Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Sal Europa werklik verenig?

Sal Europa werklik verenig?

Sal Europa werklik verenig?

AS DIT vir jou moeilik is om te glo dat Europa ernstig is oor eenwording, hoef jy maar net ’n paar van sy interne grense oor te steek. Mense beweeg nou vryelik binne die Europese Unie (EU) rond. Wagtyd by grensposte het feitlik verdwyn. Reisigers is natuurlik verheug—maar hulle is nie die enigstes wat daarby baat vind nie. Nou kan burgers van EU-lande maklik op enige plek binne die EU studeer, werk en sakeondernemings oprig. Dit het weer tot ekonomiese vooruitgang in die armer dele van die Unie gelei.

Dit is beslis ’n groot verandering om grense so maklik oor te steek. Moet ons dan aflei dat Europa alreeds verenig is en dat daar geen hindernisse in die weg na eenwording is nie? Inteendeel, daar is struikelblokke wat voorlê, en party van hulle is heel intimiderend. Maar voordat ons dit bespreek, kom ons beskou eers een van die grootste stappe wat tot dusver in die rigting van eenheid gedoen is. So sal ons dalk beter verstaan waarom mense soveel hoop op eenwording stel.

Stappe tot monetêre eenwording

Dit kan duur wees om grense in stand te hou. Doeaneformaliteite tussen die 15 lidlande van die EU het daardie lande vroeër sowat 12 miljard euro per jaar gekos. Dit is dus nie verbasend dat die nuwe situasie by Europa se grense ekonomiese groei aangemoedig het nie. Wanneer ’n mens dink aan die 370 miljoen inwoners van die EU wat binne ’n enkele gemeenskaplike mark vryelik van land tot land beweeg, is dit duidelik dat die ekonomiese potensiaal uitstekend is. Wat het die weg vir hierdie vooruitgang gebaan?

Destyds, in Februarie 1992, het regeringsleiers ’n groot stap in die rigting van eenheid gedoen deur die Verdrag oor Europese Eenheid, of die Maastricht-verdrag, te onderteken. Daardie verdrag het die grondslag gelê vir die stigting van ’n verenigde mark binne Europa, ’n sentrale bank en ’n enkele geldeenheid. Maar ’n ander belangrike stap moes nog volg: die verwydering van skommelinge in die wisselkoers. Môre se wisselkoers kan immers ’n heeltemal nuwe lig op vandag se transaksie werp.

Hierdie hindernis in die weg na eenheid is verwyder deur die stigting van die Ekonomiese en Monetêre Unie (EMU) en die invoering van die euro as ’n gemeenskaplike geldeenheid. Wisselkoersheffings het nou verdwyn, en sakeondernemings hoef hulle nie meer teen wisselkoersrisiko’s te beskerm nie. Die gevolg is minder uitgawes vir ondernemings en meer internasionale handel. Dit kan weer tot meer werksgeleenthede en groter koopkrag lei—wat almal sal bevoordeel.

Die stigting van die Europese Sentrale Bank in 1998 was nog ’n belangrike stap in die rigting van ’n enkele geldeenheid. Hierdie onafhanklike bank, wat in die Duitse stad Frankfurt geleë is, is die monetêre gesag oor die deelnemende regerings. Dit probeer inflasie laag hou in wat die eurosone genoem word, wat uit 11 deelnemende lande bestaan, * en wisselkoersskommelinge tussen die euro, die dollar en die jen stabiliseer.

Wat geld betref, is goeie vordering dus met eenwording gemaak. Maar geldsake lig ook die diepgaande verdeeldheid toe wat nog onder Europese lande bestaan.

Nog geldsake

Die armer lande in die EU het hulle griewe. Hulle voel dat die ryker lidlande nie genoeg van hulle rykdom met hulle deel nie. Nie een van die lidlande ontken dat dit nodig is om die armer Europese vennote ekstra geldelike hulp te gee nie. Tog voel die ryker lande dat hulle geldige redes het om terug te hou.

Neem Duitsland as voorbeeld. Daardie land se geesdrif om as betaalmeester vir Europese eenwording op te tree, het merkbaar afgeneem noudat sy eie finansiële las groter geword het. Die koste verbonde aan die vereniging van Oos-Duitsland en Wes-Duitsland alleen was ontsaglik—amper seshonderdmiljard rand per jaar. Dit is ’n kwart van die staatsbegroting! Hierdie ontwikkelinge het Duitsland se staatskuld so die hoogte laat inskiet dat Duitsland hard moes werk om aan die standaarde vir toegang te voldoen wat deur die EMU gestel is.

