Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Aardbewing!

Aardbewing!

 Aardbewing!

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN TAIWAN

“Ek het in my woonstel in Taipei op die negende vloer gelê en lees toe die ligte begin verdof het. Toe het die vertrek verskriklik begin skud. Dit was asof ’n monster die gebou gegryp en dit heen en weer geruk het. Ek het onder ’n tafel in geduik toe ek hoor hoe voorwerpe op die boonste vloer stukkend val, want ek was bang dat die plafon sou meegee. Dit het gevoel asof dit nie gaan ophou nie.”—’n Joernalis wat in Taiwan woon.

AARDBEWING. Die blote melding van die woord maak mense bang, en onlangs het jy dit miskien so dikwels gehoor dat dit jou ongerus gemaak het. Volgens die Amerikaanse Departement van Geologiese Opnames het meer as die gewone aantal groot aardbewings gedurende 1999 plaasgevind, en die aantal sterfgevalle wat dit meegebring het, was dubbel die jaarlikse gemiddelde.

Die grootste aardbewing van 1999 het in Taiwan plaasgevind, waar twee groot kontinentale plate van die aarde se kors ontmoet. Daar is altesaam 51 geïdentifiseerde verskuiwingslyne wat deur Taiwan loop. Dit is derhalwe nie verbasend dat ongeveer 15 000 aardskuddings elke jaar hier opgeteken word nie. Die meeste van hulle is egter te klein om gevoel te word.

Dit was nie op 21 September 1999 die geval nie. Om 1:47 vm. is Taiwan deur ’n aardbewing geskud wat so hewig was dat president Lee Teng-hui dit beskryf het as “die eiland se ergste in ’n eeu”. Dit het net 30 sekondes geduur, maar het 7,6 op die  Richterskaal gemeet. * Die aardskudding was ongeveer ’n kilometer diep, en omdat dit so vlak was, is die volle impak daarvan gevoel. “Ek is deur ’n hewige skudding wakker gemaak”, sê Lioe Xioe-Xia, wat naby die aardbewing se episentrum woon. “Meubels het omgeval, en selfs die daklig het neergestort. Weens al die voorwerpe en gebreekte glas wat voor die deur gelê het, wou die deur nie oop nie en kon ek nie uitkom nie.” Huang Sjoe-Hong, wat uit haar bed uit gegooi is deur die aardbewing, het voor ’n ander uitdaging te staan gekom. “Die elektrisiteit het onmiddellik afgegaan, en dit was baie donker”, sê sy. “Ek het buitentoe gestrompel en die res van die nag saam met die bure op die sypaadjie deurgebring. Dit het gevoel of die grond nie ophou beweeg het nie.”

Reddingspogings

Toe die son opkom, kon die skade wat die aardbewing aangerig het, gesien word. Ongeveer 12 000 geboue, van enkelverdiepingwonings tot hoë woonstelgeboue, het ineengestort. Namate nuus oor die ramp versprei het, het reddingswerkers van 23 lande na Taiwan gekom om die plaaslike vrywilligers te help. Baie slagoffers was nog steeds onder die puin vasgevang.

Die eerste 72 uur ná ’n ramp is ’n kritieke tyd om oorlewendes te vind, maar in hierdie geval is reddingswerkers ’n paar keer verras. ’n Sesjarige seuntjie is byvoorbeeld gered nadat hy 87 uur lank vasgevang was. En in Taipei het ’n jong man skielik te voorskyn gekom terwyl werkers swaar masjinerie gebruik het om puin van ’n ineengestorte 12-verdiepinggebou weg te ruim. Hy en sy broer is meer as vyf dae binne-in die gebou vasgevang, en albei het die wedervaring oorleef!

Maar ongelukkig kon almal nie gered word nie, en reddingswerkers het hartverskeurende oomblikke beleef. Een spanleier het byvoorbeeld vertel: “Ons het net agt uur gelede ’n kind hoor huil. Maar toe het dit opgehou.” Die sterftesyfer in Taiwan het uiteindelik 2 300 oorskry, en meer as 8 500 mense is beseer.

