Spring na inhoud

5 JANUARIE 2016
NAMIBIË

Namibië se Hooggeregshof handhaaf pasiënteregte en godsdiensvryheid

Namibië se Hooggeregshof handhaaf pasiënteregte en godsdiensvryheid

Die Hooggeregshof van Namibië het ’n uitspraak gelewer waarin dit ’n pasiënt se reg beskerm op liggaamlike selfbeskikking en persoonlike outonomie in verband met sy keuse van behandeling. Die Hof het ook die geldigheid erken van vooraf opgestelde geskrewe riglyne waarin gesondheidswerkers ingelig word oor die pasiënt se wense in verband met behandelingskeuses.

Kindergeboorte en ’n mediese noodgeval

Die saak waaroor die Hof moes beslis, was in verband met die gesondheid van Efigenia Semente, een van Jehovah se Getuies. Ter voorbereiding van die geboorte van haar derde kind het mev. Semente haar dokter in kennis gestel dat sy weens haar godsdiensoortuigings nie bloedoortappings sou aanvaar nie. Sy het ook vooraf vir hom ’n blywende volmag gegee waarin sy uiteengesit het watter behandelingskeuses vir haar aanvaarbaar sou wees. In hierdie dokument het mev. Semente uitdruklik gesê dat sy nie bloed wil hê nie en haar man as haar gesondheidsverteenwoordiger aangestel om besluite vir haar te neem as sy dit nie self kon doen nie.

Mev. Semente het op 8 September 2012 suksesvol geboorte geskenk aan haar dogter, maar sy het ’n nageboortelike operasie nodig gehad. As haar gesondheidsverteenwoordiger het haar man hiertoe ingestem. Maar daar was komplikasies tydens die operasie, en die dokter wou haar ’n bloedoortapping gee. Mnr. Semente het dit namens sy vrou geweier, wat in ooreenstemming was met haar vooraf opgestelde mediese riglyne. Die dokter het die operasie suksesvol sonder ’n bloedoortapping uitgevoer, maar mev. Semente se hemoglobienvlak was laag ná die operasie.

Ingryping deur die Hoërhof

Op 13 September 2012, terwyl mev. Semente ná haar operasie aangesterk het, het haar oudste broer by die Hoërhof van Namibië aansoek gedoen om as haar wetlike kurator aangestel te word sodat hy—in plaas van haar man—oor haar mediese behandeling kon besluit. Nie mev. Semente of haar man is ingelig oor haar broer se aansoek nie, en tog het die hof die saak in hulle afwesigheid aangehoor en haar broer as kurator aangestel. Haar broer het die mediese personeel toe opdrag gegee om mev. Semente ’n bloedoortapping teen haar sin te gee, maar sy het weer geweier om ’n oortapping te aanvaar en het hulle pogings suksesvol teëgestaan.

Toe mev. Semente uitvind dat die hof haar broer as haar kurator aangestel het, het sy die Hoërhof dringend versoek om die bevel te herroep. Sy het aangevoer dat sy by haar volle verstand was toe haar broer om kuratorskap aansoek gedoen het en dat haar broer se magtiging van ’n bloedoortapping haar godsdiensoortuigings en haar reg op liggaamlike selfbeskikking geskend het. Die hof het haar aansoek afgewys en haar broer toegelaat om voort te gaan om haar kurator te wees.

Hoewel mev. Semente se dokter getuig het dat sy sou sterf as sy nie ’n oortapping kry nie, het haar toestand verbeter danksy bloedlose mediese behandeling. Sy is op 26 September 2012 uit die hospitaal ontslaan sonder dat sy ’n oortapping ontvang het. Maar die Hoërhof het haar broer onbepaald as haar kurator aangestel. Omdat mev. Semente die kuratorskap as ’n skending van haar persoonlike outonomie en basiese menseregte beskou het, het sy by die Hooggeregshof van Namibië appèl aangeteken.

“Die besonderhede van hierdie saak raak van [die] belangrikste menseregtekwessies aan waaroor howe waarskynlik sal moet beslis. Dit hou verband met die reg op liggaamlike outonomie, die reg om jou godsdiens vryelik te beoefen en vryheid van diskriminasie.”—Hooggeregshof van Namibië.

Hooggeregshof se beslissing

Op 24 Junie 2015 het die Hooggeregshof van Namibië mev. Semente se fundamentele regte gehandhaaf en haar broer se kuratorskap tersyde gestel. Volgens die Hooggeregshof was dit “heeltemal ongepas” dat die Hoërhof mev. Semente en haar man nooit oor die aansoek ingelig het nie en ’n eensydige verhoor gehou het wat mev. Semente se broer as haar kurator aangestel het.

Die Hooggeregshof het beklemtoon dat die Namibiese Grondwet persoonlike vryheid en menswaardigheid as die grondslag van pasiënte-outonomie waarborg. Die Hof het gesê: “Die beginsel van pasiënte-outonomie toon dat ’n individu die basiese mensereg het om beheer uit te oefen oor sy of haar eie liggaam. . . . Dokters moet hulle pasiënte in kennis stel van die materiële risiko en voordele van die aanbevole behandeling, maar die pasiënt moet besluit of hy ’n sekere behandeling gaan aanvaar.”

“Dit is ’n basiese mensereg vir ’n individu om beheer oor sy of haar eie liggaam uit te oefen.”—Hooggeregshof van Namibië.

Nadat die Hooggeregshof mev. Semente se bevoegdheid ondersoek het om bloedoortappings te weier, het die Hof tot die gevolgtrekking gekom dat die Hoërhof nie haar blywende volmag ernstig genoeg opgeneem het nie. Die Hooggeregshof het verder gesê: “Geskrewe vooraf opgestelde riglyne wat spesifiek is, vry van ongepaste invloede is en op ’n tyd onderteken is toe die pasiënt die vermoë gehad het om vir homself te besluit, is ’n duidelike aanduiding van ’n pasiënt se wense in verband met sy mediese behandeling.”

Die Hooggeregshof het ook die volgende vraag hersien: Beperk ’n kind se reg om deur haar ouers grootgemaak te word haar ouers se reg om hulle mediese behandeling te kies? Nadat die Hof internasionale presedentereg hersien het, het dit tot die slotsom gekom dat “die reg om te besluit wat aan jou liggaam gedoen en nie gedoen mag word nie, hetsy jy ’n ouer is of nie, ’n onvervreembare mensereg is”.

Die Hooggeregshof van Namibië het die reg op liggaamlike selfbeskikking bevestig en het erkenning gegee aan vooraf opgestelde mediese riglyne as ’n aanduiding van ’n pasiënt se waardes en behandelingskeuses. Deur die regte op liggaamlike integriteit en godsdiensvryheid te handhaaf, het die Hooggeregshof die basiese menswaardigheid en vryheid van alle Namibiërs beskerm.