Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die opkoms en ondergang van “deskundiges”

Die opkoms en ondergang van “deskundiges”

Die opkoms en ondergang van “deskundiges”

TIK die woorde parenting (ouerskap) en advice (raad) in een gewilde soekenjin op die Internet in, en daar sal oombliklik meer as 26 miljoen verwysings verskyn. As jy net een minuut gebruik om na elkeen te gaan kyk en dit te lees, sal jou kind grootword en die huis verlaat voordat jy daarmee klaar is.

Waar het ouers voor die dae van pediaters, kindersielkundiges en die Internet raad gekry? Hulle het gewoonlik hulle uitgebreide familie geraadpleeg. Ma’s, pa’s, tannies en ooms was bereid en in staat om raad en finansiële hulp aan te bied asook om kinders op te pas. Maar in baie lande het ’n geweldige bevolkingsverskuiwing van die platteland na die stad sulke hegte familiebande amper heeltemal laat verdwyn. Ma’s en pa’s vind vandag alte dikwels dat hulle die uitdagings van ouerskap alleen die hoof moet bied.

Dit is ongetwyfeld een rede waarom die moderne kindersorgbedryf so vinnig gegroei het. Nog ’n rede daarvoor is ’n algemene vertroue in die wetenskap. Teen die laat 1800’s was die Amerikaanse publiek reeds besig om oortuig te raak dat die wetenskap elke aspek van die mens se lewe kan verbeter. Waarom dan nie die grootmaak van kinders nie? Toe die Amerikaanse Nasionale Kongres van Moeders dus in 1899 “die onbevoegdheid van ouers” in die openbaar betreur het, het ’n hele rits “wetenskaplike deskundiges” gou op die toneel verskyn. Hulle het belowe om sukkelende ma’s en pa’s te help met raad oor hoe om hulle kinders groot te maak.

’n Teoretiese benadering tot ouerskap

Maar wat het hierdie deskundiges bereik? Is ouers van vandag minder angstig en beter toegerus om hulle kinders groot te maak as dié van gister? Nie volgens ’n onlangse meningspeiling in Brittanje nie. Dit het getoon dat ongeveer 35 persent van ouers met jong kinders nog altyd soek na raad wat hulle kan vertrou. Ander voel dat hulle geen ander keuse het as om hulle natuurlike instink te volg nie.

In haar boek Raising America: Experts, Parents, and a Century of Advice About Children speur Ann Hulbert die geskiedenis na van professionele lektuur oor die grootmaak van kinders. Hulbert, self die ma van twee, wys daarop dat min van die deskundiges se bevindinge op stewig gevestigde wetenskap berus het. Hulle raad is blykbaar meer deur hulle eie lewenservaring beïnvloed as deur enige objektiewe data. Agterna beskou, lyk dit asof baie van wat hulle geskryf het, wisselvallig, teenstrydig en soms eenvoudig bisar was.

Waar laat dit ouers dan vandag? Om die waarheid te sê, baie is verward, aangesien daar meer raad, menings en geskille as ooit tevore is. Maar nie alle ouers voel asof daar nêrens raad te vinde is nie. Ouers regoor die wêreld vind baat by ’n antieke bron van wysheid wat vandag nog ’n skatkis van betroubare raad is, soos die volgende artikel sal toon.