Nuwe lede wat by die EU wil aansluit

Op die kort termyn hoop voorstanders van ’n enkele geldeenheid dat die EU-lande wat nog nie in die EMU is nie hulle struikelblokke voor die jaar 2002 uit die weg sal ruim, wanneer euromunte en -note veronderstel is om die Europese geldeenhede van vandag te vervang. As Brittanje, Denemarke en Swede hulle teësinnigheid laat vaar, kan mense in daardie lande selfs sien hoe hulle ponde en krone deur die euro vervang word.

Intussen is daar ses ander Europese lande wat by die EU wil aansluit. Dit is Estland, Hongarye, Pole, Siprus, Slowenië en die Tsjeggiese Republiek. Vyf ander lande wag ook hulle beurt af, naamlik Bulgarye, Letland, Litaue, Roemenië en Slowakye. Hulle toetrede sal nie goedkoop wees nie. Volgens skattings sal die EU 80 miljard euro tussen die jaar 2000 en 2006 moet voorsien om die tien nuwelinge uit Oos-Europa te help.

Maar die geld wat die nuwelinge sal moet insamel om aan die vereistes vir toelating tot die EU te voldoen, is baie keer meer as die bedrag wat hulle as hulp van die EU sal ontvang. Hongarye sal byvoorbeeld 12 miljard euro aan die ontwikkeling van sy paaie en spoorweë moet spandeer. Die Tsjeggiese Republiek sal meer as 3,4 miljard euro aan waterbehandeling alleen moet uitgee, en Pole moet 3 miljard euro spandeer om die uitlating van swaeldraende gasse te verminder. Selfs al is dit die geval, voel die aansoekers dat die voordele vir die koste vergoed. Om maar een ding te noem, hulle sal meer met EU-lande handel dryf. Maar die aansoekers sal ’n ruk moet wag. Volgens die huidige openbare mening moet nuwe lidlande eers aanvaar word nadat die EU sy eie geldsake in orde gekry het.

Gegriefdheid, nasionalisme en werkloosheid

Ondanks al die pogings wat aangewend is om groter eenheid te bewerkstellig, is daar binne en buite Europa kommer oor verwikkelinge op die Vasteland. Daar is ook baie besorgdheid oor wat gedoen moet word omtrent etniese konflikte, soos dié in die verbrokkelende Balkanstreek—eers die oorlog in Bosnië en toe die konflik in Kosowo. EU-lidlande verskil dikwels oor die manier waarop sulke konflikte in Europa en in die buiteland hanteer moet word. Aangesien die EU nie ’n federasie van state is nie en nie ’n gemeenskaplike buitelandse beleid het nie, is die landsbelange van elke afsonderlike land alte dikwels vir hom die belangrikste. Landsbelange is klaarblyklik ’n groot hindernis in die weg na ’n ‘Verenigde State van Europa’.

Europa het nog ’n dringende probleem—die hoë werkloosheidsyfer. Gemiddeld 10 persent van die arbeidsmag is werkloos. Dit beteken dat meer as 16 miljoen mense sonder werk is. In baie lande het jongmense, wat amper ’n kwart van die EU-bevolking uitmaak, hard probeer om werk te vind, maar sonder welslae. Dit is geen wonder nie dat baie mense meen dat Europa se grootste uitdaging is om massawerkloosheid te bestry! So ver was pogings om die arbeidsmark te hervorm onsuksesvol.

Maar daar is ’n selfs groter struikelblok tot eenheid.

Wie is in beheer?

Soewereiniteit bly die grootste struikelblok tot ’n verenigde Europa. Lidlande moet saamstem oor die mate waarin hulle bereid is om hulle nasionale soewereiniteit prys te gee. Die doel van die EU is om ’n supranasionale regeringsvorm tot stand te bring. As dit nie verwesenlik word nie, sê Le Monde, sal die instelling van die euro bloot “’n tydelike oorwinning” wees. Party lidlande vind die idee om afstand te doen van gesag moeilik om te aanvaar. Die leier van een EU-lidland het byvoorbeeld gesê dat sy land “gebore [is] om ’n leier van nasies te wees, nie ’n volgeling nie”.

