Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat dit behels om God se naam te ken

Wat dit behels om God se naam te ken

HET jou naam ’n spesifieke betekenis? In sommige wêrelddele is dit gebruiklik om ’n kind ’n naam te gee wat ryk is aan betekenis. Die naam wat gekies word, weerspieël moontlik die ouers se opvattings en waardes of hulle verwagtinge en drome vir die kind se toekoms.

Die gebruik om name te gee wat ryk is aan betekenis, is nie iets nuuts nie. In Bybeltye is persoonlike name gewoonlik gegee omdat dit ’n sekere betekenis oorgedra het. ’n Naam kon ’n persoon se verwagte rol in die lewe aandui. Toe Jehovah byvoorbeeld vir Dawid van die toekomstige rol van sy seun Salomo vertel het, het Hy gesê: “Salomo [van ’n grondwoord wat “Vrede” beteken] sal sy naam wees, en in sy dae sal ek vrede en stilte aan Israel verskaf.”—1 Kronieke 22:9.

Soms het Jehovah ’n nuwe naam gegee aan iemand wat ’n nuwe rol sou vervul. Die onvrugbare vrou van Abraham het die naam Sara ontvang, wat “Prinses” beteken. Waarom? Jehovah het verduidelik: “Ek sal haar seën en jou ook ’n seun uit haar gee; en ek sal haar seën, en sy sal nasies word; konings van volke sal uit haar voortkom” (Genesis 17:16). Om te verstaan waarom Sara ’n nuwe naam gekry het, sal ’n mens natuurlik haar nuwe rol moet verstaan.

Wat van die allerbelangrikste naam—Jehovah? Wat beteken dit? Toe Moses God omtrent Sy naam gevra het, het Jehovah geantwoord: “Ek sal word wat ek sal word” (Eksodus 3:14). Rotherham se vertaling gee dit soos volg weer: “Ek sal word wat ek ook al wil.” Jehovah se naam toon dat hy ’n God is wat tallose rolle vervul. Om ’n eenvoudige illustrasie te gebruik: ’n Moeder moet dalk elke dag baie rolle vervul terwyl sy na haar kinders omsien—as ’n verpleegster, ’n kok, ’n onderwyseres—na gelang van die behoefte wat ontstaan. Dit is dieselfde met Jehovah, maar in ’n meer verhewe sin. Hy kan word wat hy ook al wil en sodoende enige rol vervul wat nodig is om sy liefdevolle voorneme vir die mensdom te verwesenlik. Om Jehovah by name te ken, behels dus dat ons al sy rolle verstaan en waardeer.

Die prag van God se persoonlikheid is ongelukkig verborge vir dié wat hom nie by name ken nie. Maar deur die Bybel te bestudeer, kan jy waardering verkry vir Jehovah se rolle as ’n wyse Raadgewer, ’n magtige Redder en ’n vrygewige Voorsiener, om maar net ’n paar te noem. Die ryk betekenis van Jehovah se naam is inderdaad ontsagwekkend.

Dit is egter nie altyd maklik om God by name te leer ken nie. Die volgende artikel sal toon waarom nie.