Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Antarktika—’n vasteland in die moeilikheid

Antarktika—’n vasteland in die moeilikheid

 Antarktika—’n vasteland in die moeilikheid

WANNEER ruimtevaarders vanuit die ruimte na die aarde kyk, sê die boek Antarctica: The Last Continent, is Antarktika se yslaag die opvallendste kenmerk van ons planeet. Volgens die ruimtevaarders “weerkaats [dit] lig soos ’n groot wit lamp oor die onderste deel van die wêreld”.

Antarktika bevat ongeveer 30 000 000 kubieke kilometer ys, wat dit ’n ysmasjien van kontinentale grootte maak. Sneeu val op die vasteland en pak dan saam om ys te vorm. Swaartekrag maak dat die ys stadig na die kus vloei, en daar gly dit in die see in om ’n enorme ysbank te vorm.—Sien die venster op bladsy 18.

Krimpende ysbanke

Maar in onlangse jare het verskeie ysbanke kleiner geword, of heeltemal verdwyn, omdat dit vinniger smelt as voorheen. In 1995 het ’n stuk van 1 300 vierkante kilometer, volgens een verslag, weggebreek van die 1 000 kilometer lange Larsen-ysbank af en in duisende ysberge opgebreek.

Die gebied wat tot dusver deur krimpende ys geraak is, is die Antarktiese Skiereiland. Die temperatuur van hierdie S-vormige skiereiland, wat ’n voortsetting van die Andesgebergte van Suid-Amerika is, het oor die afgelope 50 jaar met 2,5 grade Celsius gestyg. As gevolg hiervan kan daar nou om James Ross-eiland gevaar word, wat vroeër deur ys omsluit is. Krimpende ys het ook tot ’n skerp toename in plantegroei gelei.

Omdat taamlik baie ys slegs in die omgewing van die Antarktiese Skiereiland gesmelt het, is party wetenskaplikes nie daarvan oortuig dat dit ’n aanduiding van aardverwarming is nie. Maar volgens ’n Noorweegse studie is daar ook ’n vermindering van Arktiese ys. (Omdat die Noordpool nie op ’n landmassa geleë is nie, is baie Arktiese ys see-ys.) Volgens die studie kom al hierdie veranderinge ooreen met die patroon van gebeure wat voorspel is met aardverwarming gepaard sou gaan.

Maar Antarktika doen meer as om net op temperatuurveranderinge te reageer. Die vasteland is al beskryf as “die noodsaaklike werktuig wat die aarde se klimaat tot ’n groot mate bepaal”. As dit die geval is, kan weerpatrone in die toekoms geraak word as die veranderinge op die vasteland voortduur.

Intussen het ’n gat twee keer die grootte van Europa hoog bo Antarktika in die atmosfeer se osoonlaag gevorm. Osoon, ’n vorm van suurstof, beskerm die aarde teen skadelike ultraviolet straling wat oë beskadig en velkanker veroorsaak. Weens die toename in straling moet navorsers in Antarktika hulle vel teen die son beskerm en skermbrille of sonbrille met ’n spesiale weerkaatsende oppervlak dra om hulle oë te beskerm. Slegs tyd sal leer tot watter mate Antarktika se seisoenale natuurlewe geraak word.

Delikate vasteland—wees versigtig

Die opskrif hierbo sal moontlik ’n gepaste verwelkoming vir besoekers aan Antarktika wees. Waarom? Om verskeie redes, volgens die Australiese Antarktiese Afdeling. Eerstens, weens Antarktika se eenvoudige ekologiese wisselwerking is die omgewing uiters gevoelig vir versteurings. Tweedens, plante groei so stadig dat ’n voetspoor in ’n mosbed soms nog tien jaar later gesien kan word. Beskadigde of swak plante is blootgestel aan Antarktika se stormwinde, wat hele plantgemeenskappe kan uitwis. Derdens, uiterste koue beteken dat afvalprodukte dekades kan neem om  te ontbind. Vierdens, mense kan onbewustelik vreemde mikroskopiese lewensvorme na hierdie afgeleë, en gevolglik kwesbare, vasteland bring. Laastens, toeriste en wetenskaplikes besoek gewoonlik die kusstrook—die gebiede wat ook die gunstigste vir wilde diere en plante is. Omdat hierdie gebiede slegs ongeveer 2 persent van die landoppervlakte uitmaak, is dit maklik om te sien waarom Antarktika binnekort oorbevolk kan raak. Dit laat die vraag ontstaan: Onder wie se beheer is hierdie groot vasteland?

Wie regeer Antarktika?

Hoewel sewe lande op dele van Antarktika aanspraak maak, is die vasteland in sy geheel uniek in die sin dat dit nie ’n heerser of burgers het nie. “Antarktika is die enigste vasteland op aarde wat geheel en al deur middel van ’n internasionale ooreenkoms bestuur word”, sê die Australiese Antarktiese Afdeling.

