiing, drinkwater en nywerheidsgebruik”, sê die kommissie. Interessant genoeg, van die 500 groot riviere in die wêreld is die twee “gesondste” riviere die Amasone in Suid-Amerika en die Kongo in Afrika. Die rede? “Albei het min nywerheidsentrums naby hulle oewers”, sê die verslag.