Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

My stryd teen endometriose

My stryd teen endometriose

My stryd teen endometriose

SOOS VERTEL DEUR DEBORAH ANDREOPOULOS

EK MOET reg uit die staanspoor sê dat ek nie die soort vrou is wat alewig bekommerd is oor my gesondheid nie. ’n Bietjie pyn hier en daar pla my nie. Ek probeer om die lewe te aanvaar soos dit is. Party dae is goed; ander is sleg.

Maar gedurende my tienerjare het ek hewige pyn begin kry. Ek het dikwels gedurende die moeilike dae van my menstruasie verskriklike pyn in my eierstokke gehad, asook hoofpyn, diarree, duiseligheid, naarheid en onderrugpyn. Soms het ek meer as een van hierdie simptome gelyktydig gehad. Ek het toe opgemerk dat oefening en rus my help, maar dit was moeilik om die tyd daarvoor te vind.

Elkeen ervaar pyn op sy eie manier. Jy kan dit nie meet nie, en jy kan dit nie altyd oortuigend aan ander beskryf nie. Ek het soms dae lank in die bed gebly, uitgeput deur die simptome wat hierbo genoem is, of ek het my met pynstillers verdoof en myself gedwing om op te staan en ’n meer aktiewe roetine te volg. My vermoë om te werk en ’n normale lewe te lei, is belemmer. Ek was uiters teleurgesteld. Ek kon voel dat iets nie reg was nie. Maar wanneer ek my roetine- mediese ondersoeke gehad het, het die dokters se gerusstellende woorde daardie gedagte verdryf.

Die simptome het vererger nadat ek 30 geword het. Brandende pyne het om geen verklaarbare rede nie gekom en gegaan. Hewige pyn het my in die middel van die nag wakker gemaak. Op een stadium het ek net ’n paar uur per week geslaap. Ek het ook van tyd tot tyd ’n paar dae lank ’n effense koors gehad. Uiteindelik het ek pynstillers vir verskillende pyne, krampverligtende pille vir my ingewande, pille vir my maag en salwe en pille vir my rug gebruik.

’n Meester van nabootsing

Die simptome wat ek verduur het, kan aan ’n hele paar bekende siektes toegeskryf word. Dit was asof ek migraine, bekkenvergroeiings, dismenoree (pynlike menstruasie), prikkelbare dermsindroom, dikdermontsteking en maagontsteking gehad het. Ek het baie van die pyn aan dismenoree toegeskryf, maar ek het nie geweet dat die hewigheid van die pyn wat met dismenoree gepaardgaan heeltemal verskil van wat ek ondervind het nie.

Daar is vir my gesê dat dit iets algemeens was om moeilike menstruasie en pyn te hê en dat oorerflikheid, te min gereelde oefening, lang ure van werk by ’n lessenaar, hormonale probleme, moegheid en spanning sowel as die feit dat ek al oor 30 was en nog nie geboorte gegee het nie daartoe kan bydra. Een dokter het selfs vir my gesê dat al my simptome ’n teken van goeie gesondheid is!

Maar wat van die ander verontrustende simptome? My moegheid is aan harde werk en spanning toegeskryf. My koors is aan uitputting toegeskryf. My ingewandspyne en maagprobleme is oënskynlik deur spanning en ’n slegte dieet veroorsaak. ’n Probleem met my ruggraat en slegte postuur is die skuld gegee vir my rugpyn. Alles kon dus skynbaar verklaar word. Maar ek het nog steeds ellendig gevoel.

Uiteindelik ’n regte diagnose

Ek het in April 1998 ’n ultraklankskandering gehad, maar die toets het getoon dat my eierstokke skoon was. Gedurende die volgende vier maande het my gesondheid verder agteruitgegaan. Ek het besluit om ’n dokter te besoek. Hy het my weer vir ’n ultraklankskandering gestuur en ’n groot vergroeiing buite my baarmoeder gevind. Toe het hy my na ’n ginekoloog gestuur. Die ginekoloog het bevestig dat ek óf ’n baie groot sist óf ’n aantal siste langs my baarmoeder het wat 10 by 12 sentimeter groot was—so groot soos wanneer ’n vrou vier maande swanger is! En toe het hy vermoed dat die oorsaak van my probleme endometriose is.

