Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Olivétan—“Die nederige, klein vertaler” van die Franse Bybel

Olivétan—“Die nederige, klein vertaler” van die Franse Bybel

Olivétan—“Die nederige, klein vertaler” van die Franse Bybel

Dit was 13 September 1540. Die polisie het Collin Pellenc se huis deursoek. In ’n geheime vertrek het hulle verdagte dokumente gevind, onder andere ’n groot boek. Op die tweede bladsy was die woorde: “P. Robert Olivetanus, die nederige, klein vertaler.” Dit was ’n Waldensiese Bybel! Collin Pellenc is in hegtenis geneem, van kettery skuldig bevind en lewendig verbrand.

DESTYDS het die Katolieke Kerk in Frankryk, soos elders in Europa, Hervormers vervolg in ’n poging om hulle “verraderlike” leerstellings uit te wis. Een van die Hervormers, die vurige Guillaume Farel, was vasbeslote om die Franssprekende wêreld oor te haal tot die beskouings van Martin Luther, ’n leidende figuur van die Protestantse Hervorming. Farel, van die Dauphiné-provinsie in die suidooste van Frankryk, het geweet dat die gedrukte woord ’n belangrike rol speel in die stryd van idees. Om sy doel te bereik, het hy pamflette en verhandelinge, sowel as Bybels, nodig gehad. Maar wie sou so ’n onderneming finansier? Wat van die Waldense, ’n onafhanklike godsdiensgroep wat hulle daarop toegespits het om die Bybelboodskap te verkondig?

’n Sinode in Chanforan

In die middel van September 1532 het die Waldensiese barbes (pastore) ’n sinode, of konferensie, in Chanforan, ’n klein dorpie naby Turyn, Italië, gehou. Die Waldense het al etlike jare lank met die leiers van die Hervorming idees uitgeruil. Farel en verskeie ander is dus na die sinode genooi. Die Waldense wou weet of hulle leerstellings ooreenstem met dié van Luther en sy volgelinge. a

In Chanforan was Farel se welsprekendheid oortuigend. Toe die Waldensiese barbes hom hulle ou handgeskrewe Bybels in hulle dialek wys, het hy hulle oortuig om die geld te voorsien om ’n Bybel in Frans te druk. In teenstelling met die vertaling van 1523 deur Lefèvre d’Étaples, wat op die Latyn gebaseer is, sou hierdie Bybel uit die Hebreeus en Grieks vertaal word. Maar wie was opgewasse vir so ’n taak?

Farel het ’n man geken wat uitgeknip was vir hierdie werk. Sy naam was Pierre Robert, maar hy het bekend gestaan as Olivétan, b ’n jong onderwyser wat in die Picardy-streek van Noord-Frankryk gebore is. Olivétan, ’n neef van Johannes Calvyn, was ’n vroeë Hervormer en ’n betroubare man. Verder het hy die Bybeltale etlike jare lank in Straatsburg ywerig bestudeer.

Soos Farel en baie ander het Olivétan na Switserland gevlug. Sy vriende het met hom gepleit om die vertaalprojek te aanvaar. Nadat hy etlike kere geweier het, het hy op die ou end die opdrag aanvaar om die Bybel “ooreenkomstig die Hebreeus en Grieks in Frans” te vertaal. Terselfdertyd het die Waldense 500 van die 800 goue krone—’n fortuin!—voorsien wat nodig was om ’n drukkery te finansier.

Die kraai en die nagtegaal

Vroeg in 1534 het Olivétan hom in die Alpe afgesonder en sy werk begin, omring deur sy “stille onderrigters”, sy boeke. Enige hedendaagse geleerde sou hom sy biblioteek beny het. Dit het Siriese, Griekse en Latynse vertalings van die Bybel ingesluit, asook rabbynse kommentare, Galdese grammatikaboeke en baie ander boeke. Nog belangriker, hy het ’n kontemporêre Venesiese vertaling van die oorspronklike Hebreeuse teks van die Bybel gehad.

Olivétan het sy vertaling van wat algemeen bekend staan as die Nuwe Testament, op die Franse teks van Lefèvre d’Étaples gebaseer, hoewel hy die Griekse teks deur die Nederlandse geleerde Erasmus dikwels in ag geneem het. Olivétan se woordkeuse was dikwels daarop gemik om die houvas van Katolisisme te verswak. Byvoorbeeld, hy het “opsiener” bo “biskop”, “geheim” bo “misterie” en “gemeente” bo “kerk” verkies.

Wanneer dit kom by wat baie die Ou Testament noem, was Olivétan vasbeslote om die oorspronklike Hebreeus woord vir woord weer te gee. Hy het skertsend gesê dat ’n mens as ’t ware “die soetklinkende nagtegaal leer om die lied van die skor kraai te sing” wanneer jy Hebreeus in Frans vertaal!

In die Hebreeuse teks het Olivétan die goddelike naam duisende kere in die vorm van die Tetragrammaton teëgekom. Hy het besluit om dit te vertaal met “Die Ewige”, ’n benaming wat later in Franse Protestantse Bybels algemeen gebruik is. Maar op verskeie plekke het hy “Jehovah” verkies, waarvan Eksodus 6:3 ’n noemenswaardige geval is.