Dit is te verstane dat die kleiner lidlande vrees dat die groter lande mettertyd hulle gesag sal afdwing en sal weier om besluite te aanvaar wat hulle eie belange kan benadeel. Kleiner lande wonder byvoorbeeld hoe daar besluit sal word in watter lande die hoofkwartiere van die verskillende EU-agentskappe sal wees. Dit is ’n belangrike besluit, want sulke agentskappe versterk die arbeidsmark in die gasheerlande.

Met die oog op hierdie intimiderende struikelblokke in die weg tot eenheid—ekonomiese ongelykheid, oorlog, werkloosheid en nasionalisme—kan dit lyk of dit maklik is om teleurgesteld te voel oor die onderwerp van die vereniging van Europa. Feit is egter dat buitengewone vordering wel gemaak is. Hoeveel vooruitgang nog gemaak gaan word, is onseker. Die probleme waarmee diegene worstel wat Europa probeer verenig, is in wese dieselfde probleme waarvoor alle menseregerings te staan kom.

Sal dit ooit moontlik wees om ’n regering te hê wat probleme soos etniese konflik, massawerkloosheid, armoede en oorlog kan oplos? Is dit realisties om aan ’n wêreld te dink waar mense in ware eenheid lewe? Die volgende artikel sal ’n antwoord bespreek wat jou moontlik sal verbaas.

[Voetnoot]

^ par. 8 Hierdie lande is België, Duitsland, Finland, Frankryk, Ierland, Italië, Luxemburg, Nederland, Oostenryk, Portugal en Spanje. Om verskeie redes is Denemarke, Groot-Brittanje, Griekeland en Swede nog nie ingesluit nie.

[Venster op bladsy 6]

Hier kom die euro!

Hoewel die munte en banknote wat tans in die lande van die Europese Unie gebruik word nie voor 2002 sal verdwyn nie, word die euro reeds gebruik in transaksies waarby kontant nie betrokke is nie. Hierdie monetêre oorskakeling was ’n groot onderneming vir banke. Maar wisselkoerse tussen die lidlande se geldeenhede en die euro is nou vasgestel. Effektebeurse dui ook nou pryse in euro aan. Baie winkels en sakeondernemings dui pryse aan in euro sowel as in die plaaslike geldeenheid.

Dit vereis groot aanpassings—veral vir talle ouer mense, wat nie meer die Duitse mark, frank of lira sal kan gebruik waarmee hulle bekend is nie. Selfs kasregisters en outomatiese tellermasjiene moet aangepas word. Om die oorskakeling so glad as moontlik te laat verloop, is amptelike inligtingsveldtogte gereël om mense oor die koms en gebruik van die euro in te lig.

Ongeag watter struikelblokke daar nog is, die euro is op pad. Trouens, daar is reeds begin met die vervaardiging van euromunte en -note. En dit is nogal ’n groot taak. Selfs in ’n klein landjie soos Nederland, met ongeveer 15 miljoen inwoners, sal munt- en nootperse drie jaar ononderbroke moet loop om 2,8 miljard munte en 380 miljoen banknote teen 1 Januarie 2002 gereed te kry. As al hierdie nuwe banknote opgestapel sou word, sou die hoop 20 kilometer hoog wees!

[Venster op bladsy 7]

“’n Euroslagting”?

Vroeg in 1999 het die Europese Kommissie, die uitvoerende liggaam van die Europese Unie (EU), ’n baie ernstige terugslag gehad. Die kommissie is van bedrog, korrupsie en nepotisme aangekla. ’n Komitee is aangestel om die aanklagte te ondersoek. Ná ’n ondersoek van ses weke het die komitee bevind dat die Europese Kommissie aan bedrog en wanbestuur skuldig was. Maar die ondersoekkomitee het geen bewyse gevind dat die kommissielede hulleself verryk het nie.

Ná die komitee se verslag bekend gemaak is, het die hele Europese Kommissie in Maart 1999 bedank—’n ongekende stap. Dit het ’n groot krisis vir die EU veroorsaak. Die tydskrif Time het dit “’n Euroslagting” genoem. Net die tyd sal leer watter uitwerking hierdie krisis op die proses van Europese eenwording sal hê.

[Prent op bladsy 5]

Dit is alreeds baie makliker om grense in Europa oor te steek

[Prent op bladsy 7]

Die Europese Sentrale Bank is in 1998 in Frankfurt, Duitsland, gestig