Aan die begin was ek verward. Ek het baie min van endometriose geweet. Ek het soveel vrae gehad. Wat is die oorsaak daarvan? Hoe gaan dit my lewe raak? Daarna was ek verlig. Baie jare lank het ek gevoel asof ek in ’n tonnel van pyn vasgevang is. Toe ek ná herhaalde mediese ondersoeke geen behandeling gekry het wat verligting gebring of bevredigende verduideliking gebied het nie, het ek werklik hulpeloos en terneergedruk gevoel, en ek het op die ou end gedink dat ek oorreageer op normale, alledaagse pyn. Ek het vir myself gesê dat die pyn nie werklik so erg is as wat ek gedink het nie. Maar nou het al die verwarrende simptome ’n verduideliking gehad.

Oorsake en moontlike behandelings

Die dokter het voorgestel dat ek binne die volgende paar dae geopereer word—die sist of siste kon enige tyd bars. Maar voordat ons hiermee voortgegaan het, het ek en my man besluit om die diagnose te ondersoek en soveel as moontlik oor hierdie siekte, endometriose, uit te vind waarvan ons so min geweet het.

Ons het uitgevind dat tot 30 persent van vroue van geslagsrype leeftyd volgens party skattings endometriose het! Die oorsaak van endometriose is onbekend. Volgens een teorie vloei van die menstruele weefsel tydens menstruasie terug deur die Fallopius-buise, en word dit in die buik ingeplant, waar dit groei. ’n Ander teorie sê dat die endometriale weefsel deur die limfvaatstelsel of die bloedstroom van die baarmoeder af na ander dele van die liggaam versprei word. Volgens ’n genetiese teorie word endometriose moontlik in die gene van sekere families gedra of is sommige vroue weens sekere faktore vatbaarder daarvoor. Ander blameer weer toksiene en dioksiene in ons besoedelde omgewing.

Daar is vir ons gesê dat elke geval van endometriose verskillend is. Die ligging van die inplantings, hoe diep dit die weefsel binnedring en die totale grootte daarvan dra by tot die unieke aard van die siekte. Ons het geleer dat selfs die kleinste inplanting hewige pyn kan veroorsaak as dit ’n nabygeleë senuwee irriteer.

Party dokters meen dat ’n histerektomie saam met die verwydering van die eierstokke die beste oplossing is. Andersins kan hormone gebruik word om ovulasie so lank as moontlik te onderdruk. Dit kan die endometriose soms gedurende die periode van behandeling en soms maande of jare daarna laat opklaar. Konserwatiewe chirurgie, deur insnyding of deur die laparoskoop, wat die verwydering of die vernietiging van die vergroeiings behels, word ook in sommige gevalle aanbeveel, en dit kan die simptome verlig.

Chirurgie en terugkering van die siekte

Hierdie laaste opsie het na die beste keuse in my geval gelyk. Nadat die siste chirurgies verwyder is, was ek verbaas toe die dokter vir my sê dat die operasie nie al my gesondheidsprobleme sou regstel nie. Hy het gesê dat ek hoop en aanvaarding nodig sou hê as ek ondanks toekomstige terugslae nog ’n vol lewe wou lei. Hy het my verseker dat hy te eniger tyd beskikbaar sou wees om my te help.

Die dokter het gesê dat ek elke drie maande vir ’n ultraklankskandering van my eierstokke moet gaan en dat ek bereid sal moet wees om van tyd tot tyd medikasie te neem na gelang van my toestand. Hy het voorgestel dat ek onmiddellik behandeling met gonadotropien-vrystellingshormoon begin. Dit het basies die vrystelling van hormone gekeer wat die werking van die eierstokke stimuleer en my in ’n pseudo-menopouse geplaas. Hierdie geneesmiddel kan slegs ses maande lank gebruik word omdat dit ’n verlies aan beendigtheid of ander veranderinge veroorsaak wat met menopouse gepaardgaan.