Dit is merkwaardig dat die vertaler op 12 Februarie 1535, ná slegs sowat ’n jaar, verklaar het dat sy werk voltooi is! Aangesien hy erken het dat hy “hierdie juk [van vertaling] al lank alleen dra”, was die werk wat hy gedurende 1534/1535 gedoen het, blykbaar die produk van ’n lang, sorgsame proses. “Ek het my bes gedoen”, het die beskeie vertaler gesê. Al wat toe nog gedoen moes word, was om die eerste Franse Bybel wat met inagneming van die oorspronklike tale vertaal is, te druk.

In Pirot se werkswinkel

Pierre de Wingle, oftewel Pirot Picard, ’n vriend van Farel en ’n Hervormingsgesinde drukker, het toe op die toneel verskyn. Nadat die Katolieke Kerk hom uit Lyon gedryf het, het hy hom in 1533 in Neuchâtel, Switserland, gevestig. Hy het met Waldensiese geld ’n mag der menigte “ondermynende” materiaal begin druk. Dit was byvoorbeeld in sy werkswinkel waar plakkate gedruk is wat die Mis veroordeel het, en party daarvan het in die hande van die Katolieke koning Frans I van Frankryk beland.

De Wingle het weer eens sy perse laat loop—hierdie keer om ’n Bybel te druk! Om die proses te bespoedig, het ’n span van vier of vyf werkers elk van die twee perse bedien, en daarop het hulle die letters geset en die velle papier gedruk. Uiteindelik het De Wingle, in “die jaar 1535, op die 4de dag van Junie”, die drukkersblad van Olivétan se Bybel geteken. In sy voorwoord het die vertaler sy werk gewy aan die arme gelowiges wat “verpletter is deur en belas is” met “leë tradisies”.

Die eindproduk het aan alle verwagtinge voldoen. Die prag en eenvoud van die Franse teks is selfs aantrekliker gemaak deur die duidelike, elegante Gotiese skrif wat in twee kolomme geset en in hoofstukke en paragrawe verdeel is. Kanttekeninge getuig van die kundigheid van die vertaler. Die Bybel het ook inleidende kommentare, aanhangsels, tabelle en gedigte ingesluit. Agterin die Bybel verskyn ’n kort rymende akrostigon, wat deels sê: “Die Waldense, wat die Evangelie uitbasuin, plaas hierdie skat in die openbare domein.”

’n Meesterstuk . . . en ’n mislukking

Hoewel daar aanvanklik op die werk van Olivétan neergesien is, word dit vandag alom aanvaar as ’n ware vakkundige meesterstuk. Wat meer is, sy teks het drie eeue lank as die grondslag vir Protestantse Bybelvertalings gedien.

Hoewel ongeveer duisend eksemplare van Olivétan se Bybel gedruk is, het dit nie goed verkoop nie. Dit is omdat daar nie ’n gevestigde verspreidingsnetwerk was nie en ook omdat Frans gedurende daardie tyd vinnig verander het. Boonop was ’n groot Bybel van vyf kilogram nie ideaal vir reisende predikante of geheime lesers van die Bybel nie.

Hoewel ’n eksemplaar in Collin Pellenc se huis in Frankryk gevind is, soos aan die begin van hierdie artikel genoem is, was Olivétan se Bybel in werklikheid ’n kommersiële mislukking. In 1670, byna een en ’n half eeu later, het ’n boekwinkel in Genève nog steeds ’n eksemplaar te koop gehad.

“Naamloos van nêrens”

Nadat Olivétan sy taak voltooi het, het hy weer van die toneel verdwyn. Hy het sy Nuwe Testament en dele van die Ou Testament onder skuilname hersien. Hy het hom ook toegelê op sy ander passie—die onderwys. Hy was ’n insigryke onderwyser en het sy Instruction des enfans (Onderwys vir kinders) hersien, ’n boek vir kinders wat sedelike lesse en ’n inleiding tot die lees van Frans bevat het wat geheel en al op die Skrif gebaseer is. Een van die skuilname wat hy gebruik het, was Belisem de Belimakom, wat “Naamloos van nêrens” beteken.

Olivétan het in 1538 gesterf toe hy in sy vroeë 30’s was, moontlik in Rome. Min mense is vandag bewus van die belangrike rol wat hierdie jong geleerde van Picardy in die verspreiding van die Franse Bybel gespeel het. Sy naam verskyn selde, indien ooit, in naslaanwerke. Dit is waarskynlik presies soos “die nederige, klein vertaler”, Louys Robert, oftewel Olivétan, dit sou wou hê!

[Voetnote]

a Vir inligting oor hoe die Waldense deur die Hervorming geabsorbeer is, sien Die Wagtoring van 15 Maart 2002, bladsye 20-23.

b Sy doopnaam was Louys Robert, maar hy het die voornaam Pierre aangeneem. Die noemnaam Olivétan verwys waarskynlik na die groot hoeveelheid olyfolie wat hy gebruik het om lig te voorsien terwyl hy lang ure gewerk het.

[Foto-erkenning op bladsy 18]

Archives de la Ville de Neuchâtel, Suisse/Photo: Stefano Iori

[Foto-erkennings op bladsy 19]

Foto links: Alain Leprince - La Piscine-musée, Roubaix/Courtesy of the former Bouchard Museum, Paris

Middel en regs: Société de l’Histoire du Protestantisme Français, Paris

[Foto-erkenning op bladsy 20]

Société de l’Histoire du Protestantisme Français, Paris