 Ná die aardbewing

’n Enorme poging is van stapel gestuur om huisvesting vir die honderdduisende te voorsien wat deur die aardbewing dakloos gelaat is. Aan die begin was party slagoffers effens huiwerig om weer binnenshuis te gaan. Dit is te verstane, want gedurende die eerste tien dae ná die aanvanklike aardbewing is byna 10 000 naskokke opgeteken! Een van hulle het 6,8 op die Richterskaal gemeet, wat verskeie verswakte geboue ineen laat stort het.

Noodlenigingswerk het nietemin voortgegaan. ’n Aantal nieregeringsorganisasies—insluitende buitelandse reddingspanne, die Boeddhiste-groep Tzoe Tsji en brandweermanne—het hulle tyd en vaardighede beskikbaar gestel vir die werk wat gedoen moes word. Jehovah se Getuies was ook by die noodlenigingswerk betrokke. Hulle het, in die gees van die Bybelse raad in Galasiërs 6:10, twee doelwitte gehad. Hulle wou (1) voorsiening maak vir diegene wat in die geloof aan hulle verwant is en (2) goed doen aan almal, insluitende diegene wat nie aan hulle geloof behoort nie.

Teen die einde van die eerste dag het Jehovah se Getuies kos, water, tente en buitemuurse kookgereedskap met vragmotors ingebring. Aangesien alle kommunikasiemiddele buite werking was, het ouer manne van die ses gemeentes in die rampgebied ’n doelbewuste poging aangewend om mede-Getuies en hulle familielede sowel as Bybelstudente en belangstellendes op te spoor. Getuies wat dakloos was, is aangespoor om saam te kampeer sodat daar goed na almal omgesien kon word en almal maklik opgespoor kon word. Reisende opsieners en lede van die Taiwannese Takkomitee het elke groep en gemeente besoek om hulle aan te moedig.

Die volgende stap was om huise en Koninkryksale wat beskadig is te herstel. Elke gemeente het ’n lys gemaak van diegene wat hulp nodig gehad het. Toe is spanne vrywilligers, onder die leiding van die Streekboukomitee, gestuur om die nodige herstelwerk te doen. Binne ’n maand ná die aardbewing is die werk voltooi.

Jehovah se Getuies het ook hulle bure wat nie Getuies is nie, gehelp. Die Getuies het byvoorbeeld hospitale en tentdorpe besoek om die mense daar te bemoedig. Hulle het ook afskrifte versprei van die artikel “Natuurrampe—Help jou kind om dit te verwerk”, wat in die Ontwaak! van 22 Junie 1996 verskyn het. Baie mense was dankbaar om hierdie inligting te ontvang en het dit onmiddellik begin lees. Toe paaie weer oopgestel is, het Jehovah se Getuies vragmotors vol voorraad na afgesonderde bergstreke gestuur waar groot skade deur die aardbewing aangerig is.

Diegene wat die Bybel studeer, besef dat dit lank gelede voorspel het dat die laaste dae van hierdie stelsel van dinge gekenmerk sou word deur “aardbewings op die een plek na die ander” (Matteus 24:7). Maar die Bybel gee ook die versekering dat die mensdom binnekort, onder die vreedsame heerskappy van God se Koninkryk, nie meer in vrees vir natuurrampe sal lewe nie. In daardie tyd sal die aarde werklik ’n paradys wees.—Jesaja 65:17, 21, 23; Lukas 23:43.

[Voetnoot]

^ par. 6 In teenstelling hiermee het die tragiese aardbewing wat in Augustus 1999 in Turkye plaasgevind het 7,4 gemeet, en tog het dit ten minste sewe keer soveel lewens as die een in Taiwan geëis.

[Prente op bladsy 26]

Jehovah se Getuies het hulle vergaderinge gehou terwyl hulle in kampe gewoon het

[Prent op bladsy 27]

Die aardbewing het baie paaie vernietig

[Erkenning]

San Hong R-C Picture Company

[Foto-erkenning op bladsy 25]

San Hong R-C Picture Company

[Foto-erkenning op bladsy 27]

Seismogram op bladsye 2, 25-7: Figure courtesy of the Berkeley Seismological Laboratory