Ongeveer ’n maand en ’n half ná die behandeling verby was, het ek weer ’n prikkelende pyn gevoel. Ek het gelees oor terugkeringsyfers en het my probeer voorberei vir die volgende aanval van endometriose. Maar ek het nie verwag dat dit so gou sou terugkeer nie. Die ultraklankskandering het getoon dat ek nou ’n groot sist op my linkerkantste eierstok gehad het. Ek het onmiddellik die aanbevole medikasie vir ’n week geneem, en die pyn het afgeneem. Ná ’n paar maande was hierdie sist weg. Maar ’n jaar later het nog ’n sist verskyn. Hoe dit ook al sy, ek sal vir die res van my lewe versigtig moet wees en doktersbehandeling moet ontvang.

Aangesien endometriose ’n siekte is wat met die hormone en immuunstelsel verband hou, is daar ander dinge behalwe medikasie wat my liggaam help om gesond te bly. Ek moes my dieet verander en meer vars groente en baie vrugte eet sowel as vitamiene begin neem en my kafeïeninname verminder. Ek oefen en rus meer. Al hierdie dinge help om die newe-effekte van die medikasie te verminder en my liggaam sterker te maak.

Gedurende hierdie beproewing het ek die medelydende ondersteuning en liefdevolle begrip van my man baie waardeer. My kollegas—almal vrywilligers by die takkantoor van die Wagtoringgenootskap in Griekeland—het my ook ondersteun, en dit verbly my hart. Ek het bowenal krag geput uit my persoonlike verhouding met Jehovah, die een wat my ‘op my siekbed ondersteun het’.—Psalm 41:4.

[Venster/Prent op bladsy 10]

Kommunikeer!

Siekte en pyn kan spanning in enige verhouding veroorsaak. Maar terselfdertyd bied dit ’n mens ook geleenthede om te groei. Wanneer die siekte eindeloos voortsleep, sal die gedrag van die sieke moontlik merkbaar verander. Dit kan dit vir familielede moeilik maak, veral vir die huweliksmaat. Die huweliksmaat moet egter nie moed opgee nie, maar sy kommunikasievermoëns probeer ontwikkel en gebruik—deur stadig te wees om te beskuldig en gou te wees om te vergewe.

’n Vrou met endometriose moet onthou dat die menstruele siklus iets is wat ’n man nog nooit ondervind het nie en dat haar toestand moontlik heeltemal verwarrend vir hom is. Maar as haar man betrokke is by die hele evalueringsproses, kan hy groter begrip verkry. Hier is ’n paar wenke vir die pasiënt.

Jou man kan nie jou gedagtes lees nie; sê vir hom hoe jy voel en waar jy pyn het

Kies ’n dokter wat jou en jou man oor endometriose sal inlig en wat ekstra tyd sal neem indien dit nodig is

Vertel jou man van veranderinge in jou gesteldheid​—⁠insluitende positiewe veranderinge!

Vra hom om oor die siekte te lees

[Venster/Diagramme op bladsy 11]

Wat is endometriose?

Die naam endometriose kom van endometrium—die sellaag wat die uterus (baarmoeder) uitvoer. Endometriose is ’n toestand waarin weefsel wat soortgelyk aan die endometrium is op verskillende plekke buite die baarmoeder verskyn. Die siekte kan in nabygeleë organe soos die eierstokke, die blaas en die ingewande aangetref word, en in sommige gevalle kan dit deur die hele bekken versprei wees.

Hoewel endometriose ’n abnormale groei van weefsel behels, is dit gewoonlik nie kankeragtig nie. Dit is nie die weefsel self wat endometriose ’n afwyking maak nie, maar die feit dat dit buite die baarmoeder aangetref word. Binne-in die baarmoeder help endometriale weefsel om ’n ontwikkelende fetus gedurende swangerskap te voed. By vroue wat nie swanger is nie, word dit tydens menstruasie uitgewerp.

Endometriale weefsel buite die baarmoeder kan egter nie die liggaam verlaat nie. Die gevolg is inwendige bloeding, degenerasie van die bloed en weefsel wat deur die inplantings afgeskei is, ontsteking van die omliggende gebiede en die vorming van littekenweef­sel. Ander komplikasies wat kan voorkom, afhangende van die ligging van die inplantings, is vergroeiings, bloeding of ver­stopping van die ingewande, belemmering van die blaas se funksies en die skeuring van inplantings, wat die siekte kan laat versprei. Simptome kan mettertyd vererger, hoewel dit in sommige gevalle ’n siklus volg waarin dit opklaar en dan weer terugkeer.