Die ooreenkoms, wat die Antarktiese Verdrag genoem word, is deur 12 regerings onderteken en het op 23 Junie 1961 van krag geword. Sedertdien het die aantal lande wat die verdrag onderteken het tot meer as 40 gegroei. Die oogmerk van die verdrag is “om te verseker dat Antarktika, in die belang van die hele mensdom, altyd uitsluitlik gebruik sal word vir vreedsame doeleindes en nie die toneel of oorsaak van internasionale tweedrag sal word nie”.

In Januarie 1998 het die Omgewingsbewaringsprotokol van die Antarktiese Verdrag in werking getree. Hierdie protokol verbied alle mynbou en mineraalontginning in Antarktika vir ten minste 50 jaar. Dit het ook verklaar dat die vasteland en die mariene ekosisteme wat daarvan afhanklik is ’n “natuurreservaat is wat aan vrede en die wetenskap gewy is”. Militêre bedrywighede, die toetsing van wapens en die berging van kernafval is verbode. Selfs sleehonde word nie toegelaat nie.

Die Antarktiese Verdrag is al “’n ongeëwenaarde voorbeeld van internasionale samewerking” genoem. Maar daar is nog steeds baie probleme wat opgelos moet word, insluitende soewereiniteit. Wie sal byvoorbeeld die verdrag handhaaf, en hoe? En hoe sal die lidlande die vinnige groei van toerisme behartig—’n potensiële bedreiging vir Antarktika se delikate ekologie? In onlangse jare het meer as 7 000 toeriste Antarktika elke jaar per skip besoek, en hierdie syfer sal na verwagting binnekort verdubbel.

Ander uitdagings sal moontlik in die toekoms ontstaan. Sê nou byvoorbeeld wetenskaplikes vind kosbare mineraal- of olieafsettings? Sal die verdrag kommersiële uitbuiting verhoed, sowel as die besoedeling wat dikwels daarop volg? Verdrae kan verander word, en die Antarktiese Verdrag is nie ’n uitsondering nie. Trouens, Artikel 12 maak daarvoor voorsiening dat die verdrag “te eniger tyd verander of gewysig kan word deur ’n eenparige ooreenkoms van die Kontrakterende Partye”.

Geen verdrag kan Antarktika natuurlik teen die gevolge van die moderne, geïndustrialiseerde wêreld beskerm nie. Hoe jammer sal dit tog wees as die “wit lamp” aan die onderkant van die aardbol deur die verreikende gevolge van die mens se hebsug en onkunde geskend word! As Antarktika geskend word, sal die mens benadeel word. As daar iets is wat Antarktika ons leer, is dit dat die hele aarde—soos die menseliggaam—’n onderling verbinde stelsel is wat ons Skepper volmaak geskep het om lewe te onderhou sowel as om ons plesier te verskaf.

[Venster/Prent op bladsy 18]

WAT IS ’N YSBANK?

Hoog in Antarktika se binneland beweeg strome ys wat deur vallende sneeu gevorm is stadig na die kus—party vloei tot ’n kilometer per jaar, volgens onlangse satelliet-radarbeelde. Baie van hierdie ysstrome vloei saam soos takriviere en vorm enorme ysriviere. Wanneer hulle die see bereik, dryf hierdie gevriesde riviere op die water en vorm hulle ysbanke, waarvan die grootste die Ross-ysbank is (soos hier gesien kan word). Hierdie ysbank, wat deur ten minste sewe ysstrome gevoed word, is so groot soos Frankryk en tot ’n kilometer dik op sommige plekke. *

Onder normale omstandighede krimp ysbanke nie. Namate die gletsers die ysbank van meer ys voorsien, word die rand van die ysbank verder in die see uitgestoot, soos tandepasta wat uit ’n buis gedruk word. Daar breek groot stukke uiteindelik af (’n proses wat kalwing genoem word), en hierdie stukke word ysberge. Party ysberge is ‘tot 13 000 vierkante kilometer groot’, sê The World Book Encyclopedia. Maar in onlangse jare vind kalwing vinniger plaas en het ysbanke gekrimp, party het selfs heeltemal verdwyn. Dit verhoog egter nie die seevlak nie. Waarom nie? Omdat ysbanke reeds dryf en hulle gewig in water verplaas. Maar as die ys op die Antarktiese vasteland sou smelt, sou dit wees soos om ’n reservoir van 30 000 000 kubieke kilometer in die see leeg te maak! Die seevlak sou omtrent met 65 meter styg!

[Voetnoot]

^ par. 21 Ysbanke moet nie met pakys verwar word nie. Pakys begin as ysblokke wat in die winter, wanneer die wateroppervlak vries, op die see vorm. Hierdie ysblokke smelt dan saam om pakys te vorm. Die omgekeerde vind in die somer plaas. Ysberge ontstaan nie weens pakys nie, maar weens ysbanke.

[Prent]

Enorme blokke ys kalf van die Ross-ysbank af. Die ysbank is hier omtrent 65 meter bo seevlak

[Erkenning]

Tui De Roy

[Prent op bladsy 20]

’n Weddel-robkalfie

[Erkenning]

Foto: Commander John Bortniak, NOAA Corps