Spring na inhoud

VERENIGDE STATE

Oorsig van die Verenigde State

Oorsig van die Verenigde State

Die geskiedenis van Jehovah se Getuies in die Verenigde State het in die 1870’s begin toe Charles Taze Russell en sy metgeselle ’n Bybelstudieklas gevorm het. Oor die volgende paar jaar het hulle begin om lektuur uit te gee, ’n korporasie gestig, wat later as die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van Pennsilvanië bekend gestaan het, en hulle eerste hoofkwartier in Allegheny, Pennsilvanië, gevestig.

Jehovah se Getuies in die Verenigde State geniet godsdiensvryheid. Maar aan die begin van die 20ste eeu het sekere oningeligte regeringsamptenare en invloedryke godsdiensleiers hulle hewig teëgestaan. Die Getuies was veral in die 1930’s en 1940’s in talle regsgedinge gewikkel. Die polisie het Getuies in hegtenis geneem omdat hulle aan hulle openbare bediening deelgeneem het, Getuiekinders is oral in die land uit die skool gesit omdat hulle geweier het om die vlag te salueer en federale howe het duisende jong Getuies tronk toe gestuur omdat hulle geweier het om diensplig te verrig. Die Amerikaanse Hooggeregshof het uiteindelik uitsprake ten gunste van Jehovah se Getuies in hierdie sake gelewer.

Tot op hede het die Getuies 50 sake voor die Hooggeregshof gewen. Ook in staats- en federale howe oral in die land het hulle talle sake gewen met betrekking tot die regte van pasiënte, kindertoesig, sonering, diskriminasie by die werksplek en immigrasie. Hierdie oorwinnings het nie net staatsreg gevorm en vryheid van spraak, die pers, vergadering en godsdiens in die Verenigde State verseker nie, maar het ook wêreldwyd ’n positiewe uitwerking op hoër howe gehad.