[Diagramme]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Fallopius-buise

Eierstokke

Baarmoeder

Endometrium (selle wat die wand van die baarmoeder uitvoer)

Elke maand degenereer en bloei endometriale inplantings, maar dit kan nie uit die liggaam gewerp word nie

Endometriale inplantings

Vergroeiings op die eierstokke

Endometriale inplantings

[Venster/Prent op bladsy 12, 13]

“’N VREEMDE VROUESIEKTE”?

Om meer oor die verstandelike en emosionele uitwerking van endometriose uit te vind, het Ontwaak! met Mary Lou Ballweg gepraat, voorsitster van die Vereniging vir Endometriose, in Milwaukee, Wisconsin. Hier is ’n uittreksel uit daardie onderhoud.

V: Watter emosionele uitwerking het endometriose op vroue?

A: Dit hang baie af van wat die siekte op enige gegewe tyd doen. Vir tienderjariges kan dit emosioneel verpletterend wees. Meisies kan nie werklik verstaan wat aangaan nie, veral omdat hulle toestand nie gewoonlik op daardie stadium gediagnoseer word nie. Hulle is ook baie sensitief oor sulke sake. Hulle wil nie met hulle ouers of met enigiemand anders daaroor praat nie. Hierdie jongmense kan dan begin dink dat hulle nie so sterk of so goed soos ander mense is nie. Hulle sukkel dikwels om by te hou met hulle skoolwerk, en hulle sosiale lewe ly daaronder. Ons weet van baie meisies wat die skool vroeg verlaat het. Ons hoor elke week van ten minste een meisie wat dit nie op skool maak nie weens ernstige gesondheidsprobleme wat met endometriose verband hou.

V: Wat van getroude vrouens en ouer vrouens?

A: Pyn kan ernstige probleme in ’n huwelik veroorsaak, veral as die vrou se toestand nie gediagnoseer word nie. Wanneer dit eers gediagnoseer is, kan die man en vrou saam werk omdat hulle weet wat aangaan. Dan kan hulle hopelik saam maniere vind om die gevolge van die siekte die hoof te bied. Maar wanneer ’n vrou se toestand nie reg gediagnoseer word nie, is dit werklik verpletterend. Ons het ’n vrou op ons personeel wie se dokter—voor haar man—vir haar gesê het dat die simptome net in haar verbeelding bestaan. Die man het die dokter geglo, en nou is hulle geskei. Hierdie gebrek aan begrip is ’n groot uitdaging. As jy huis toe gaan en vir jou gesin sê dat jy die een of ander chroniese siekte het, soos veelvoudige sklerose, gaan jy waarskynlik simpatie en ondersteuning kry. Maar as jy huis toe gaan en vir hulle sê dat jy endometriose het—wel, wat is dit? Vir hulle is dit ’n vreemde vroue­siekte waaroor niemand eers wil praat nie. Jy kry dalk geen ondersteuning nie.

V: Watter soort ondersteuning dink jy kan mans, kinders en ouers aan vroue met endometriose gee?

A: Eerstens dink ek moet hulle die vrou glo en glo wat met haar gebeur. Hulle moet die ondersteuning probeer gee wat hulle sou gegee het as dit enige ander gesondheidsprobleem was. Iets wat baie belangrik is, is dat hulle soveel as moontlik oor die siekte uitvind. As jy meer oor die siekte weet, kan jy verstaan watter uitwerking dit het, asook watter newe-effekte sommige van die geneesmiddels kan hê. Ek dink ook dat die meeste van ons gemeenskappe oor die wêreld ’n taboe geskep het—hulle is verleë om oor vroulike biologie te praat. Dit is werklik ’n jammerte. Ek dink dus dat die grootste uitdaging wat ons wêreldwyd te bowe moet kom waarskynlik is om mense se gesindhede te verander oor presies wat dit beteken om ’n vrou te wees.

[Prent]

Mary Lou Ballweg