Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | WIL JY GRAAG DIE BYBEL STUDEER?

Waarom moet jy die Bybel studeer?

Waarom moet jy die Bybel studeer?
  • Wat is die doel van die lewe?

  • Waarom ly mense en gaan hulle dood?

  • Wat hou die toekoms in?

  • Gee God vir my om?

Het jy al ooit oor vrae soos hierdie gewonder? Indien wel, is jy nie alleen nie. Mense regoor die wêreld wonder oor die belangrikste vrae in die lewe. Kan jy die antwoorde vind?

Miljoene mense sal “Ja!” sê. Waarom? Omdat hulle bevredigende antwoorde op hulle vrae in die Bybel gevind het. Wil jy graag weet wat die Bybel sê? Dan sal jy dalk wil gebruik maak van die gratis Bybelstudieprogram wat deur Jehovah se Getuies aangebied word. *

Wanneer party gevra word of hulle die Bybel wil studeer, sê hulle: “Ek is te besig”, “Dis te moeilik” of “Ek wil my nie daartoe verbind nie.” Maar ander voel nie so nie. Hulle verwelkom die geleentheid om uit te vind wat die Bybel leer. Kyk na net ’n paar voorbeelde:

  • “Ek het Katolieke en Protestantse kerke bygewoon, asook ’n Sikh-tempel en ’n Boeddhisteklooster, en ek het teologie aan ’n universiteit gestudeer. Maar baie van my vrae oor God is nie beantwoord nie. Toe het een van Jehovah se Getuies my by die huis besoek. Die antwoorde wat sy my uit die Bybel gegee het, het my beïndruk, en ek het tot ’n Bybelstudie ingestem.”—Gill, Engeland.

  • “Ek het baie vrae oor die lewe gehad, maar my pastoor se antwoorde het my nie bevredig nie. Een van Jehovah se Getuies het egter my vrae beantwoord deur net die Bybel te gebruik. Toe hy my gevra het of ek meer wil leer, het ek sy aanbod met graagte aanvaar.”—Koffi, Benin.

  • “Ek was nuuskierig oor die toestand van die dooies. Ek het geglo dat die dooies die lewendes leed kan aandoen, maar ek wou weet wat die Bybel sê. Daarom het ek die Bybel begin studeer met ’n vriend wat ’n Getuie was.”—José, Brasilië.

  • “Ek het die Bybel probeer lees, maar ek kon dit nie verstaan nie. Toe het Jehovah se Getuies my besoek en ’n hele paar Bybelprofesieë aan my verduidelik. Ek wou sien wat ek nog kon leer.”—Dennize, Mexiko.

  • “Ek het gewonder of God werklik vir my omgee. Ek het dus besluit om tot die God van die Bybel te bid. Die volgende dag het die Getuies aan my deur geklop, en ek het ’n Bybelstudie aanvaar.”—Anjoe, Nepal.

Hierdie ondervindinge laat ons dink aan Jesus se woorde: “Gelukkig is dié wat bewus is van hulle geestelike behoefte” (Matteus 5:3). Ja, mense het ’n ingebore geestelike behoefte. Net God kan hierdie behoefte bevredig, en hy doen dit deur middel van sy Woord, die Bybel.

Wat behels ’n Bybelstudie dan? Hoe kan jy daarby baat vind? Hierdie vrae sal in die volgende artikel beantwoord word.

^ par. 8 Jehovah is die naam van God soos dit in die Bybel geopenbaar word.