Spring na inhoud

Joseph word deur die polisie van deur tot deur geneem

Joseph word deur die polisie van deur tot deur geneem

 As jy een van Jehovah se Getuies is, kan jy jou voorstel dat ’n polisieman jou van deur tot deur neem om te preek? Dit is wat in 2017 in Mikronesië met Joseph gebeur het. Hy en drie ander Getuies het deelgeneem aan ’n spesiale kampanje om mense te bereik op afgesonderde eilande.

 Teen omtrent die middag het die vier Getuies by ’n klein eiland aangekom met ’n bevolking van ongeveer 600 mense. Die Getuies is op die strand deur die burgemeester van die eiland verwelkom. Joseph verduidelik wat volgende gebeur het: “Die burgemeester het gesê dat ’n polisiekar ons na al die huise kan neem. Ons was verbaas oor die aanbod, maar ons het respekvol nee gesê. Ons wou die mense gaan besoek op die normale manier waarop ons die huis-tot-huis-werk doen.”

 Die verkondigers het toe begin stap en was vasbeslote om met soveel mense as moontlik te praat. “Die mense was gasvry en het belanggestel in ons boodskap,” het die Getuies gesê. “As gevolg hiervan het ons meer tyd by elke huis spandeer as wat ons verwag het.”

 Later in die dag het die polisiekar twee keer verby Joseph gery en die derde keer het hulle gestop. Die polisiemanne het Joseph gevra of hulle hom met die kar kon neem na die huise wat hy nog nie besoek het nie. “Ek het nee gesê,” sê Joseph. “Maar hierdie keer het hulle daarop aangedring en gesê: ‘Jy het nog net ’n kort tydjie oor. Ons sal jou na die res van die huise vat.’ Ek kon nie weer hulle aanbod weier nie, want ek moes nog ’n hele paar huise besoek. Terwyl ons na elke huis gegaan het, het die polisieman vir my gesê wat die gesin se van is en gesê dat as niemand na die deur toe kom nadat ons geklop het nie, hulle op die toeter sou druk om die huisbewoner se aandag te kry.

 “Met daardie ekstra hulp, kon ons daardie dag al die huise besoek. Ons het baie lektuur geplaas en reëlings gemaak om die mense wat belanggestel het, weer te gaan besoek.”

 Die polisiemanne het vir Joseph gesê dat hulle dit “regtig geniet het om ’n bietjie goeie nuus te versprei”. Toe die Getuies met sonsondergang daar weg is, het die polisiemanne met glimlagte op hulle gesigte en Bybellektuur in hulle hande op die strand vir die broers totsiens gesê en vir hulle gewaai.