Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Chinese visnette in Indië

Chinese visnette in Indië

Chinese visnette in Indië

DEUR ONTWAAK!-MEDEWERKER IN INDIË

AAN Indië se weskus, 250 kilometer van die suidpunt van die Indiese subkontinent, lê die stad Kochi, wat voorheen as Cochin bekend gestaan het. Aan beide kante van die gety-inham kry ’n mens al langs die kus ongewone visnette in die Chinese styl wat soos balkkrane lyk. Hoe het hulle daar gekom?

Chinese het van die agtste eeu G.J. in die gebied gewoon, en daar word gemeen dat Chinese handelaars van die hof van Koeblai Khan hierdie soort nette voor 1400 vir die eerste keer na Cochin gebring het. Baie vis kan na aan die kus in die waters om Cochin gevang word. Hierdie hoë visvangtoestelle het meer as ’n eeu lank goed gewerk, totdat die Arabiere die Chinese verdryf het.

Toe die Chinese weg is, is die nette verwyder. Maar vroeg in die 16de eeu het die Portugese die Arabiere verdring. Blykbaar was dit die Portugese wat hierdie nette weer na Cochin gebring het van die destydse Portugese eilandkolonie van Macao in suidoostelike China.

Hoewel die konsep eeue oud is, en die oorspronklike ontwerp en werking feitlik onveranderd is, werk die Chinese nette nog steeds baie goed. En dit help tot vandag toe baie vissermanne om ’n bestaan te maak en voorsien nog steeds kos vir baie mense. Trouens, die vangs in een net kan ’n hele dorpie van kos voorsien. Maar benewens die feit dat dit doeltreffend is, is die nette ook mooi, veral wanneer hulle afgeteken staan teen die goue oggendstond of aandskemer.

Hoe werk dit?

Die reusagtige Chinese nette gebruik ’n steunpunt en teenwigte om die gewig van die net en die vangs te balanseer. Wanneer dit nie gebruik word nie, hang die net en sy draagraam bo die water. Die visvangs begin vroeg soggens en duur vier of vyf uur. Die nette word versigtig in die water laat sak. Dit word gedoen deur die vissermanne wat die gewigte aan die ander kant van die balanseerstelsel verstel of die kaptein van die span vissers wat met die net se middelbalk langs loop. Die net bly tussen 5 en 20 minute onder die water voordat dit versigtig opgelig word en die visse skep wat na aan die kus swem. Deur jare se ondervinding weet die kaptein presies wanneer om die net op te trek.

Wanneer die kaptein die teken gee, lig die res van die span van vyf of ses mans die net op deur aan die toue te trek waaraan die teengewigte vasgemaak is. Die punte van die net kom eerste op. Die net lyk dus soos ’n bak met die visse binne-in. Hoe opgewonde is die vissermanne tog! Ná ’n goeie vangs klop hulle mekaar op die skouer om hulle blydskap te wys. Later sal die vis opgeveil word aan handelaars, huisvrouens en miskien ’n toeris of twee.

Die Chinese, die Arabiere en die Portugese het gekom en gegaan. Maar die Chinese nette dobber nog steeds op die waterweë van Kochi, net soos hulle meer as 600 jaar gelede gedoen het.

[Kaart op bladsy 31]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Kochi

[Erkenning]

Mountain High Maps® Copyright © 1997 Digital Wisdom, Inc.